LEEF JOU TABITA-TYD VOLUIT

20130412_160317Ek en Renate is terug van ‘n heerlike week by die see. Die Rustenburg ouma het vir die twee meisiekinders kom huishou sodat ons lekker by die see kan kuier. Ons het heerlike weer gehad en ek het elke dag twee keer geswem. Hierdie foto is die uitsig wat ons gehad het wanneer ons die slaapkamer se gordyne oopstoot.

In die kerklike jaar is ons nou in die tyd na die opstanding van Jesus Christus en voor Pinkster – die uitstorting van die Heilige Gees. Die opstanding van Jesus is ‘n heerlik oorweldigende werklikheid. In Handelinge 9:36-43 lees ons hoe Petrus vir Tabita uit die dood opwek.

36 In Joppe was daar ‘n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37 Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ‘n bokamer neergelê. 38  Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

 39 Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het.40 Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”
Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41 Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42 Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.
43 Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier.

Jesus het ook mense wat dood was weer lewendig gemaak. Dink maar aan Lasarus en die dogtertjie van Jaïrus. Hier doen Petrus dieselfde. Die groot verskil wat mens altyd moet beklemtoon is dat die mense soos Lasarus, die dogtertjie van Jaïrus en Tabita almal weer gesterf het. Maar, daarmee saam het hulle ook maar net teruggekeer om die werk wat hulle voorheen gedoen het voort te sit en die lewe wat hulle voorheen geleef het, aan te hou leef. Hulle was in dus dieselfde mense met dieselfde liggame.

Jesus was anders. Met sy dood was sy werk waarvoor Hy mens geword eintlik afgehandel. Sy laaste woorde aan die “Dit is volbring” beklemtoon dit ook. Na sy opstanding het  Jesus het verheerlikte liggaam gehad. Jesus was die eerste een wat uit die dood opgestaan het. Soos Hy sal elkeen wat in Hom glo ook uit die dood opstaan met ‘n verheerlikte liggaam. Wie in Hom glo sal nooit weer sterwe nie. Wie soos Hy uit die dood uit opstaan, sal soos Hy ‘n verheerlikte liggaam hê en soos Hy nooit weer sterwe nie. Wanneer ek sterwe, sal my werk op aarde afgehandel wees. Ek sal sterwe en dan vir ewig by God in die hemel lewe. In die eredienste gebruik ons Openbaring as tekste. Openbaring gee vir ons ‘n juis aanduiding van hoe dit in die hemel is. In die hemel het ons verheerlikte liggame wat Jesus ook na sy opstanding gehad het.

Tabita het opgestaan om haar goeie werk onder die weduwees en armes van Joppe voort te sit. Niemand weet hoe lank daarna nog nie. Maar Tabita sou weer sterf om haar oë by Jesus oop te maak en haar wit klere aan te trek.

Ek besef vanoggend dat ek met “Tabita-tyd” leef. Vir my was my bekering soos die begin van ‘n nuwe lewe. Ek het gevoel asof ek my oë oopmaak in ‘n nuwe wêreld. Daarna was daar weer een of twee sulke nuwe “beginne” in my lewe. Tabita het haar goeie werk onder die armes en die weduwees voortgesit. In plaas daarvan dat sy in die hemel was, het sy dit vir ander (die armes en die weduwees) hemel op aarde gemaak. Dit is Tabita-tyd.

Ons moet ons Tabity-tyd voluit leef.

GEBED

Hemelse Vader, dankie dat ek vanoggend weer daaraan herinner kan word dat U my ook met ‘n doel hier op aarde geplaas het. Deel van die doel is dat ek dit vir ander “hemel-op-aarde” moet maak. Maak in hierdie dag en elke ander dag my oë en my ore oop vir die mense in wie se lewe ek tekens van U heerskappy kan uitleef. Waar U heers, sal daar nie meer honger en naaktheid, gevaar of swaard, wees nie. Mense sal nie meer huil nie omdat U self hulle trane sal afdroog. Gebruik my intussen om mense se honger minder te maak en hulle naaktheid weg te steek en die gevaar minder te maak. Gebruik my in hierdie dag om hemel op aarde te bring.

Amen.

2 thoughts on “LEEF JOU TABITA-TYD VOLUIT

Add yours

  1. Dit is nog altyd vir my vreemd hoe mense hulle bekering hanteer. Mense laat hulle soms doop of oordoop, maar dit is ‘n onderwerp so sy eie. Ek het ook in my lewe verskeie kere soms baie naby en soms vêr van die Here gelewe en baie keer gewonder of ek elke keer weer “bekeer” word. Nee, ek is vam voor my geboorte God se kind en net soos ‘n aardse kind is ek soms ongehoorsaam en “stout”, maar ek bly altyd kind van my ouers. So glo ek dat ek ook altyd God se kind was en is, selfs al was ek “stout”.
    Alles kom dus weer terug na “verhoudings”. Ek moet elke dag werk aan my verhoudings – my verhouding met my medemens en my verhouding met God.
    Ek kan nie ‘n goeie verhouding met God hê as ek nie goeie verhoudings met my medemens het nie. Daarom moet ek eers by “die huis” begin as ek “uit die dood wil opstaan”. Goeie en gesonde verhoudings is die medisyne vir “opstaan uit die dood”. Dit is ‘n duur les wat ek geleer het en ek dank God dat ek dit kon verstaan en kon uitleef.

  2. Wat ‘n verrassing! – Ek het gedink Ds. is ook op ‘n vliegtuig iewers heen? Ek stem, dit is nodig vir getroude pare om so af en toe net weg te breek van als en almal.

    Ek kan my ook met vandag se tema vereenselwig, Johan druk dit ook baie mooi uit. Die seisoene van die lewe. Attie, dankie vir die mooi gebed vanoggend.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: