Vanoggend gaan dit oor stilte as deel van my tyd alleen met God.
Hierdie is die vyfde in my kort reeksie hieroor. Jy kan die EERSTE een HIER (Nader tot God) gaan lees en die TWEEDE een HIER (Lof en Dank) en die DERDE een HIER (Skuldbelydenis) en die VIERDE een HIER (Versoeke).
In Psalm 46:10 sê die Here vir ons:
“Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.” (Psalm 46:10)
Ons sing soms die woorde: “Wees stil en weet Ek is die Heer…” Dit is waaroor hierdie paar oomblikke in die teenwoordigheid van God gaan. Dit gaan oor stil wees, en wag dat die Here aan my sal bevestig dat Hy God is. Sommige mense verkies om hier die ligte af te sit en ‘n kers aan te steek.
Dick Eastmann (The Hour that Changes the World; 1978, p. 33) beskryf hierdie as die tyd van wag. Hy beskryf dit so:
Waiting is the silent surrendering of the soul to God.. It is not daydreaming, but an exercise that demands our keenest attention… Praise is verbalizing our esteem of God. Waiting is a time of silent love.
Hierdie is een van die moeiliker elemente van my tyd alleen met God, aangesien ekhaastig van geaardheid is. Die woordjie “bedaar” in Psalm 46 help my. Stilwees by God is ‘n doelbewuste afskakeling. Stilwees is om tot bedaring te kom. Stilwees is om die gedagte dat daar iets is wat ek moet gaan doen, uit my gedagtes te verban. Ek dink altyd aan Elia toe hy haastig vir Isebel en Agab moes vlug. Toe God by Horeb-berg aan hom verskyn, toe is God nie in sterk wind nie; nie in die aardbewing nie; nie in die vuur nie, maar wel in ‘n fluistering in die windstilte.
“… na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ‘n stem wat vir hom sê: ‘Wat maak jy hier, Elia?'” (1 Konings 19:12-13)
In stilte wag God se kind vir die fluistering in die windstilte. Ek is daarvan oortuig dat dit in hierdie stilwees oomblikke is wat God deur die Gees op ‘n besondere manier met my besig raak. Hoe doen ek dit?
1. Ek sorg dat ek alleen is. Hierdie alleen is meestal in my studeerkamer. Ek het egter ook weer in April hierdie alleen en stilwees langs die see beleef wanneer ek alleen gaan stap. Maar dan gaan stap ek met die doel om alleen te wees. Jy kan dit sekerlik ook in jou kar beleef terwyl jy oppad werk toe is.
2. Ek sit gemaklik maar nie te gemaklik nie. Gewoonlik met my hande op my knieë en my rug reguit. Ek haal drie keer diep asem en blaas dit beheersd uit. Met elke asem wat ek uitblaas sê ek in my gedagtes:
Eerste asem: “Hemelse Vader, U is Skepper van die hemel en die aarde. Ek aanbid U.”
Tweede asem: “Here, Jesus, U is die Christus die Seun van die lewende God, my Verlosser. Ek aanbid U.”
Derde asem: “Heilige Gees, U is God in my; God om my; God met my; God deur my. Ek aanbid U.”
Wanneer ek dan agterkom dat my gedagtes dwaal, herhaal ek net hierdie drie gebede. Terwyl ek stil is, probeer ek aan niks dink nie. Ek sif deur gedagtes wat by my opkom, want ek dink dat hierdie die tyd is waarin God deur sy Gees met my praat.
Ek beleef dikwels dat dit in hierdie tyd is wat God deur sy Gees vir my wys waar ek Hom die vorige dag misgekyk het. Hierdie is ook die tyd wat ek soms van sonde oortuig word. Ander kere kom daar in hierdie tyd van stilte ook oplossings en antwoorde vir moeilike goed en situasies waarmee ek worstel. Soveel kere as moontlik sal ek sê: “Ek wag op U Here. Ek luister na U stem. Spreek, Here, ek, U kind luister.” Ek probeer egter so gou as moontlik met ‘n gedagte klaarmaak. Ek soek die stilte, nie die antwoord nie. Die antwoord sal wel vassteek.
Die belangrikste egter is dat ek die meeste van die tye in hierdie stilwees nie ‘n antwoord of ‘n oplossing of ‘n opdrag kry of selfs soek nie. Waarna ek eintlik op soek is, is die stille versekering van God se liefde en nabyheid. Net gister terwyl ek so stilraak was dit nie lank toe die belofte by my uitkom: “Ek is by jou tot aan die einde van die wêreld.” In die hele tyd van stilwees, niks anders as net dit dit nie. “Ek is by jou.” ‘n Paar dae terug die versekering: “Jy is myne.”
Ek en Renate is nou al lank getroud. Ons is baie lief vir mekaar en ons is “verslaaf” aan mekaar se teenwoordigheid en nabyheid. Tog sal daar veral tydens vakansies, wanneer die pas stadig is, lang tye verbygaan wat ons feitlik niks vir mekaar sê nie. Net die gedagte dat sy by my wil wees in sulke tye is reeds ‘n bewys dat sy my regtig liefhet.
Stilweestye met God is ook tye wanneer ek met wat ek doen aan God oordra: Ek het U regtig lief. En God bevestig dit. Hy voel dieselfde.
Ds, Attie, dit is werklik goed oorgedra. Ek praat ook baie met GOD deur die loop van die dag. Ek het al baie ervaar dat ek leiding kry deur die dag. Niks is per toeval nie. Daardie band groei en word net sterker. Wat so lekker is ek hoef niks aan GOD te verduidelik, nie HY weet als.