WAAR BEGIN (ELIA SE) GEBED?

Ek het gister uit 1 Konings 18, Elia se konflik met die Baäl profete, gepreek. Ek dink die gedeelte kan verskillende temas hê vir prediking. Deur die loop van die preek het ek ‘n paar opmerkings gemaak oor die vraag: WAAR BEGIN (ELIA SE) GEBED?

Elia se gebed is opgeteken in vers 36:

“Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek U dienaar is wat op U bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte tot U bekeer.”

Op hierdie punt in die verhaal weet ons almal wat moet gebeur. Daar moet vuur uit die hemel kom om die offer wat Elia voorberei het te verteer. Ons ken gewoonlik die verhaal ook goed genoeg om te weet dat dit wel gebeur. Maar waar begin gebed?

Een van die eerste dinge wat ons oor gebed leer is dat dit ‘n gesprek is. Met ander woorde, ek praat en die Een tot wie ek bid praat terug. ‘n Tweegesprek. Alhoewel God deur die Woord aan die woord kom, dink ek nie ons kan die Bybel gebruik as God se deel in hierdie tweegesprek nie.

In dit wat mense oor gebed geleer is, het ons natuurlik ook ontelbaar baie skuldgevoelens op mense gelaai omdat hulle gebedslewe nie op standaard was nie. “Julle het nie omdat julle nie bid nie.” Daarmee bedoel ons dan dat ons  nie genoeg tyd maak om met ons oë toe te sit en woorde vir God te sê nie.

Maar, ons het van gebed primer ‘n linkerbrein verbale aktiwiteit gemaak. Daar is sonder twyfel plek en ruimte vir gebed as een van die geestelike dissiplines wat op ‘n sekere tyd gebeur, behoort daar te wees. Wanneer ek met my gebed as geestelike dissipline in my stiltetyd sukkel, kom ek agter dat ek dikwels met die gedagte speel dat God in elk geval weet wat ek nodig het, nog voordat ek daarvoor vra. So regverdig ek dan my gebrek aan dissipline en geroetineerde gebed. Hoe kom ek daaruit? Ek begin om vaste gebede te bid. Gebede soos die Ons Vader, van die Psalms of selfs Elia se gebed. Hoekom Elia se gebed?

Kyk weer na die gebed. Jy kan dit in enige situasie bid en dit sal van toepassing wees. Wat het Elia gedoen vandat hy Agab gekonfronteer het totdat hy die konfrontasie uitgespel het en terwyl die Baälprofete gebid het en terwyl hy die altaar voorberei het? Ek dink Elia was in deurlopende kontak met God. Ek dink Hy was intens bewus van God se teenwoordigheid en nabyheid en werking in sy lewe. Wanneer Elia woorde begin sê weet God reeds wat Elia wil hê dat Hy moet doen. Wanneer my dogter vanoggend wiskunde gaan skryf, kan sy ook maar Elia se gebed bid want God weet wat sy nodig het. En sy en haar ouers het vir haar en haar vriende gebid vir vanoggend se eksamen.

Maar nog steeds is gebed ‘n linkerbrein verbale saak. Die dissipels het vir Jesus gevra om vir hulle woorde te gee waarmee hulle met God kan praat. Die feit dat die dissipels vir Jesus vir ‘n verbale gebed vra kan dalk net ‘n aanduiding wees dat dit nie is waaroor hulle voorheen gepraat het of ervaar het nie. Tot nou toe het hulle gebed op ‘n ander manier beleef. Tot nou toe het hulle in Jesus gebed as ‘n leefstyl beleef. 

In Jesus het hulle beleef hoe die feit dat Hy en die Vader Een is in sy bediening tot uitdrukking gekom. Hulle het geweet dat Jesus niks sou doen as die Vader nie vir Hom sê om dit te doen nie. Jesus het in noue kontak en intieme nabyheid met die Vader geleef. Dit was gebed. Nou vra die dissipels meer as dit. Ons wil nie net gebed leef nie. Ons wil met woorde ook bid.

Jesus se lewe was sy missie. My lewe is my missie. En alles wat in hierdie lewe vanuit ‘n intieme en naby verhouding met God doen, is nie net die uitlewing van my missie in hierdie lewe nie, maar ook gebed. Alles wat ek doen terwyl ek bewus is van die Vader en die Seun en die Heilige Gees se nabyheid is gebed. Alles wat ek doen terwyl ek die teenwoordigheid van God ontken of misken, is non-gebed.

Hier vloei  gebedslewe en die alledaagse lewe ineen. Wanneer ek en jy optree en lewe vanuit so ‘n intieme verhouding met God is ons lewe gebed. Dan kom die tweegesprek in gebed deur. Deur die werking van die Heilige Gees weet ek wat die volgende ding is wat ek moet doen. Soos vir Elia – glo ek. Terwyl Elia gereed maak, kom die gedagtes by Hom op. “Moenie die volk daar ver laat staan, bring hulle nader. Laat hulle sien wat gebeur. Maak hulle deel van wat gebeur.” “Moenie ‘n nuwe altaar bou,  herstel die stukkende altaar.” “Gebruik twaalf klippe.” “Kom ons maak dit interessant, laat hulle twaalf kruike water oor die offer uitgooi.” Maar ek kan my ook net voorstel deur watter paniek Elia moes gegaan het. “Here, as U nie vandag doen wat ek dink U behoort te doen nie, gaan ek darem soos ‘n gek lyk. Ek vertrou dat U vuur sal stuur soos U vir my belowe het.”

Elia het so bewus van God se teenwoordigheid geleef, dat God daar by die weduwee van Sarfat op ‘n dag kon sê: “Dit is tyd…”

Gebed is dus in die eerste plek ‘n manier om in hierdie lewe en in hierdie wêreld te wees. Hierdie ‘n “in-kontak” lewe van liefde en eenheid en nabyheid in plaas van ‘n lewe van oordeel, analisering en kritiek. Scot McKnight het my baie jare terug bewus gemaak daarvan dat ek ten minste as die eerste ding as ek opstaan en die laaste ding voor ek aan die slaap raak, die “shema”, of die samevatting van die wet vir myself moet herhaal. Sodat ek kan onthou dat dit die “grondwet” van my lewe is. Om God meer lief te hê as enige iets anders en my naaste soos myself. Die Heilige Gees is dan die Een wat deur die loop van die dag my herinner aan hoe ek deur my lewe God en my naaste kan liefhê. In plaas van oordeel, analisering en kritiek van my medemens, liefde begrip en vryspraak.

Wanneer ons dit eers besef, dan gaan daar vir ons nuwe lig op.

Neem Jesus as ‘n voorbeeld. Jesus het vir 40 dae in die woestyn gebid. Beteken dit dat Hy vir 40 dae lank woorde vir God gesê het? Beteken dit nie eerder dat Hy vir 40 dae in die woestyn kon rondloop en een voet voor die ander sit terwyl Hy in deurlopende liefdevolle kontak met God die Vader en alles rondom Hom is nie. Die klippe en die blou lug en alles rondom Hom. Ek kan op vakansie gaan en iets soortgelyks beleef. Ek kan vir myself sê: Ek gaan vir hierdie vakansietyd in noue en intieme kontak met God leef. 

Twee keer in die Nuwe Testamentiese briewe is daar die oproep dat ons sonder ophou moet bid. Dis skrywers kan tog nie regtig bedoel dat ons die hele tyd woorde moet sê nie. Mens sou dalk kon sê: “Bid sonder ophou, indien nodig, gebruik woorde.” Ons kan dus dalk eerder dink aan ‘n deurlopende bewustheid. Hierdie deurlopende bewustheid is dalk met tye moeiliker om te handhaaf as ‘n geroetineerde gebedstyd. Alles wat ek doen word nou deurdrenk met hierdie bewustheid van God se nabyheid en teenwoordigheid. Skielik word die hele lewe opgeneem deur die teenwoordigheid van God. Daar is niks wat ek nie in bewustelike, eenheid met God kan doen nie. Skottelgoed was; werk toe ry; met vriende kuier; preekmaak; ‘n boek lees. Wanneer jy enige een van hierdie dinge in ‘n deurlopende bewustheid met God drie-enig doen, dan is dit gebed.

Ek en Renate was Aprilmaand vir ‘n week see toe. Die weer was lekker en ek kon lekker swem. Omdat dit buite seisoen was, was ek dikwels alleen in die see. In die week het ek twee boeke gelees wat ‘n besondere indruk op my gemaak het. My alleentye in die see of dan alleen langs die see gaan stap het, was die tye wat ek dit wat ek gelees het deurdink het en dikwels gewonder het of daar iets is wat die Here vir my wil sê en indien wel, wat dit is wat Hy wil sê. En daar het die tweegesprek deurgekom. Ek weet wat dit is wat die Here vir my wou sê en stadig maar seker is dit besig om gestalte te kry in my bediening.

Mag jy in hierdie dag met God wandel.

One thought on “WAAR BEGIN (ELIA SE) GEBED?

Add yours

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: