Ek het al voorheen uit Openbaring gepreek. Maar, nie dikwels nie. Openbaring was vir my net te veel van ‘n gelade boek. Gelade in die sin dat ek gedink het daar is net te veel “clutter” waardeur ek sal moet breek voordat ek regtig daarby kon uitkom om die boodskap van Openbaring te kan bring. In die tweede plek was Openbaring selfs vir my as predikant met ‘n bietjie teologiese studies agter my, ‘n uitdaging. Ek was net eenvoudig nie seker of ek daarin sou kon slaag om eers Openbaring self te verstaan sodat ek kan probeer om dit vir die kinders van die Here van ons gemeente duidelik te maak nie.
Hierdie jaar is ek gedwing om dit te doen. Die Revised Common Lectionary het vir die Sondae tussen Paasfees en Pinkster tekste uit Openbaring voorgeskryf. Ek is nou dankbaar daarvoor. Sondag preek ek die laaste keer uit Openbaring. Hierdie was vir my ook ‘n aangename reis. Ek het gister met ‘n paar mense gesels oor Openbaring. Openbaring 21:6 het eintlik die gesprek begin. In die vers sê die Een wat op die troon sit:
“Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde.”
Alfa en Omega is mos die eerste en die laaste letter van die Griekse Alfabet. Voor die eerste woord gespreek is, was God reeds daar. Hy is die Alfa. Wanneer die laaste woord gespreek word, sal God nog steeds daar wees. Hy is die Omega. Laat jou gedagtes so ver teruggaan as wat jy moontlik kan. Toe was God reeds daar. Hy is die Begin. Laat jou gedagtes nou so ver vorentoe gaan as wat jy kan. God sal nog steeds daar wees. Hy is die Einde. God is sonder begin en sonder einde en alles tussenin.
Met ander woorde, die Lam op die troon is ook die God van die geskiedenis. Hy is nog al die jare in die geskiedenis aan die werk. Ek dink hier is die punt waar Openbaring onverstaanbaar gemaak word. Openbaring word gelees as ‘n unieke boek met unieke simboliek en unieke betekenis. Wat bitter min met die res van die Bybel te make het. Johannes was egter ‘n kind van sy tyd wat geskryf het aan kinders van sy tyd. Openbaring gebruik sinboliek wat aan die eerste lesers bekend was.
Een voorbeeld hiervan is die nuwe hemel en die nuwe aarde. In Openbaring 21:1 staan daar:
“Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien.”
Hierdie is ‘n wonderlike belofte. Maar, dit is nie ‘n belofte uniek aan Openbaring nie. In Jesaja 65:17 staan daar:
“Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep; aan die wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie meer onthou word nie.”
Met ander woorde, wat die God wat nog altyd in die geskiedenis aan die werk is, nog altyd belowe het, is nou besig om in vervulling te gaan. Openbaring MOET gelees word terwyl ons die res van die Bybel in gedagte hou. Dit betekn, wanneer ek simboliek of beeld in Openbaring raaklees wat ek nie verstaan nie, dan moet ek heel eerste vir myself vra: Waar op ‘n ander plek in die Bybel word dieselfde beelde gebruik of naastenby dieselfde woorde gebruik? EK moet vra: Watter betekenis sou die eerste lesers aan hierdie simboliek of beeld geheg het?
As ons Openbaring so lees, dan word dit inderdaad ‘n boek van troos en bemoediging en hoop.
Openbaring is baie meer verkondiging as voorspelling.
Ek voel dieselfde oor die boek Openbaring. As ek dit so kan stel die “hart” van die Bybel. Mag die Heilige Gees ons verstand oopmaak sodat ons die heilige boodskap, helder en duidelik sal ontvang.
Hierop moet selfs ek met my absoluut gebrekkige teologiese kennis kommentaar lewer. Openbaring was maar altyd een van die boeke wat ek gelees het omdat dit deel van die Bybel is, maar verstaan was daar maar min van. Toe gaan koop en vir my Jan du Rand se A-Z van Openbaring en toe gaan die lig vir my op. Openbaring wat altyd die boek van veroordeling was word toe die boek van verlossing vir my. Wat ek graag deesdae vir mense sê is dat Openbaring nie gelees kan word soos Psalms nie, maar bietjie studie nodig het. Vadag lees ek graag alle kommentare oor Openbaring wat ek kan kry. Nadat ek Openbaring ‘n baie klein bietjie beter verstaan, het my sienning oor “die wegraaping” (rapture) ook verander. Miskien moet ons bietjie oor laasgenoemde onderwerp gedagtes wissel. Ek het vir jare gewag om weggeraap te word, maar vandag glo ek totaal anders, nadat ek die eskatologie in geheel probeer sien. Die nuwe hemel en die nuwe aarde, God by ons? Is dit nie dalk net ‘n nuwe aarde (hemel) net hier waar ons nou is nie? Gaan Gid nie dalk alles wat ons nou ken en beleef nuut gaan maak nie? Openbaring is vir my een van die heerlikste boeke op te bestudeer en daaroor te droom. ‘N nuwe hemel en ‘n nuwe aarde sonder die bose (let wel nie die duiwel nie – die bose). Lekker dag en lekker lees aan Openbaring.