LITURGIE VIR MY TYD MET GOD (Skuldbelydenis)

Hierdie is die derde inskrywing oor hoe mens jou tyd met God sou kon inkleur. Jy kan die EERSTE een HIER gaan lees en die TWEEDE een HIER. Die eerste inskrywing het gegaan oor hoe ek tot God nader en die tweede een oor lof en danksegging. Wanneer ‘n mens in die teenwoordigheid van God is, gaan mens gewoonlik in jou gedagtes eerste na sy grootheid (LOF) en sy goedheid (DANK) en dan jou eie nietigheid. Alhoewel ons as mense wonderbaarlik na die beeld van God geskep is, is en bly ons sondaars wat afhanklik van God se genade bly leef. Daarom is die derde element van my tyd alleen met God skuldbelydenis.

Skuldbelydenis is waarskynlik een van die mees afgeskeepte elemente van gebed. Ons hou nie baie daarvan om te hoor dat ons sondaars is nie. Ek dink dit is belangrik dat ons verstaan dat ons ALMAL sondaars is, maar dat nie een van ons ALTYD met sonde besig is nie. Hierdie gedeelte van my tyd alleen met God, behels dat ek met ‘n versoek begin. Iets soos:

“Heilige Gees, U is die Een wat vir my gegee is om my te oortuig van sonde. Wys my asseblief op enige onbelyde sonde in my lewe.”

Gebed is ‘n gesprek. Gesprek kan net gebeur as ek met tye ook ophou om te praat. Hierdie is een van daardie tye. Ek vra dat die Heilige Gees my oortuig van sonde en dan raak ek stil sodat Hy kan doen wat Hy moet doen en net Hy kan doen. Wanneer daar in hierdie tyd iets in my gedagtes opkom, dan huiwer ek as ‘n reël nooit om dit te bely nie. Soos:

Ek bely dat ek my humeur daar teenoor (Naam) verloor het en dat dit nie U beeld van liefde uitgestraal het nie.

Ek bely dat ek daar te vinnig ‘n oordeel oor (Naam) gevel het en nie geluister het nie en sodoende kon (Naam) nie beleef dat U na hom/haar luister nie.

My belydenis het gewoonlik twee elemente. Eerstens dit wat ek verkeerd gedoen het en tweedens hoe dit God se werk in en deur my verhinder het. Dit gebeur ook by geleentheid dat daar niks by my opkom nie. Dit behoort tog so te wees. As ek daagliks tyd maak vir skuldbelydenis, gaan twee dinge gebeur. Eerstens gaan ek ‘n skoon rekening by God hê wat nie ouer as 24 uur is nie en tweedens gaan ek uit my skuldbelydenis leer en gaan ek nie dieselfde fout weer en weer herhaal nie. Dit kan dus wees dat daar met tye niks by my opkom nie.

Oor skuldblydenis moet ons onthou dat Jesus Christus ons sondeskuld by God betaal het en dat my sonde in Christus reeds vergewe is. Sonde en skuldbelydenis het nie daarmee te make dat ek uit die hemel uit gegooi gaan word as met onbelyde sonde sou sterf nie. Sonde en skuldbelydenis wys my op dit waarmee God in my lewe besig is en waaraan Hy op hierdie stadium werk. Skuldbelydenis maak dat ek raaksien waar ek ‘n hindernis in God se werking is of veroorsaak. Dit maak my ook  opnuut weer bewus van hoe groot die genade van God is dat Hy my vrygespreek het in die Naam van Jesus Christus.

Ek verkies om my tyd van skuldbelydenis af te sluit met ‘n gebed soos die volgende:

“Liefdevolle Hemelse Vader, ek erken en bely my sonde voor U. Ek het nou my sonde waarvan ek bewus is voor U bely, dankie vir U vergifnis. Vergewe asseblief ook my onbewustelike sonde. Ek vergeet so dikwels dat ek volkome aan U behoort. Ek lewe soms asof U nie bestaan nie en ek misluk in my pogings om ‘n getuie vir U te wees. Vir al hierdie dinge vra ek vergifnis en ook vir krag om elke sonde in my lewe te oorkom. Gee vir my ‘n helder verstand en ‘n suiwer hart sodat ek ‘n getuie vir U in hierdie wêreld kan wees.  Herinner my daaraan dat ek alles moet word wat U bedoel het dat ek moet word ongeag dit waarmee ek in my eie lewe besig is.  Hou my asseblief naby aan U. Dankie vir die vergifnis wat reeds myne is in Christus Jesus, my Here.”

Dit is elke keer vir my wonderlik om te beleef hoe God my skoon was en deur sy Gees in my binneste bevestig dat ek vergewe is.

2 thoughts on “LITURGIE VIR MY TYD MET GOD (Skuldbelydenis)

Add yours

  1. Dankie vir die mooi gebed Atie.Ek hoop almal wat hier vandag lees sal ‘n getuie vir Hom wees.
    Groetnis.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: