‘N BIETJIE HEMEL OP AARDE

Openbaring is die boek wat mense se verbeelding aangryp. Die ryke simboliek en die misterieuse karakter van die boek maak dat mens elke keer dink daar is iets geheimsinnig wat hier ontsluit gaan word. In ons gemeente volg ons die Leesrooster en preek ons Sondae die tekste volgens die Revised Common Lectionary. Sedert Paassondag, toe ons die opstanding van die Here Jesus gevier het, preek ons uit Openbaring. Daar is nog twee Sondae oor. Sondag wat verby is, was dit Openbaring 7:9-17. Ons hanteer dan ook dieselfde teks in die kleuterkerk, die laerskoolkinders, die tieners en ook in ons kleingroepe.

9 Hierna het ek ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10 Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

 11 Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12 en gesê:
“Amen! Die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God
tot in alle ewigheid. Amen!”
13 Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?”
14 “Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.”
Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. 15 Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16 Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ‘n hittegloed ook nie, 17 want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”

Ek het Sondag tydens die aanddiens uit Openbaring 7:9-17 gepreek en daarna met die belydenisklas ‘n gesprek daaroor gevoer en gisteroggend by die Bybelstudie dit weer hanteer. Vir my bly die Woord elke keer lewend selfs al moes ek by drie verskillende geleenthede in een week dieselfde teks hanteer. Een van die dinge wat by my vassteek oor Openbaring 7 is die ontelbaar groot menigte voor die troon van die Lam.

Die groot menigte bestaan uit mense uit elke nasie, stam, volk en taal. (Vers 9) In my alledaagse lewe kom ek tog met mense in aanraking wat oor hierdie waarheid en werklikheid struikel. Hier geld it in besonder vir ons geslag en nog meer die geslag voor ons. Ons het groot geword (Die tieners in die belydenisklas sê Sondag-aand ons is ge-“brainwash”) met die basiese gedagte dat alle anderskleuriges  minderwaardig is in vergelyking met blankes en dat die res van die wêreld minderwaardig is in vergelyking met die blanke Afrikaner. Ons het selfs op ‘n manier die gedagte gekry dat ons, die Afrikaner, nou God se uitverkore volk is en nie meer Israel nie. Ek herinner my dat hierdie boodskappe soms subtiel en ander kere minder subtiel aan ons oorgedra is tydens die verpligte Jeugweerbaarheids-periodes toe ons op skool was. Ek onthou dat ons hele skool, in skooltyd, met busse aangery is, waarvoor die regering betaal het, om na John Vorster te gaan luister waar hy by ‘n groot saamtrek op Potchefstroom gepraat het. Ek onthou hoe hierdie boodskap tydens kapelaansperiodes in die weermag aan ons oorgedra is en hoe die oorlog wat ons, nie in die Sentraal Afrikaanse Republiek (CAR) nie, maar wel in Angola gevoer het, teologies geregverdig is.

Hierdie dinge maak dit vandag vir my moeilik om oor anderskleuriges as my gelyke te dink. Daarmee sê ek vir geen oomblik dat ek dink dat anderskleuriges minderwaardig is nie en dat ek nou een of ander vorm van regverdiging het vir die ding waarmee ek worstel nie. Ek het ‘n doelbewuste keuse gemaak om anders oor hulle te dink, maar dit is en bly moeilik, baie moeilik. Dit is net moeilik en dit maak dat ons geslag moeilik vrede maak met die gedagte dat groot menigte voor die troon van die Lam uit mense uit elke nasie, volk, stam en taal gaan bestaan.

Openbaring is vir my ‘n boek van hoop. Openbaring skets vir my ‘n prentjie van ‘n toekoms waar die dinge wat maak dat ons vraagtekens plaas oor die koningsheerskappy van God,  nie meer daar is nie. Spanning tussen mense waar die een minderwaardig as die ander geag word, maak dat ons vandag wonder of Jesus Christus dan wel die koning is. Dit geld vir verskillende rasse, maar ook waar vroue as minderwaardig beskou word.

Hierna sien ek uit. Ek sien uit na die dag wanneer ek volkome vrygemaak sal wees van my vooroordeel teenoor mense van ‘n ander ras en mense wat anders dink en anders voel as ek. Openbaring bring daardie hoop.

Maar tot dan, wat doen ons tot dan? Sal ons intussen aangaan om in ons onvolmaakte vooroordeel en hoogmoed en soms minagting om te gaan in die wete dat dit ten minste eendag op die nuwe aarde en die nuwe hemel anders gaan wees? Nee! Ek sal telkens weer teen my sondige menswees in kies om mense met wie ek in aanraking kom as my gelyke te behandel en te beskou.  Ek sal deur my optrede tekens oprig van hoe ek dink dit in hemel gaan wees wanneer al hierdie dinge nie meer daar is nie. Ek sal hard daaraan werk om ongelykhede reg te stel.

Ek dink ek het die geleentheid om op hierdie manier ‘n stukkie hemel op aarde te bring.

Maar, wat my die meeste aangryp is die atmosfeer van aanbidding wat Openbaring skets. Soos een van die kinders Sondag-aand sê: “Niemand het God aanbid omdat hy moet nie.” Aanbidding van God was ‘n natuurlike reaksie op die oorweldigende teenwoordigheid van God. Elke erediens is eintlik bedoel om iets hiervan te wees. Elke erediens is bedoel as ‘n geleentheid waar alles wat verhinder dat ek God se teenwoordigheid beleef, uit die weg geruim word, sodat ek Hom kan aanbid met my hele hart en my hele siel en my hele verstand en al my krag. Juis in die lig van Openbaring 7 het ons Sondagaand probeer om God se teenwoordigheid te beklemtoon. Ek het begin deur ‘n kers aan te steek en die wat daar is daaraan te herinner dat die kers nie maak dat God nou teenwoordig is nie. Die kers is die simbool van God se teenwoordigheid. Elke keer deur die loop van die erediens wanneer hulle die kers sien brand, dink daaraan: God is hier teenwoordig. Daarna het ek almal saam die Ons Vader gebed hardop laat bid. By die tyd wat ons by die laaste lied van ons lof en aanbidding gekom het, was daar ‘n atmosfeer van aanbidding wat tieners na die tyd vir my as ‘n “presence” beskryf het. Ons hte SOndga-aand tydens die aanddiens ‘n stukkie hemel op aarde beleef.

GEBED

Ek aanbid U vanoggend in U wonderlike grootheid en heerlikheid. U is die Een op die troon voor wie die menigte buig en wie hulle aanbid. “DIe lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid.” U is die Lam van God wat daardie menigte se herder is en hulle lei tot by die fonteine van die lewende water en U is die een wat al die trnae afdroog. EK aanbid U as die ewig teenwoordige God.

Amen

2 thoughts on “‘N BIETJIE HEMEL OP AARDE

Add yours

  1. My heelste eerste hemel-op-aarde ervaring was Desember 1983 aan huis van my Oupa se Sustershuis in Stilbaai. Haar man was opsterwe. My Pa-hulle het almal rondom sy bed gestaan en sy vrou het ons kinders een-vir-een nader geroep sodat die Oom ons kon groet. Oupa het vir ons almal in die kamer gebid. Met ‘n spierwit vadoek het die Tannie vir ons totsiens gewaai. Ek sal dit nooit-ooit in my hele lewe vergeet nie. Om GOD se teenwoordigheid te ervaar is hemels.

  2. Ek dink dit is ons elkeen se plig om ‘n stukkie hemel op aarde te skep met elkeen wie ons elke dag in aanraking kom.Ons sukkel maar hier in Suid-Afrika,en ek dink die kultuur verskille speel maar ‘n groot rol.Mense is maar inherent dieselfde waar ‘n mens ookal gaan.Ek het in my lewe al met baie verskillende nasionaliteite en kulture te doen gekry,maar as jy eers die mens agter die kultuur leer ken,is daar baie ooreenkomste en baie kan dan verrig word.Elkeen van ons kan beslis ‘n verskil maak.
    Groetnis.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: