Die primêre teks vir die week is Openbaring 7:9-17. Die ander tekste wat ons lees sluit aan daarby en neem die gedagtes en die metafore van Openbaring verder.
Vanoggend lees ek Johannes 10:23-32
22 Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. 23Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. 24 Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.”
25 Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. 26 Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27 My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30 Ek en die Vader is een.”31 Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig, 32 maar Jesus sê vir hulle: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?”
Ek mediteer vanoggend na aanleiding van die B.O.S.V.A.R.K.I.E. metode.
Watter BELOFTE is daar in hierdie gedeelte?
“My skape luister na My stem; Ek ken hulle en hulle volg My.” (27) Weereens koppel hierdie belofte aan die Openbaring teks waaroor dit hierdie week gegaan het. In die teks word daar melding gemaak van die Lam op die troon as die herder. Die herder metafoor is ook hier in hierdie teks aan die werk. Maar hierdie teks het ook die belofte of dan die versekering dat die Herder my ook ken. Dit is vir my ‘n belangrike belofte. God is nie ‘n God wat ons oproep om Hom te aanbid sodat Hy op sy troon kan sit en ons aanbidding of diens geniet nie. God gee net soveel in hierdie verhouding as ek. God sit nie eers terug en sê: Wel, Ek het my Seun gegee en Hy het aan die kruis gesterf en daarom moet jy my nou die res van jou lewe en hierna aanbid nie. Hierdie is ‘n verhouding. Ek ken God en God ken my.
“Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit in alle ewigheid verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (28) Openbaring gaan oor die hemel. Die vraag is dan dikwels: Wie gaan in die hemel wees? Die antwoord: Die aan wie Jesus Christus die ewige lewe gegee het. Sy skape wat na sy stem luister en Hom volg en wie Hy ook ken.
Die wat my Vader vir my gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.” (29) Dalk die belangrikste belofte of versekering. “Niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.” Die Here Jesus wil hê sy skape moet sekerheid en rustigheid hê.
Watter OPDRAG is hier om te gehoorsaam?
Hier is nie regtig ‘n opdrag om te gehoorsaam nie.
Watter SONDE is hier om te bely?
Hier is ook geen direkte sonde om te bely nie.
Watter VOORBEELD is hier om na te volg?
Jesus se voorbeeld is hier belangrik. Die Jode het fout gesoek met sy lewe. Maar hulle kon geen fout vind nie. Ek sou darem graag aan mense wou sê: “Die dade wat ek in die naam van my Vader doen, bewys wie ek is.” (Sien vers 25) Elkeen van ons is in ‘n posisie om dit te kan sê. Om in die 21ste eeu ‘n volgeling van Jesus te wees beteken nie dat jy alles los en Hom volg nie. Dit is hoe dissipelskap in Jesus se tyd gewerk het en vir die dissipels gewerk het. Na Jesus se hemelvaart is die nuwe volgelinge van Jesus veral terug na hulle leefwêrelde toe en daar het hulle as getuies van die opgestane Jesus gelewe. ‘n Getroue volgeling van Jesus wat in haar beroep as maatskaplike werker voluit vir Jesus lewe, is vir die koninkryk meer werd as een wat alles los en iewers die dag om gaan sit en mediteer. So ook die onderwyser en die rekenmeester en die motorwerktuigkundige en ma en die tiener. Ons kan Jesus se voorbeeld volg en deur ons dade wys wie ons is: Volgelinge van die Here Jesus Christus wat Hom ken en wie Hy ken en wat na sy stem luister en Hom volg.
Watter AFDWALING is hier om te vermy?
Een ding is vir my duidelik en dit is die Jode het nie gehoor wat hulle wou hoor nie. Hulle vra of Jesus die Christus is en wanneer Hy sê dat Hy dit is en deur sy lewe al gewys het dat Hy dit is, word hulle kwaad. Ek dink ek moet versigtig wees om nie kwaad te word wanneer ek nie hoor wat ek wil hoor nie. In die Jode se geval wou hulle Hom stenig. In my geval kan my hart hard raak en ek die Here op ‘n afstand hou. Om ‘n volgeling van Jesus te wees, impliseer soms dat ek dinge gaan hoor wat ek nie wil hoor nie. Maar dit is dikwels waar ek moet groei.
Watter REDE is hier om te loof?
Ek wil vanoggend die Here loof omdat Hy my ken en omdat Hy met my praat sodat ek sy stem kan hoor en Hom kan volg. Ek wil Hom loof omdat Hy vir my die ewige lewe gee en daarmee saam die sekerheid dat niemand my uit sy hand sal ruk nie. Hy ken my en Hy hou my in sy hand.
Watter KNIELGEBED is hier om te bid?
Ek skryf my gebed aan die einde.
Watter INGESTELDHEID is hier wat moet verander?
Dalk as ek die ingestedlheid van die Jode het wat net wil hoor wat ek wil hoor het ek iets om aan te werk. Aan die anderkant moet ek maar net weer toelaat dat Hy my rustig en seker maak dat ek aan Hom behoort en dat ek die ewige lewe het en dat niks my uit sy hand kan ruk nie. Maar ek moet ook die ingesteldheid hê dat die Here Jesus met my praat ek dat ek na sy stem moet luister en Hom moet volg. Maar, ek luister na sy stem en volg Hom sodat ek deur my dade kan bewys dat ek ‘n volgeling van Jesus is.
Is hier ‘n EGTHEID of ‘n WAARHEID om te glo?
Ek moet glo dat Jesus die Christus is; dat Hy met my praat; dat ek die ewige lewe het; dat niks of niemand tussen my en God kan kom nie.
GEBED
Heilige en ewige Hemelse Vader, U wat aan ons U Seun gegee het om ons met sy bloed te koop sodat ons U eiendom kan wees en U ons Vader kan wees. Ek aanbid U. Ek aanbid U omdat ek kan weet dat ek aan U en aan U Seun behoort. My hart is vol vrede in die wete dat ek aan U behoort en dat niemand my uit U hand kan ruk nie en niks of niemand tussen my en U kan kom nie. Dankie dat ek kan weet dat ek die ewige lewe het en dat ek deel gaan wees van daardie ontelbaar groot menigte wat U loof en aanbid in die nuwe Jerusalem. Vergewe my asseblief die kere wat ek U stem hoor, maar omdat dit nie is wat ek wil hoor nie, word ek ook maar soos die Jode in Johannes 10. Ek wil U voorbeeld volg en wanneer mense vra oor wie en wat ek is, wil ek hulle wys na die dinge wat ek doen. Gee dat my lewe en my getuienis bymekaar sal pas soos ‘n melodie en die woorde van ‘n lied. Laat my hele lewe U tot eer strek.
Amen
So mooi Attie, en dit is so als wat ons is en het – is net uit GOD se genade.
Wie GOD eerste stel in sy lewe sal nooit laaste wees nie. Dankie Attie vir die mooi gebed.
Annalize Van Wyk
Dis so mooi en waar want ek beleef dit in my lewe God sal my nooit los nie
en ek weet verseker niemand sal my uit Sy hand ruk nie.
Ek het hierdie gebed n paar keer oor gelees! En die woorde “gee dat my lewe en getuienis by mekaar sal pas” het my laat besef hoe n groot verantwoordelikheid ek in my daaglikse wandel het om Jesus te “leef” nie te praat!