Ek is besig met ‘n kort reeksie oor hoe ‘n mens jou tyd alleen met God kan inkleur.
Hierdie is die vierde inskrywing hieroor. Jy kan die EERSTE een HIER (Nader tot God) gaan lees en die TWEEDE een HIER (Lof en Dank) en die DERDE een HIER (Skuldbelydenis). Vanoggend gaan dit oor voorbidding en versoeke. Ons aanbid die enigste ware en almagtige God. In die Woord moedig hy ons aan om dinge vir Hom te vra
“As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Johannes 14:14
en het ons ook die versekering dat Hy in ons behoeftes gaan voorsien.
“En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (Filppense 4:19)
Hierdie deel kan egter in twee dele gedeel word. Mens sou dit Voorbidding of Intersessie en Versoeke kon noem. VOORBIDDING of intersessie is wanneer ek vir ander intree by God. Ek voel soms mens kan hierdie die Koninkryksgebedstyd ook noem, veral as ek dink aan Jesus wat ons geleer het om te bid: “Laat U koninkryk kom.” Hier is my eie belange en my eie behoeftes heeltemal op die agtergrond. Ek fokus my gebed op ander en die koms van God se koninkryk, die realisering van sy heerskappy in die lewe en omstandighede van ander.
‘n Voorbeeld hiervan is Moses en die Israeliete waarvan ons in Eksodus 32:10-14 lees en wat in Psalm 106:23 beskryf word:
“Die Here wou hulle verdelg, maar Moses. sy uitverkorene, het by Hom vir hulle in die bres getree om sy gramskap te keer, sodat hy hulle nie vernietig nie.” (Psalm 106:23)
Die belangrike gedagte hier is dat God iets gedoen het op grond van Moses se voorbidding vir sy volk. Die woorde wat gebruik word skep die indruk van iemand wat tussen God en die mense, vir wie daar voorbidding gedoen word, kom staan. Hierdie voorbidding kan by wyse van konsenstriese sirkels beskryf word. Ek staan tussen God en…
my gesin en my familie (Maandag);
my vriende en my kleingroep (Dinsdag);
my gemeente en my gemeenskap (Woensdag);
my land en my regering (Donderdag);
die wêreld en die kerk in die wêreld (Vrydag).
Ek hou ‘n joernaal hiervoor sodat ek kan sien waarvoor ek besig is om te bid. Ek dink byvoorbeeld aan Augustinus se ma wat vir meer as 30 jaar vir hom gebid het. Soms is dit nodig om oor ‘n lang tyd sonder ophou vir dieselfde saak te bid.
Die tweede deel van hierdie gebed is VERSOEKE. In hierdie deel van die gebed bid ek vir myself. Jesus het sy dissipels geleer om elke dag vir hulle daaglikse brood te bid. Hierdie is sekerlik ‘n aanduiding van die mate van afhanklikheid waarmee ‘n kind van God in sy verhouding met God leef. Ons leef in ‘n tyd waar ons eintlik baie goed weet waar more se brood vandaan gaan kom. Mense wat egter al deur tye van werkloosheid gegaan het, kan anders hieroor getuig.
Waar voorbidding of intersessie in ‘n sekere sin algemeen kan wees deurdat ek vir die kerk in Korea bid sonder om baie spesifiek te wees oor wat daar moet gebeur, is versoeke anders. Hier kan ek die risiko loop om teleurgestel te word. Ek kan baie spesifiek wees oor wat dit is wat ek van die Here verwag. My geloof en vertroue in God en my verhouding met God is nie afhanklik van die mate waarin God gee wat ek vra nie. Selfs al sou God nie een van my gebede beantwoord nie, en noot gee wat ek vra nie, sal ek Hom steeds liefhê en sal ek steeds in verhouding met Hom wil wees. As alle versoeke nie van hierdie veronderstelling uitgaan nie, loop ons die risiko om in ons verhouding met God so teleurgestel te raak, dat ek nie net kan ophou bid nie, maar ook my rug op God kan draai. Ek bid byvoorbeeld al lank dat ons eiendom in Rustenburg moet verkoop sodat ons eiendom in Pretoria kan koop, maar dit gebeur net nie. Maar, dit het geen invloed op my verhouding met God nie.
Versoeke behels dat ek die hele situasie vir God skets. Ek praat met God oor hierdie ding in my lewe. Ek laat niks uit nie. Ek sê vir Hom hoe ek oor die saak voel en hoe dit my raak en hoe wonderlik dit sou wees indien Hy gee wat ek vra. Ek sê dit in eenvoudige taal. Asof ek met ‘n vriend sou praat.
My joernaal dien hier ook as herinnering van dit waarmee ek en God in ons tyd besig is. Ek skryf my sake van voorbidding en versoeke neer en huiwer nie om weer en weer met God in gesprek te gaan oor ‘n saak nie.
Gaan stort jou hart uit voor God.
Middag Ds. Attie, ek voel vanmiddag soos ‘n vreemdeling rondom jou koffietafel. Julle moet my maar vergewe ek kom nie by als uit nie. Ek het nou probeer opvang en al hierdie dagstukke vat so na aan my hart Ds. Attie. Dankie vir al die mooi gebede. Warm-Hartelike Groete!
Ek het al ondervind dat versoeke in baie gevalle tyd neem om beantwoord te word en as dit lank neem,moet ‘n mens net aanhou bid.Wat dit egter opwindend maak,is dat versoeke op plekke en tye beantwoord word,
wanneer ‘n mens dit die minste verwag.Ons Meester weet wat ons nodig het nog voor ons dit vra.Dankie vir die reeks,Attie.
Groetnis.