WAAROM KERK TOE?

Thomas G Long het ‘n besondere boek geskryf met die titel: Beyond the Worship Wars: Building Vital and Faithful Worship. In die boek vra hy onder andere die baie belangrike vraag: Hoekom kom mense kerk toe? (Long:15) Mense kom natuurlik kerk toe vir verskillende redes: Gewoonte, dankbaarheid, skuldgevoelens, lojaliteit, druk van ander, ter wille van die kinders, diepe oortuiging, ander weet nie regtig hoekom nie.

Maar, ons weet dat erediensbywoning ‘n al hoe groter probleem word. Al hoe minder mense gaan kerk toe. In gister se inskrywing het ek verwys na Suid-Afrikaanse statistieke en ook Barna navorsing wat daarop dui dat terwyl meer as 80% van ons gemeenskappe erken dat hulle wel Christene is, is bywoning van ‘n erediens of deel wees van ‘n geloofsgemeenskap slegs vir 21% belangrik. Ek stem nogal sam met Long dat dit ‘n wonder is dat mense nog enigsins erediens bywoon. (Long:15)

Waarom kerk toe gaan? Wel, die erediens kan ‘n plek wees waar God sy vormingswerk in jou lewe voortsit. In sy boekie Celebration of Discipline noem Richard Foster dit een van die geestelike dissiplines. Aanbidding is een van vier “Corporate Disciplines” volgens Foster. Hy skryf:

“The divine priority is worship first, service second. Our lives are to be punctuated with praise, thanksgiving and adoration. Service flows out of  worship. Service as a substitute for worship is idolatry. Activity is the enemy of adoration.” (Foster:202)

Maar ons verstaan so maklik hierdie dissipline as iets wat ek moet doen. Net soos missionêre aktiwiteite die risiko loop om in nuwe wettisisme te veral, kan kerk toe gaan ook maar die volgende goeie werk word. Enige werk wat daarop ingestel is om God se guns te wen is eerstens ‘n goeie werk en tweedens nie regtig diens aan God nie, maar diens aan myself omdat ek hoop om iets daaruit te kry.

Foster en ander skrywers oor die geestelike dissiplines beklemtoon egter altyd weer dat nie een van die geestelike dissiplines as ‘n wettiese goeie werk gesien moet word nie. Hy skryf:

In our enthusiasm to practice the Disciplines, we may fail to practice discipline. The life that is pleasing to God is not a series of religious duties. We have only one thing to do, namely, to experience a life of relationship and intimacy with God, ‘the Father of lights with whom there is no variation or shadow due to change.’ (James 1:17)” (Foster:4)

Kerk toe gaan as geestelike dissipline moet gesien word as nog ‘n manier waarop ek groei in intimiteit met God. Soos ‘n sportman eerstens nie anders kan as om gedissiplineerd te oefen nie, kan die toegewyde volgeling van die Here Jesus ook nie anders as om die geestelike dissipline van kerk toe gaan te beoefen nie. Maar tweedens het geen sportman net een tipe oefening wat hy doen nie, maar verskeie oefening. Sekere oefeninge verbeter soepelheid en ander verbeter krag, so het die Christen ook ‘n reeks van geestelike dissiplines wat hom geestelik fiks maak. Kerk toe gaan is maar een van die “oefeninge”.

‘n Dissipline is eintlik niks anders as ‘n goeie gewoonte nie. ‘n Goeie gewoonte het egter begin by ‘n aktiwiteit waarmee ek begin het en gedissiplineerd volgehou het todat dit as gewoonte gevestig was. ‘n Gewoonte waarmee ek aanhou omdat dit goed is vir my en nie net doen wanneer ek daarna voel nie. Foster moedig mense aan tot “a sacrifice of worship”.

“You need to offer a sacrifice of worship. You need to be with the people of God and say, ‘These are my people…’ ‘Lord I do don’t feel like worshipping, but I desire to give you this time. It belongs to You. I will waste this time for You.” (Foster:213-214)

Waarom kerk toe gaan? Omdat ek die verwagting het om die lewende God daar te ontmoet en omdat God my ook in die erediens vorm as volgeling van die Here Jesus en omdat my verhouding met God daardeur verdiep.

13 thoughts on “WAAROM KERK TOE?

Add yours

  1. Lyk my ek was nie gister te vêr van die kol af nie. Long en Forster stem ook saam met my hoewel hulle net hoë woorde gebruik om ‘n eenvoudige ding te sê.
    Ons gaan kerk toe om God te loof en te prys en te aanbid en om ons offergawes te bring en as ons nog ook ‘n goeie preek hoor is dit ‘n bonus.

  2. As kind het die van der Merwe gesinnetjie altyd na die erediens gegaan. Die liturgiese orde was streng gehandhaaf. Die dominee het sy wit peperment altyd op presies dieselfde oomblik uitgehaal en neergesit waar hy hom later weer kon kry. Die Apostoliese Geloofsbelydenis is amper sonder uitsondering voorgelees. Ook daardie gedeelte oor die “grootste gebod”. Dan het ons elke liewe keer gesing “Voor U wet Heer staan ons skuldig, liefde is die groot gebod”. Voor die tyd wat die ‘amen, amen’ in al die kerke ingebring was het dit altyd geëindig met daardie gedeelte uit die Ou Testament “Die Here sal julle seën en julle beskerm …”

    Daar was altyd spanning tussen my ouers en die dominee. My ma het die dominee eenkeer aangevat oor sy lidmaatskap van die geheime Broederbond (sy naam is vir ewig agterin die boek ‘The Super Afrikaners). Die kerk was bestuur soos ′n old-boys club. As ′n ruit gebreek het dan het hulle dit altyd deur dieselfde broer se besigheid laat regmaak, selfs al het daardie broer veel meer geld gevra as ander besighede wat dieselfde dien gelewer het. As iemand dit dan ge-query het dan was dit begroet met “maar ons doen dit nog altyd so” (sien vorige paragraaf). Tog het die kerk altyd oor geld gekla al het hulle soms die duurste dienste gehuur.

    My ma was die Maatskaplike Werker van die dorp. Eenkeer toe vra sy kos aan uit die koskas vir behoeftige mense en sy vra oor en oor en oor niemand wil haar help nie. Uiteindelik bring die een ouderling toe die kos en smyt dit so voor haar neer en sê “dé, hier is die goed”.

    Ongeveer toe ek in matriek kom toe verlaat my ouers daai kerk en sluit aan by ′n buurdorp se gemeente. Genadiglik vir my was ek toe matriek en was amper verlos.

    Sedert ek op universiteit gekom het, het ek opgehou om dienste by te woon. Ek het so klompie kere hier na die gemeente hier naby my gegaan. Ek was selfs deel van een van hul selgroepe. Daar was dinge wat my gepla het aan die sel maar ek het vasgebyt want ek het probeer om die ‘regte ding’ te doen. Tot die een dag toe die een dametjie by die samekoms vir ons gesê het dat daar mense is wat sê dat die ‘boom’ in die tuin van Eden soos die verhaal in Genesis dit vertel, dat daar mense is wat sê dit was nie ′n regte egte boom nie. Al die ander lede van die selgroep het haar egter verseker dit was ′n regte, egte, historiese boom. En dat die verhale in Genesis die onbetwisbare 100% akkurate en letterlike weergawe van die oorsprong van die heelal is. Al die lede van hierdie selgroep was gegradueerde mense. Party het selfs nagraadse kwalifikasies gehad of was besig daarmee.

    Ek het soos kiepie daar gesit en gewonder of ek ‘sleg’ is omdat ek glo die ‘skepping’ was nie ′n ses dag ding nie. Omdat ek glo die ‘skepping’ duur elke dag voort. Omdat ek nie geglo het die eerste mens op aarde ′n man met ′n Hebreeuse naam was nie (aangesien Hebreeus nie eens die oudste taal op aarde is nie).

    Ek het hulle later vergewe toe ek daaraan dink dat waarskynlik nie een van hulle al ′n boek oor die antieke verlede (behalwe nou die Bybel) gelees het nie. Maar wat ek weier om te aanvaar is hoe die kerk, met hoevele jare se Sondagskool, nooit vir hierdie mense laat besef het dat Genesis 1 nie regtig letterlike geskiedenis is nie (ag maar nou ja, sien weer paragraaf een en twee van my antwoord).

    1. Barend:
      As predikant van die NG Kerk wat self baie foute maak en dikwels op my foute gewys word, kan ek nie anders as om namens die kerk vergifnis te vra vir dit wat mense aan jou gedoen het nie. Mense tree verkeerd op. Ek hoop jy sal eendag dit oor jou hart kan kry om mense te vergewe.

    2. Barend,ek hoop jy aanvaar ds Attie se vergifnis wat hy namens die Kerk vir jou vra.Indien nie is daar nog faktore, waaraan jy nog nie voldoen nie:
      1)Die dinge wat jy vertoetel in jou skrywe,beteken vir my dat die laer orde van jou persoonlikheid nog nie tot bekering gekom het nie.
      2)Ons Meester verander ‘n mens nooit teen sy sin nie.Voordat daar verandering kan wees,moet daar samewerking met die lewende Christus wees.Hy vereis jou onderwerping aan Sy wil voordat Hy nuwe lewe in jou ou verstarde lewe kan inblaas.Die oomblik wanneer jy opreg is in jou begeerte om te verander begin die tranformasie reeds,en wat jy eenmaal
      as onmoontlik beskou het,word ‘n heerlike werklikheid in die krag wat Christus jou skenk.
      Groetnis.

      1. Môre almal,
        Ek lees maar so in die stillighied wat almal hier skryf en dan kry ek nogal diep binne my seer. As ons presies alles wil weet van God en hoe dinge ontstaan het en begin om dinge wetenskaplik te prober uitwerk en begin twyfel oor wat in die Woord geskryf staan is ons besig om ons self gelyk aan God te probeer stel. Gister was Triniteitsondag dwarsdeur die wêreld en ek het probeer lees wat verskillende mense deur al die eeue al probeer sê het oor oor die Drie Eenheid. Ek het maar net weer tot die besef gekom dat die God wat ek aanbid niemand, nie eers Barend, in ‘n bokise kan druk en sê: Dit is soos dit gewerk he nie. Die wêreld is nie in ses dae geskape nie en die Drie Eenheid werk so en dit is nie ‘n groot vis wat Jona ingesluk het nie, en Jesus het nie regtig opgestaan nie, en, en….
        Dit is beter om net te weet dat God die Skepper God is en dat alles deur Hom tot stand gekom het en dat Hy steeds in beheer is van alles.
        Ek lees en hoor ook bae dige wat baie mense sê en skryf wat glo die antwoorde op alles het en dan skud ek ook maar net my kop. Soms is dit bter om maar net soos ‘n kind te glo en nie te probeer om alles wetenskaplik uit te werk nie.
        Dit is nie die “kerk” wat mese verwar nie, dit is mense. Dit help nie om kwqad te word vir die kerk nie. Soms moet mens maar ne vergeet en vergewe.
        Ek het net een boodskap vandag aan Barend: Jy kan niks verander aan die verlede nie. Wat gebeur het, het gebeur en wat gesê is, is gesê. Jy kan ook niks verander aan die toekoms nie, omdat daar nog niks is om te vernander nie. Al waaraan jy iets kan verander is nou en hier. Probeer asb die verlede vergeet en konsenteer op die hier en nou. Dit is al waaraan jy iets kan doen en ek dink jou inskrywings dra niks by tot ‘n beter toekoms nie, behalwe om die sleg van die verlede lewendig te hou – iets soos wat die ANC doen met apartheid. As hulle apartheid nie lewendig hou nie, het hulle niks om hulle foute op te blameer nie.

  3. As kind van ‘n amptenaar van die kerk kan ek getuig – dis swaar om vir die kerk te werk as jy ‘n kritiese brein het. As jy vrae vra wat die dominee nie van hou nie en nie lus is om te antwoord nie, dan word daar net die beskuldiging rondgeslinger ja jy laster teen die kerk.

    Dit is so ‘n gemaklike ou dingetjie waarop jy as dominee altyd kan terugval – presies nes die ANC se leiers altyd graag terugval op die ‘dis apartheid se skuld’ verwyt.

    En dit is dan die kerk van die Here Jesus dikwels – dis ‘n plek van magspeletjies en dis al wat dit is. Is dit enige wonder dat baie mense moeg is en nie meer wil gaan nie?

  4. My pa was ‘n baie dierbare saggeaarde mens. Baie sensitief en sou sy lewe gee om mense in hulle nood en seerkry by te staan en te help. Hy was ook ‘n dominee.

    As klein kindjie het hy vir my reeds verduidelik dat die sewe dae nie sewe dae beteken nie. Ek onthou hoe dikwels hy vir my gesê het: Ek verstaan ook nie alles nie, my kind.

    Hy het vroeg in sy lewe besef appartheid was verkeerd en die dinge soos die Broederbond is nie die Here se wil nie. Hy het gepraat en was een van die eerstes wat op ‘n kansel geklim het en gesê: Appartheid is sonde en teen die Woord. Maar, daar was altyd twee kampe. Die een kamp soos Barend wat alles bevraagteken en niks as heilig beskou nie en te alle koste reg moet wees. Die ander kamp wou niks verander en as hulle anders oor goed moet dink is die een wat hulle anders moet leer die ketter. Tussen hierdie twee kampe is my dierbare pa fyngemaal. Soveel so dat dokters aanbeveel het dat hy liewers die bediening moet verlaat. Hy het, dalk het hy langer gelewe, maar tog het ons hom ‘n vroeë ouderdom begrawe.

    Hy het my nie sien my studies sien voltooi nie. Hy was nie daar om in die kerk in te bring nie en hy was nie daar om sy eerste kleinkind vas te hou nie.

    As die kerk mense was, het die kerk hom doodgemaak. Maar die kerk het Hom nie doodgemaak nie. Mense het. Mense wat hulle eie menings en hulle ei standpunte en hulle eie ervarings tot dogma verhef het en geweier het om na God se Woord te luister. Mense wat almal maar skuldig was aan presies dit waarvan hulle die ander patye beskuldig het.

    Maar, my pa het my ook geleer dat God meer en groter en heerliker as mense is. Hy het my geleer dat mense altyd weer sal seermaak en sal teleurstel, maar dat alle mense nie dieselfde is nie.

    En dit is waaraan ek vashou. God is groot. En alle mense is nie dieselfde nie. En alle dominees is nie dieselfde nie. En alle Christene is nie dieselfde nie.

    Barend, jou skrywes hier op die koffietafel het my herinner aan daardie tyd voor my pa uit die bediening uit is. Maar, jy herinner my aan seer, maar jy kan my nie meer seermaak nie. Jy laat my dink aan hoe my pa stadig doodgegaan het deur wat mense gesê het en wat hulle aan sy sagte gees gedoen het. Maar die dinge wat jy sê sal my nie stadig laat doodgaan nie, want ek lewe in Christus en nie in die verwyt en die pyn van my verlede nie. Jou skrywes herinner my aan hoe seer mense mense kan maak, maar dan kyk ek rondom my en ek sien my eie dominees en mede-gelowiges en ek loof die Here vir herskeppingswerk van sy Heilige Gees.

    Vrede my broer….

  5. Dit is baie waar wat Nina hier sê naamlik dat daar uitsonderinge op die reël is. Groot uitsonderinge. So byvoorbeeld is die kerk waarin my ouers toe uiteindelik beland het ′n baie aangename gemeente met geen ‘clicks’ waarvan ek tot op hede bewus kon word nie. Die dominee daar laat sulke dinge net eenvoudig nie toe nie. Ek besoek soms nog af en toe daardie gemeente as ek by my ouers kuier.

    Ek dink die heel grootste fout wat mens kan maak is dat wanneer jy seerkry, om dan jou wonde te gaan lek by ′n ander sekte. Dis een ding om ′n ander gemeente te gaan soek maar ′n ander sekte – hayibo! Dis nou die kortste en vinnigste pad om jou kop baie lelik te stamp. Want jy ken nie daai sekte se streke so goed soos jou eie nie. Ek beveel altyd aan dat mense maar bly wat hulle is. Bly liewer Dopper, NG, APK, watookal. Soek eerder ′n ander gemeente of vat ′n breuk (jy sal jou ware vriende verál leer ken as jy ′n breuk neem). Worst case scenario – word ′n rustende lidmaat soos ek maar. Maar moet in hemelsnaam nie ′n nuwe denominasie probeer nie.

    Ek sê altyd as ek vir God nie in die NG kerk kan vind nie dan sal ek ook nie elders nie. Hoekom sal God tog in ′n ander kerk wees maar nie in myne nie? Is ons gebou te lelik? Ons dominee te dom? Ons orrel te vals? God het tog nie ‘favourites’ soos mense nie. Mense is nie God se Quality streets nie.

    So kerk toe gaan bly maar ′n risiko. Jy loop of die risiko om ook ingetrek te word in daai kliek, want die mens is swak vir mag. Daar is die spreekwoord wat lui ‘power corrupts and absolute power corrupts absoluteley’. Óf jy loop die risiko om erg seer te kry.

    Maar dan weer, voel ek altyd, is om te lewe self ′n risiko. En ′n lewe sonder enige hoop op ′n beter more is maar vir my swaar. Sonder om te voel daar is iets groter aan die lewe as net dit wat sigbaar is vir die oog. Vir my is die gees van die Bybel dan ook die smag na geregtigheid, die hoop op ′n beter more – veel eerder as wat dit vir my ′n wetboek is of ′n boek wat my leer wie en wat God is. En ek wil weer eendag betrokke raak by die kerk. Al is dit net om ingelig te wees oor die nuutste vergrype en ′n lawaai te maak. Boonop is die kerk ′n plek waar mens baie vervulling kan beleef, deur byvoorbeeld by welsyn betrokke te raak. Ek weet die predikers sê mens moenie goeie dade doen vir sommer net nie en dat dit ′n ‘vrug van jou geloof’ moet wees (geloof waarvan ek natuurlik baie beperkte hoeveelheid het), maar tog is die kerk die ideale plek om mens se behoefte in hierdie opsig te bevredig.

    Probleem is nou het mens so bederf geword met laat slaap op ′n Sondag en koerant lees en wat als … Baie weke werk ek ses dae per week en dan is daai Sondag darem so lekkerrrr. Sal maar swaar gaan om hom te offer. Maar wat ook baie belangrik is, dink ek, vir mense wat onseker is oor kerkgaan, is dat jy jou Bybel so goed as moontlik moet leer ken en baie boeke lees oor geloofsake en spiritualiteit. Dit sodat jy nie sommer net om elke hoek en draai om die bos gelei kan word nie. ′n Goeie praktiese stap is om sommer in beginsel skepties te wees oor enige ding wat enige mens oor God sê. Want meeste van die dinge wat gesê word is dinge wat uitgedink word en veel meer met mense se mag speletjies as met enige ‘God’ te doen het.

    1. Barend, ek dink jy is doelbewus daarop uit om mense seer te maak. Dit lyk my jy gaan nie stop voordat jy wraak geneem het nie. Onvergewensgesindheid is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood.
      Ek dink jy moet maar weer gaan dink.

  6. Nee wat dis bollie daai wat my betref. Dis geen geheim nie dat ek ‘n heiden is by algemene kerk standaarde aangesien ek skepties is oor baie leringe insluitende die van die Drie-eenheid. Dit gebeur dan ook dan mense reguit vir my sê dat ek ‘n swak Chrisyen of self heiden is.

    Tog wil ek graag deel van die kerk bly. Ek wonder diep in my hart of ek nie deur ‘n ‘Hoër hand’ na die insigte gelei is waartoe ek gekom het nie. En ek weier om my spiritualiteit in ‘n ander sekte te gaan uitleef. Sal en gee bly tot ek emmer skop of weggejaag word.

  7. Barend, jy is besig om die kuns te vervolmaak om jouself te weerspreek. Aan die een kant “vloek” jy die kerk en aan die ander kant kan jy nie sonder die kerk nie.

    Die woorde “Ek wonder diep in my hart of ek nie deur ‘n hoër hand na die insigte gelei is nie…” is die tipe van woorde waardeur groepe gevorm word wat later absurde dinge vir hulle oortuigings aanvang.
    Ek is diep in my hart baie jammer vir jou, maar ek vermoed jou antwoord sal wees dat jy nie nodig het dat mense vir jou jammer moet wees nie.

    Ek hoop maar jy vind iewers vrede… en as jy dink dat dit wat jy nou het vrede is, sou ek graag jou gesig wou sien die dag wanneer God se vrede dan wel in jou lewe deurbreek.
    Vrede broer…

    1. Nee man, ek het nie kerke gevloek nie net my storie gedeel. Baie teleurgestel dat die ‘laster teen die kerk’ kaart al weer gespeel word maar!

      Nietemin, vrede vir julle ook!

    2. Barend,
      Hoe verder ek lees, hoe meer raak ek oortuig jy rook iets. Jy glo nie aan die Drie-Eenheid nie???
      Ek dink nie jy moet verder die fout in die verlede en by ander mense en kerke gaan loop en soek nie, Ek dink jy moet ‘n slag jou Bybel lees en na jou self kyk.
      Net terloops: As jy nie aan die Drie-eenheid glo nie, of skepties is daaroor, kom die word “Christen” nie eers ter sprake nie, want Christus is een van die Drie-eenheid. So, nee dan kan jy mos nie ‘n “Christen” genoem word nie, want jy is skepties oor die bestaan van Christus. Ek weet nie wat jy jou self dan moet noem nie, mar Christen is uit. As ek die WP ondersteun (sorry tog dat ek die naam in goeie geselskap noem) kan ek my self mos nie ‘n Bloubul noem nie.
      Ai tog Barend, kry net eers jou eie eendjies in ‘n ry voordat jy mense en kerke van die verlede blameer vir alles wat met jou gebeur het.
      Ek het in die begin gedink jy probeer net “anders wees” en nou glo ek dit want geen van jou redinasies en stellings maak enige sin nie..

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: