GOD DROOG DIE TRANE AF

“… want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fontein met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.” (Op 7:17)

Hierdie reeksie wat ons uit Openbaring gedoen het, het my opnuut weer bewus gemaak van hoe Openbaring eintlik aansluit by die res van die Bybel. Openbaring is nie ‘n boek wat so apokalipties of toekomsgerig of vol simboliek en misterie is dat dit geen raakpunte met die res van die Bybel het nie. So byvoorbeeld is die herder metafoor ‘n bekende metafoor in die Ou Testament en die Nuwe Testament. Daar is natuurlik die baie bekende Psalm  23 (waaroor ek vroeër hierdie week geskryf geskryf het) maar dan is daar ook Jesus se uitspraak dat Hy die Goeie Herder is. (Johannes 10) Met ander woorde, wanneer God vir Johannes ‘n visioen gee oor hoe dit in die hemel is praat God met Johannes binne sy eie verstaansraamwerk. Johannes weet baie goed wat met die herder metafoor bedoel word en hy weet ook wat met die fonteien met die water van die lewe bedoel word. 

So werk God met elkeen van ons. Hy ontmoet ons waar ons is. Hy ontmoet ons in ons wêreld en ons in ons eie lewe en daar maak Hy homself aan ons bekend deur dit wat reeds aan ons bekend is. Hierdie manier waarop Hy met my kontak maak is soms so gewoon en alledaags, dat ek dit mis.

Maar hier is een metafoor wat dalk die maklikste is om te verstaan. “God sal al die trane van hulle oë afdroog.” (vers 17) Hierdie metafoor vertel vir my van God se persoonlike en tere betrokkenheid by elkeen van ons. Wat veroorsaak trane in jou lewe? Onthou twee dinge. Eerstens, in die nuwe hemel en aarde sal alles wat trane veroorsaak nie meer daar wees nie. Tweedens, is jou trane vir God so kosbaar en selfs “ontstellend” dat Hy self jou trane gaan afdroog.

Sondagaand het ek vir elkeen van die tieners ‘n “tissue” gegee. “Tissues” word gebruik om trane af te droog. Die wat wou kon toe die dag se datum en die teksvers (Openbaring 7:17) opsryf. Die “tissue” moes hulle herinner aan hoe dit in die hemel sal wees. Daar sal nie rede vir trane wees nie en God sal al die trane afdroog. In die belydenisklas na die tyd het een van die meisies gehuil. Ek weet hoekom, maar dit is nie nou belangrik nie. Die drie maats wat saam met haar in ‘n groepie was, het haar onmiddelik getroos en een het haar “tissue” gevat en die vriendin wat huil se trane afgedroog. God se koninkryk kom op die aarde net soos in die hemel.

‘n Klein bietjie hemel op aarde.

GEBED

Here Jesus, U is ook my getroue en goeie Herder. U het deur U kruisdood en opstanding ook vir my deel van U kudde gemaak. Dankie dat ek kan uitsien na die dag dat al die dinge wat op hierdie aarde soveel trane veroorsaak nie meer daar gaan wees nie. Dankie ook dat ek kan weet dat U persoonlik my trane gaan afdroog. Ek bid dat U ook in hierdie dag Uself deur die gewone en die alledaagse aan my bekend sal maak.

4 thoughts on “GOD DROOG DIE TRANE AF

Add yours

  1. Dit is heerlik om hier by jou te lees Ds. Attie en dit is voel so reg en goed om dié dinge waarin ek ook glo en soos ek dit glo; hier by jou raak te lees.

    Ek het al letterlik ervaar hoe Sy teenwoordigheid tydens intenshartseeromstandighede my reeds hier op aarde tasbaar aangeraak en vertroos het. Mag Sy Teenwoordigheid elkeen wat hier by jou lees, aanraak en hulle terugbring vir meer geestelikevoedding.

  2. Trane bring mense nader aan mekaar so ook met jou geloof as jy geestelike pyn het bring dit jou nader aan GOD. Dit is ook net die mense wat lief is vir jou en wat omgee wat jou gaan troos -liefde vloei dan hieruit. Baie dankie ONSE VADER dat u ons almal met liefde vertroos as ons harte seer is. Ons moet dankbaar wees vir hierdie seën oor ons lewe. Dankie Ds. Attie vir jou kosbare woorde vanoggend.

Lewer kommentaar op Meermin Kanselleer antwoord

Blog at WordPress.com.

Up ↑