OPENBARING:ALLES NUUT – DIESELFDE MAAR OOK NIE DIESELFDE

Ek preek eerskomende Sondag die laaste keer vir hierdie kort reeks uit Openbaring uit. Hierdie keer uit Openbaring 22 oor die Nuwe Jerusalem. Intussen werk my gedagtes nog met verlede week se preek ook. Ek dink byvoorbeeld dikwels hierdie week aan die hele gedagte dat God alles nuut sal maak.

“Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk ek maak alles nuut.'” (Openbaring 21:5)

Ek dink dikwels oor hierdie nuutmaak. Ek dink aan Jesus se verheerlikte liggaam na sy opstanding. Ek dink daaraan dat sy naaste dissipels Hom nie herken het nie. Eerstens het Maria in die tuin Hom nie herken nie. Maar toe Hy haar naam sê, toe herken sy Hom. Hy was dus anders, maar nie heeltemal anders nie. Toe het die twee dissipels oppad na Emmaus Hom nie herken nie. Eers toe Hy aan tafel die brood breek en die seën vra herken hulle Hom. Hy was ook daar anders, maar nie heeltemal anders nie. Maria hoor die bekende stem. Hulle beleef ‘n bekende handeling. Iets is dieselfde, maar alles is nie dieselfde nie.

Ek het Sondag in die diens ook vertel van die geelhouttafel in Renate se werkkamer. Die geelhouttafel was op hulle plaas ‘n tafel wat iewers in ‘n stoor gestaan het. Hy was bedek met verskillende lae verf. Tot eendag dat haar ma die verf op een hoekie afgekrap het en toe ontdek het dat daar onder die baie lae verf die mooiste geelhout is. Sy het onmiddelik die tafel gevat en begin om dit te restoureer. Met groot sorg is die lae verf verwyder totdat die oorspronklike hout na vore gekom het. Selfs toe was dit nog nodig om met baie fyn skuurpapier te werk om die laaste bietjie werf uit die barste en krakies uit te haal. Vandag is daardie tafel vir ons baie mooi en baie bruikbaar. Die tafel is anders, maar nie heeltemal anders nie.

Ek dink dit is iets soos hierdie wat God bedoel wanneer Hy sê dat Hy alles nuut gaan maak. Dit beteken nie dat alles eers tot niet gemaak gaan word en dan weer uit niks uit iets na vore gaan kom nie. God maak nie ‘n nuwe ding nie, God maak alles nuut. God gaan nie hierdie aarde en hierdie heelal vernietig en dan heeltemal ‘n nuwe aarde en ‘n nuwe heelal skep nie. God gaan hierdie aarde en hemel nuut maak. Dit gaan anders wees, maar nie heeltemal anders nie.

Maar hierdie nuutmaakproses is nou reeds aan die gang. God is nou reeds besig met ‘n nuutmaakprogram in my lewe, in elke ander gelowige se lewe en ook in die wêreld. Om missionêr te wees is niks anders as om by God se nuutmaakprogram in te skakel. Neem nou maar die natuur as ‘n voorbeeld. Iemand het by geleentheid vir Martin Luther gevra wat hy sou doen as hy geweet het die Here Jesus kom die volgende dag. Hy het geantwoord dat hy ‘n boom sou plant. Dit is moontlik dat ek vandag ‘n boom kan plant waaronder ek kan sit wanneer Jesus weer gekom het.

Maar so ook in die lewe van mense. Ek het onlangs die wonderlike voorreg gehad om met ‘n vrou te gesels wat vertel hoe sy deur die bediening van ons gemeente en die werk van die mense in ons gemeente, haar lewe aan die Here oorgegee het, nadat sy besef het dat sy die pad byster geraak het. Die gemeente se werk in die lewe van daardie vrou was deel van God se nuutmaakprogram.

Waarvoor bid mens dan in die lig hiervan. Eerstens dink ek dat God die goeie werk wat Hy in my lewe begin het sal klaarmaak. Tweedens bid ek dat Hy my oë sal oopmaak en my hart gewillig sal maak vir daar waar ek sien dat Hy besig is met sy nuutmaakprogram. Derdens sal ek bid dat sy koninkryk op aarde sal kom net soos in die hemel.

GEBED

Hemelse Vader, ek dank U vir die goeie en eintlik wonderbaarlike werk wat U in my lewe begin het en ook reeds gedoen het. Ek aanbid U as die Een wat op ‘n wonderlike manier my oë oopgemaak het vir die grootheid van U genade en die waarheid van die evangelie van Jesus Christus. Ek dank U vir elke oorwinning in my lewe en vir al die nuutmaakwerk wat U reeds gedoen het. Ek bid dat U sal voortgan met hierdie goeie werk wat U begin en dat U my sal vorm soos klei in die hand van die pottebakker. Laat my vandag en elke ander dag raaksien waar U aan die werk is en maak my deel van U nuutmaakprogram. Laat U koningkryk op aarde kom net soos in die hemel.

Amen

2 thoughts on “OPENBARING:ALLES NUUT – DIESELFDE MAAR OOK NIE DIESELFDE

Add yours

  1. Attie, Dit was met groot aandag dat ek die inskskrywing gelees het na die klomp twak wat in die pers verskyn het oor die bestaan, al dan nie, van die Satan en / of Duiwel. As Ben du Toit reg is in sy benadering is daar baie bladsye wat ek uit my Bebel moet skeur en weereens dink ek die saak is uiters swak gehanteer deur die mense “in beheer”. Kan ons nie maar aanvaar dat “die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind nie”…….? Dit maak tog nie saak of dit ‘n gees. uitgeskopte engel, ‘n person, of wat ook al is nie. Kom ons aanvaar net dat daar ‘n duiwel is in welke vorm ook al en verwar nie die kinders met sulke slim stories soos wat Ben du Toit en ander prober doen nie.

    Ek is egter baie dankbaar oor jou inskrywig oor die “nuwe hemel en die nuwe aarde” – baie nugter en skrifgetrou sonder om sekere voorskriftelik te wees. Jou gebed is ook reg en mooi. Bd dat God se wil in die hemel en op aarde sal geskied. Ek is glad geen kenner in die teologie nie, maar ek kan darem lees en die Vader het my gesën met ‘n gesonde verstand. Ek het eenkeer (jare gelede) ‘n reeks dienste bygewoon wat deur Ds. Fred Houpt (is reeds in die hiernaamaals) aangebied was in die EG Kerk, Rietfontein oor “die laaste dae” en was so ontsteld oor sy eensydige en krom voorspellings oor die “wegraaping”, einde van die wêreld, ens dat ek dit my saak gemaak het m ook bietjie die verskillende sienings oor die eskatologie te gaan “bestudeer” en ek doen dit steeds.
    Ek is nie so seker dat God wat die aarde geskape het en alles wat daarop is totaal gaan vernieting nie – vernader / vernuwe, “ja”, baie beslis. God het gesê dit was goed – die aarde. Dit is die mens (satan?) wat die sonde die aarde in gedra het en die aarde “nie goed” gmaak het nie. Wie is ons om te sê dat God nie weer die aarde gaan herstel / vernuwe soos Hy dit gemaak het en wil hê nie? My groot problem met die eskatologie is dat die mens (veral somming teoloë) voorskriftelik wil wees en aan God wil voorskryf hoe die einde van die wêreld soos ons dit vandag ken moet wees.
    Ek hou baie van wat jy geskryf het. Dit is duidelik dat jy ook nie presies weet nie, maar dit maak nie saak nie. Jy “dwing” nie jou wil en denkwyse” af op die lidmate nie, nee, laat laat ons dink. Ons behoort net te weet dat God in beheer is en dat God self sal besluit hoe, waar en wanneer.
    Wat belangrik is n die eskatologie is dat Jesus weer kom om ons te kom haal, dat God die aarde gaan “verander”, dat daar ‘n nuwe “Jerusalem” en ‘n nuwe aarde en ‘n nuwe hemel sal wees, waar Satan nie sal wees nie.
    Die vraag is nog altyd: Waar is die hemel? Die antwoord is eenvoudig: Daar waar Satan nie is nie. Ek weet dit is simplisties, maar ek dink ons moet vergeet van mense wat allerlei dinge onder die vaandel van verligte en vernuwe denke en teologie verkonding en terugkeer na “die dinge van ‘n kind” . Ek het gekies om maar te glo aan die Satan, en of hy nou net ‘n bose gees is of glad nie bestaan nie, of wat ook al. My Here waarsku my teen die Satan en dit sal ek maar bly glo.
    My Here sal my kom haal, met of sonder ander mense (op Sy tyd en soos Hy besluit) en as ons dit dan “die wegraaping” (rapture) wil doen, so be it. Al wat my Bybel vir my leer is om elke dag so te lewe dat ek gereed is sou dit vandag of môre gebeur.
    Ek kies om nie meer oor sekere dinge kommentaar te lewer op die blog nie, maar soms is daar iets wat my posiief stem, soos die inskrywing en dan gebuik ek te veel woorde en te veel kuiber ruimte om kommentaar te lewer.
    Jammer daaroor, maar waarvan die hart van vol is loop die mond van oor.
    Ek deel vanoggend jou gebed en dankie daarvoor. Dit is ‘n nuwe briesie in die deurmekaar wêreld van ons.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: