LITURGIE VIR MY TYD MET GOD (NADER TOT GOD)

Ek het Maandag geskryf oor WAAR BEGIN ELIA SE GEBED? en toe die opmerking gemaak dat gebed baie meer as net die sê van woorde. Gebed is ‘n leefstyl. Ek het HIER ook geskryf oor ‘n manier om jou gebedstyd in te rig.

Na aanleiding van Maandag se skrywe en ‘n paar gesprekke wat ek hierdie week gehad het, dink ek tog dit is belangrik om te beklemtoon dat tyd alleen met God onvervangbaar waardevol is in die kind van God se lewe. Die meeste mense met wie ek in aanraking kom, wil graag meer maak van hulle tyd alleen met God. Ek gaan oor die volgende paar dae daagliks iets hieroor skryf.

Net soos iemand wat ‘n erediens lei nie op ‘n tref en trap basis in ‘n erediens kan instorm nie, so ook nie ons stiltetyd of tyd alleen met God nie. Hierdie gebeds-liturgie is ‘n uitvloeisel van ‘n tyd toe ek Dick Eastmann se boek The Hour that Changes the World deurgewerk het en ook my stiltetyd daarvolgens ingerig het en wat ek toe deur die jare met ander ontdekkings en leeswerk aangepas het.

1. NADERKOM EN BELYDENIS

Ek begin gewoonlik hierdie tyd deur te gaan sit en drie keer diep asemhaal te haal en dit stadig uit te blaas. In die paar oomblike fokus ek my gedagtes op die teenwoordigheid van God. Ek is in God se teenwoordigheid en Hy is hier om ook met my tyd deur te bring. Ek sal ‘n paar bekende sinne herhaal. Sinne soos:

“Heilige Hemelse Vader, U is die Skepper van die hemele en die aarde.”

“Heilige Here Jesus, U is die Seun van die lewende God, my Verlosser.”

“Heilige Gees U is die Herskepper van my lewe en van die wêreld. U is God in my; God om my; God met my en God deur my.”

Wanneer ek agterkom dat ek rustig raak, dan sal ek die Heilige Gees vra om my te wys op enige sonde in my lewe. ‘n Gebed soos:

“Heilige hemelse Vader ek is U kind en mag in hierdie verhouding met U lewe op grond van die verlossingswerk van Jesus Christus my Here en my Verlosser. U is die heilige, maak my heilig, deur die werking van U Gees. Heilige Gees maak my bewus van enige onheiligheid of sonde in my lewe.”

Vir my is dit op hierdie punt nogal belangrik om stil te wees. Ek maak gebruik van my asemhaling om rustig te bly. As daar nie iewers in hierdie tyd stilte is nie, gaan die oortuigings- en bewusmakingswerk van die Heilige Gees by my verbygaan.

Die Heilige Gees sal my wys op die dinge wat God kon teleurstel en/of my naaste kon benadeel het. Iets wat ek gedoen het wat ek nie moes gedoen het nie; iets wat ek nie gedoen het nie, wat ek dalk moes gedoen het. Wanneer daar iets in my gedagtes opkom dan bely ek dit sonder versuim omdat ek glo dat dit die Heilige Gees is wat in antwoord op my versoek besig is om my te oortuig. Die gebed neem die vorm aan van: “Ek bely dat ek… en dat dit verkeerd was in U oë. Vergewe my asseblief.”  Byvoorbeeld: 

“Ek bely dat U my bewus gemaak het van daardie persoon se nood, maar dat ek niks daaraan gedoen het nie. Ek besef dit was verkeerd in U oë. U wil deur my by mense se nood uitkom. Vergewe my asseblief het.” Of:

“Ek bely dat ek kwaad geword het vir… in die proses het ek my eie menswees gewys en nie nie die beeld van U Seun uitgestraal nie. Ek besef dit was verkeerd in U oë en dat U ook U liefde en genade deur my na die mense rondom my wil neem. Vergewe my asseblief.”

In my eie gebedstyd het ek agterkom dat dit nogal belangrik is om die alternatiewe optrede uit te spel of die rede waarom dit sonde sou wees. Ek glo dat belydenis nie net herstel van my verhouding bewerk nie, maar dat dit ook die manier is waarop God deur sy Gees my bewus maak van waarom dit verkeerd is. Die doel van die belydenis is nie om God te verander nie, dit moet my verander.

Wanneer daar niks opkom nie, moenie iets gaan soek nie.

Aan die einde van hierdie tyd met God dank ek God die Vader dat hy deur die herskeppingswerk van die Heilige Gees besig is om my lewe te herskep en nuut te maak en my al meer te omvorm om aan die beeld van Christus gelyk te word. Byvoorbeeld:

“Hemelse Vader, ek wil niks anders wees as klei in die hand van die Pottebakker nie. Wees U die Pottebakker, en ek die klei. Vorm my tot U eer. Dankie Heilige Gees dat U die Een is my lewe herskep en my meer en meer aan die beeld van Christus gelykmaak.”

6 thoughts on “LITURGIE VIR MY TYD MET GOD (NADER TOT GOD)

Add yours

  1. Dit laat mens net weer besef dat om by God te rus eintlik werk aan ons eie geestelike groei en opbou is.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: