DIE HEL, DIT IS DIE TWEEDE DOOD

Ek het dit toe gewaag om Sondagaand oor die hel te preek. Vir die eerste keer in my hele lewe was dit die tema van ‘n preek. Ek het eintlik geen keuse gehad nie. Ons het ‘n kort reeksie uit Openbaring gedoen. Die teks waarby die tieners in die belydenisklaas verlede week vasgesteek het, was Openbaring 21:8:

“Maar die wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.” (Openbaring 21:8)

Hierdie week was Openbaring 21:27 deel van die teks wat ons gelees het:

“Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskryf is.”

Die probleem het ontstaan toe daardie groep tieners begin om uit te werk wie dit dan nou op die ou end is wat in die poel van vuur en swael gaan beland, of dan nou, die tweede dood gaan beleef. Dit was maklik om te sê moordenaars en afgodsdienaars en bedrieërs en losbandiges gaan daar beland. Die tieners daar was nie skuldig daaraan nie. Die ander was egter moeiliker. ‘n Tiener in wie se lewe die slapende reus van seksualiteit reeds wakker gemaak is, moes waarskynlik al ‘n hele paar keer in sy lewe hoor hoe onsedelik en sondig enige gedagtes oor seks is. Daarmee saam het ons dit weer en weer beklemtoon dat Openbaring geskryf is vir mense wie die risiko loop om doodgemaak te word indien hulle in Jesus Christus glo en iets of iemand anders as die keiser aanbid. Sommige Christene het dan inderdaad bang geword en nooit erken dat hulle glo nie. Ander het ontrou geraak en ontken dat hulle in Jesus glo. Wel die meeste van ons was al by geleentheid bang om te getuiog en te vertel dat ons eintlik in Jesus Christus glo. Ons soudalk ook skuldig bevind kan word aan ontrou. Dit was ook nie moeilik om die tieners daarop te wys dat indien ons so redeneer ons almal eintlik vir die poel van vuur, of die tweede dood bestem is.

Glo ek daar is ‘n hel?

Ja ek glo daar is ‘n hel! Ek is nie seker hoe en wat die hel gaan wees nie. Maar, ek glo daar is iets soos die tweede dood en dat die tweede dood bedoel is vir mense wat gekies het om nie die ewige lewe wat God in Christus Jesus aanbied te aanvaar nie. Ek glo dat daar mense is wie se name in die boek van die lewe en van die Lam geskryf is en mense wie se name nie in die boek van die lewe en van die Lam geskryf is nie. Ek glo nie dat alle mense op die ou end tog gered gaan word ongeag wat hulle op aarde geglo het nie. Ek is dus nie ‘n universalis nie. Ek onthou dat ek eendag gelees het dat CS Lewis geskryf het dat die hel (of die tweede dood) ‘n plek is waar God vir mense Hom dwarsdeur hulle lewe verwerp het, sê: “Thy will now be done!”

Indien daar nie ‘n tweede dood is nie, was die kruisdood van Jesus Christus onnodig. Dan was niemand mos ooit oppad na enige ander “plek” toe as na God toe nie. Dan kon God maar net die mensdom laat lewe het en as iemand dan dood gaan dan gebeur een van twee dinge. Of die persoon hou net op met bestaan (Wat meeste ateïste glo) of hy gaan dadelik na God toe, waar hy dan vir ewig en ewig in ‘n verheerlikte staat lewe. (Wat universaliste glo.) God word dus amper ‘n gepensioeneerde Skepper wat wag vir die dividende van sy handewerk om uit te betaal deurdat mense opdaag om Hom sonder ophou te aanbid.

Die tieners het met hierdie gedagte gewerk: “Goeie mense gaan na God toe. Kom ons kyk net wanneer is ‘n mens goed genoeg om na God toe te gaan.” Almal wat dan nie goed genoeg is nie, gaan nie na God toe nie, maar sal dan die tweede dood binnegaan. Hierdie is ‘n uiters eksklusiewe benadering. Eksklusief in die sin dat daar dan geen kans is dat ‘n slegte mense by God kan uitkom nie. En in alle eerlikheid, soos daardie jongmense redeneer het, sou ek dit ook nie gemaak het nie.

Met ander woorde om met die gedagte te leef dat God alle goeie mense gaan red, is om geen ruimte te laat vir God se genade nie. Mense word gered op grond van hulle goeie lewe en nie op grond van die genade van God nie. God het eerder daarvoor voorsiening gemaak dat goeie én slegte mense by Hom kan uitkom. Daarvoor het Hy sy Seun Jesus Christus gestuur en daarvoor het sy Seun aan die kruis gesterf en daarvoor het Hy die dood oorwin. Sodat die tweede dood die wat in Hom glo op geen manier kan raak nie.

Om die dood te oorwin was geen ligte saak nie. Ons kan maar net dink wat dit Jesus gekos het om die tweede dood, storm te loop en daar vir ons die oorwinning te gaan behaal. In Jesus sien ons die prys van God se liefde.

Wie dus die evangelie glo, gaan na God toe. Wie op hulle eie goedheid gered wil word, wel…

Het Jesus dit nie beklemtoon dat die koninkryk bedoel is vir die wat weet hoe sleg hulle is (sondaars en tollenaars en uitgevangde prosititute, ens) nie, terwyl die wat weet hoe goed hulle is (die Fariseërs en die Skrifgeleerdes en die ryk jongmanne ens), dit nie gaan maak nie. Maar die koninkryk is nie ‘n rowerspelonk waar net slegte mense genade ontvang nie. Daar was die dierbare goeie Nikodemus wat as getroue Fariseër tog geglo het dat Jesus die Messias was, en dan sekerlik tog ook Jesus se ma Maria en Lasarus en sy susters. Goeie mense wat dalk daarop aanspraak kon maak dat hulle goed genoeg lewe om in die Nuwe Jerusalem fees te vier. Maar, God se genade is ook vir goeie mense.

Met ander woorde die boodskap van God se genade is meer insluitend as ‘n boodskap wat verkondig dat God nie ‘n goeie mens verlore sal laat gaan nie. Die boodskap van God se genade sluit goeie en slegte mense in. Die boodskap dat God goeie mense hemel toe laat gaan, sluit slegte mense uit.

Maar wat probeer Openbaring 21:8 en 27 dan vir ons sê? Ek dink vers 27 help ons daar. “Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie.” Openbaring 21 en 22 beskryf in die eerste plek die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die belangrike punt is dat daar nie sulke goed in die nuwe hemel en die nuwe aarde en die Nuwe Jerusalem gaan wees nie. Daar gaan mense wees wat sulke dinge in hulle aardse lewe gedoen het, maar God sal ons volmaak beskerm. Eers teen onsself omdat ons in ons verheerlikte staat nie meer tot sulke goed in staat gaan wees nie en ook nie sulke goed sal wil doen nie en selfs nie van die bestaan van sulke goed bewus gaan wees nie, en tweedens gaan God ons ook teen ander beskerm deurdat niemand anders daardie dinge sal wil doen of sal doen nie.

Na Sondag-aand se preek het ek ‘n gesprek met die belydenisklas gehad. My eerste vraag was: Hoe het vanaand se preek jou laat voel. (Ek het darem nog ‘n paar ander goed ook gesê.) Hulle het eers in klein groepe van vier/vyf gesels. En toe het ek terugvoer gevra. In die een groep wys die hele groep toe na een dogter om te antwoord. Sy sê toe “Ek het ‘mixed emotions’ beleef.”

My eerste verwagting was dat sy gaan sê: “Ek was aan die een kant bang, maar aan die ander kant verlig. Bang dat ek dalk nie na God toe gaan nie en verlig dat ek kan weet, maar ek gaan na God toe. Haar antwoord was vir die hele groep ‘n mooi geleentheid. Sy het gesê:

“Ek het vanaand bewus geraak van hoe groot God se liefde is en dit het my rasend opgewonde gemaak. Maar, aan die anderkant het ek ook bewus geraak van hoe klein ek is, en hoe min ek dit alles verdien.”

Ons kan nie die Skrif ignoreer oor die feit van die hel of die tweede dood of dat daar sekere mense gaan wees wat van die koninkryk van God en van die Nuwe Jerusalem uitgesluit gaan wees nie. Daarmee bedoel ek dan die tweede dood. Indien iemand egter wil probeer om ‘n raak beskrywing te gee van hoe die hel of die tweede dood gaan wees en vir my gaan vra om te glo dat dit is hoe die hel gaan wees, dan is my antwoord dood eenvoudig: Ek glo nie in daardie hel nie. Ons het net nie genoeg inligting om ‘n duidelike prentjie te vorm van presies wat die hel of die tweede dood is nie.

8 thoughts on “DIE HEL, DIT IS DIE TWEEDE DOOD

Add yours

  1. Ek admireer jou vir die moed wat jy gehad het om oor die onbekende te praat. Wat vir my duidelik uitstaan is dat ons daarna moet strewe om GOD se 10 Gebooie uit te leef. Dit is ons versekering ons hoef dan nie verder te twyfel of bang wees vir die onbekende nie.

  2. Dankie, Attie. Sondag-aand was vir my ook lekker.
    Christelle: Ek het die saak dalk nou bietjie anders verstaan.

    Ek verstaan juis uit die lees van die stuk dat dit nie gaan oor hoe goed ek byvoorbeeld die 10 gebooie gehoorsaam het nie. Die 10 gebooie spel tog vir ons die lewe van dankbaarheid uit. ‘n Mens wat weet dat hy gered is en aan God behoort en eendag by God gaan uitkom leef gehoorsaam om daarmee sy dankbaarheid te wys.

    Wanneer het mens die 10 gebooie genoeg gehoorsaam om te kan weet?

    Wanneer het mens dan te veel kere nie die 10 gebooie gehoorsaam nie, in watter geval jy dan bang moet wees?

    Ek vra maar.

    1. Daar is nie ‘n “resep” nie. Elke mens sal dit vir homself moet uitwerk want niemand dink, doen en leef dieselfde nie.

  3. ek het my hartjie vir Jesus gegee toe ek 13jaar oud was….

    om in kort te beskryf het ek in die “happy clappy” soos my maats altyd gespot het, groot geword, en geleer dat ek nie mag lou word nie want dan spoeg God my uit, maar my hartjie het ek vir Jesus gegee met die opregtheid van ‘n kind, en ek het aan Hom beloof dat ek Hom sal dien en vir Hom sal werk, ek het selfs belowe om ‘n sendeling te word…….

    maar nodeloos om te sê, die lewe het my ‘n heel ander prentjie geleer van God en SY liefde, Hy het my gewys dat ek as arm jong dogter meer kan beteken as die rykste persoon op aarde deur net my hand uit te steek vir my medemens en liefde onvoorwaardelik te gee, selfs vir ‘n pappie wat my met mammie en twee sussies gelos het, sonder om te vertel waar sy liefde vir ons dan verdwyn het,. Hy het my geleer om myself uit die stof op te tel my kop te lig en vir die wêreld in die oë te kyk en te weet ek is ook ‘n Koningskind, en niks wat ek kan doen kan my SY liefde laat verdien nie, HY gee dit onvoorwaardelik en ek moet dit net in my hartjie inneem….

    vandag is ek ‘n selfstandige mens juis oor my armmoede en my eenvoudige agtergrond, ek is nie volmaak nie, maar SY liefde het my gered!!!!!!!!!

  4. Dankie attie dit is goed om sonder doekies omdraai die waarheid te lees.
    As God ‘n mens sou vra hoekom Hy jou in die hemel moet toelaat, is daar net een regte antwoord; Hy/sy het Jesus as persoonlike Saligmaker aangeneem. .

  5. Dankie Attie.Dit was nou leersaam gewees.Ek dink daar sal maar altyd ‘n mate van misterie rondom dit wees.
    Groetnis.

  6. Ek waardeer dat daar nog leraars is wat nie skroom om ‘n boodskap te lewer aangaande die hel nie. Wat ons wel weet is dat daar in die doderyk ‘n plek soos die hel is. Daar is so baie mense wat nie wil hoor dat die hel bestaan nie en dikwels stry teen die Woord van die Here. 1 Tessalonisense 9 se, die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van Sy magtige heerlikheid. Dit moet ‘n verskriklike plek van pyniging wees, as die rykman gesmeek het dat sy tong tog net afgekoel kan word.
    Groetnis

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: