LITURGIE VIR MY TYD MET GOD (Lof en Dank)

Ek het met my vorige inskrywing ‘n kort reeksie begin oor hoe ‘n mens dalk jou tyd alleen met God kan inkleur. In die inskrywing het ek probeer fokus op die begin en dan die belangrike rol van belydenis en vergifnis in my tyd met God. Vandag gaan dit oor LOF EN DANKSEGGING.

LOF het te make met die karakter en die wese en die grootheid van God.  In hierdie gedeelte van my gebed gee ek erkenning vir wie God vir my is en ook wie God vir ander is. Lof is wanneer ‘n mens jou agting en respek vir iemand uitspreek. Met lof besing jy eintlik ‘n persoon se positiewe waardes en eienskappe. Die uitdaging is byvoorbeeld om nie die woordjies lof of loof of prys in hierdie deel van die gebed te gebruik nie.

‘n Voorbeeld van so ‘n gebed na aanleiding van Eksodus 34:6-7 (Sien Die Boodskap) is:

Here, U is die God wat mense help. U is die God wat jammer is vir mense wanneer hulle swaarkry en geduldig is met mense wanneer hulle sondig. U bly altyd getrou aan U karakter en U wese. Ek weet dat ek op U kan reken. U bly getrou aan derduisende mense. U vergeet alles wat ek en al U kinders verkeerd doen.

‘n Ander voorbeeld na aanleiding van Deuteronomium 10:16-17 is:

“Here God, U is sterker as enige ander god en U is magtiger as alle mense op die aarde. U Here, Almagtige, kies nie kant in hofsake of menslike geskille nie. U kan nie omgekoop word nie. U sorg dat weduwees en weeskinders regverdig behandel word. U het selfs die vreemdelinge tussen ons lief. U voorsien ook in hulle behoeftes.”

‘n Ander gebed na aanleiding  van Judas 24-25 kan wees:

“Here ons God, ons dien ‘n wonderlike God. U is magtiger as wat ons ooit sou kon dink. U kan selfs sorg dat ons nooit in sonde val nie. U kan ons beskerm sodat ons veilig by U in U nuwe wêreld aankom. U vul ons met vreugde in ons harte en lofliedere op ons lippe. Ons sing en vertel van U grootheid en U liefde. U is die enigste ware God en ons Redder en Verlosser deur Jesus Christus ons Here. Aan U alleeen behoort die hemelse heerlikheid en koningskap. Aan u kom toe al die eer en die krag en die mag van altyd af, maar ook vandag en môre en tot in ewigheid.”

Ek maak dikwels in my eie stiltye gebruik van gebede wat ander mense geskryf het. Daar is niks mee verkeerd nie. Ek kom agter dat my eie ervaringe van God se grootheid baie ver te kort skiet. Nie omdat dit nie daar is nie, maar omdat my oë nie altyd oop is om dit te sien nie. Daarom leen ek graag op hierdie punt by ander. Ek skryf egter ook dikwels my eie gebede (Soos hierdie hierbo) na aaneliding van skrifgedeeltes wat ek lees. Ander vertalings help my veral wanneer ek die Psalms lees met die oog op gebed. (Die Boodskap en The Message)

Saam met lof gaan DANKSEGGING. Ek sê vir God dankie vir die wonderlike dinge wat Hy in my lewe doen. In die dinge wat Hy vir my doen kom sy karakter en sy wese dikwels na vore en daarom gaan lof en danksegging saam. Terwyl ek God loof raak ek bewus van hoe Hy in my lewe betrokke is en ter wyl ek dankie sê ontdek ek God se karakter. Danksegging is die tyd wanneer ek bewus raak van hoe God Hom in my lewe aan my openbaar. Sonder danksegging stagneer die beeld wat ek van God het.

Die manier waarop ek dit doen is om stil te raak en in my gedagtes deur die vorige dag (of die dag wat verby is as jy in die aand jou stiltetyd hou) te gaan. Ek begin by waar ek opstaan en ek gaan deur alles wat gebeur het en ek soek na dinge wat dui op God se werk in my lewe. Ek sê dan dankie daarvoor, maar probeer dan ook uitwerk watter eienskap of kenmerk van God se karakter kom hierin na vore.

Byvoorbeeld: Ek bid elke Saterdag-oggend saam met ‘n paar mans. Saterdag-oggend bid een van die mans uit die bloute vir die lang rye pasiënte by Steve Biko. Terwyl hy bid kom daar by my die gedagte op dat ons so graag wil hê dat die korrupte elemente in ons regering tot ‘n val gebring moet word, dat ons vergeet dat voor hulle tot ‘n val kom, gaan die armes en die broses nog eers baie swaar moet kry. As Christen moet ons anders hieroor bid en dink. Ek het duidelik die werking van God se Gees beleef. Ek het beleef dat Hy die bron van alle wysheid, insig, kennis en verstand is. Ek het in my gedagtes met die Here besig gebly met dit wat ek beleef het. Later die dag het my gebed naastenby so geklink:

Here God, U is die Een wat altyd besig is om my te leer. U maak my oë oop vir dinge wat ek andersins nie sou raaksien nie. U vul my hart met U liefde vir mense vir wie U ook jammer is. Dankie dat U vanoggend weer aan my bevestig het dat U, Heilige Gees, in my lewe werk.

Gebed neem oefening voor ‘n mens kom waar jy wil wees.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: