EK PRYS U HERE

Daar is nie nog iets wat my die teenwoordigheid van God meer bewustelik kan laat beleef as ‘n groep gelowiges (‘n gemeente) wat God loof en aanbid nie. Aangesien ek self bietjie musiek maak en saam met ‘n span die lof en aanbidding in ons gemeente lei, het ek ook al deur die jare geleer dat die vlak van die gemeente se gesamentlike aanbidding, selde my eie vlak van aanbidding oortref.

Ek dink hierdie gevolgtrekking kan dalk subjektief wees, maar dit hou my op my tone. Ek het ‘n verantwoordelikheid teenoor die gemeente om te sorg dat my persoonlike aanbidding op ‘n gesonde basis is. Daarom is die Psalms vir my besonders.

Psalm 118:14-24 en Psalm 150.

14 Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het!

15 Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars: “Die Here doen kragtige dade,
16 die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade!”
17 Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.
18 Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie.
19 Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.
20 Dit is die poort na die Here toe; regverdiges mag daardeur ingaan.
21 Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het.
22 Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.
23 Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë!
24 Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.
Psalm 150

1 Prys die Here! Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf!

2 Prys Hom oor sy kragtige dade, prys Hom in sy magtige grootheid!
3 Prys Hom met die ramshoring, prys Hom met harp en lier!
4 Prys Hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met snaarinstrumente en fluite!
5 Prys Hom met simbale, prys Hom met galmende simbale!
6 Laat alles wat asemhaal, die Here prys!
Prys die Here!
Ons het verlede week na dieselfde Psalm en dieselfde verse gekyk. Hierdie week week kom Psalm 150 net by. Verlede week het ek die MAAK DIT PERSOONLIK! metode gebruik. Vanoggend maak ek gebruik die BID DIT! metode. 

Ek skryf vanoggend ‘n gebed na aanleiding van die Psalms.

Here God Almagtig, U is my krag en my beskerming. Sonder U kan ek niks doen nie en sou my omstandighede lankal ondraaglik gewees het. U het my gered. Here, net U weet hoe baie persoonlik daardie woorde vir my is. Ek is baie bewus daarvan dat U, Here Jesus, aan die kruis gesterf het en my so gered het, maar daar was ook ‘n dag wat U in my lewe ingekom het en my van myself gered het. Daarvoor loof ek U vanoggend.

Elke keer as ek in die kerk is en ek die gemeente hoor wat U loof, dan dink ek aan hierdie vers wat sê: “Hoor die gejuig in die laer van die oorwuinnaars.” Dankie dat ek deur U genade deel mag wees van die laer van oorwinnaars. Dankie dat elkeen van U kinders deel kan wees van hierdie laer. Ons getuig met hart en mond hand en verstand dat U kragtige dade doen. U oorwin. U oorwin die dood. Here Jesus omdat U uit die dood opgestaan het kan ek getuig en juig: “Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe.” U laat my vir ewig lewe, maar U laat my ook lewe om van U magtige dade van oorwinning te getuig. Gee U vir my die woorde om van U te getuig. Gee u vir my die dade waarmee ek van U kan getuig.

Here, daar gebeur baie dinge in my lewe wat ek nie verstaan nie. Ek verstaan nie waarom dinge nie maar net maklik kan wees nie. Ek wonder soms of U my kasty vir een of ander iets. Maar, ek weet dat u nie kasty nie. Ek weet wel dat U vorm. Maar selfs as U vorm, is dit U wat hierdie dinge in my lewe toelaat. Selfs al sou dit so wees dat U hierdie moeilike dinge oor my laat kom, glo ek dat U dit laat gebeur sodat U dit weer kan gebruik. Dankie in elk geval dat ek mag weet dat U my nie aan die dood oorgegee het nie en nie aan die dood sal oorgee nie, omdat U my juis van die dood gered het. Ek bid net dat die harde dinge in my lewe, my nie hart sal maak nie.

Hemelse Vader, deur U kragtige dade het ek die wonderlike voorreg van U teenwoordigheid en nabyheid. Ek bid dat U vir my die tempelpoort wyd oop sal maak sodat ek sal weet van U teenwoordigheid, elke oomblik van hierdie dag. Maar ek wil in U teenwoordigheid wees om U te loof. Ek loof U vir  wat U vir my gedoen het deur aan die kruis te sterf en uit die dood op te staan. Ek loof U vir die lewe en vir my familie en vir my omstandighede wat soveel beter is as die oorgrote meerderheid mense in die wêreld. U het dit vir my moontlik gemaak om in U teenwoordigheid te wees deur my verhoduing met Uself te herstel. U is wonderlik, Here. Ek loof U omdat U my gebed verhoor het en my gered het.

Amen

6 thoughts on “EK PRYS U HERE

Add yours

  1. Toe ek die lees: Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars, wil ek net se dat DIE voete ook soms sukkel om stil te staan en ja JUIG die wil ek…… Hou aan die kitare slaan daar voor. Die orrel en die pype en die geluide is so mooi – maar DIE stem kan nie by daai note kom.

  2. Hallo Attie baie dankie vir die aanvaar die Here is ook my krag en Psalm en ek eer Hom vir vriende by wie ek kan leer en bemoediging kry.! Geseende dag vir jou en jou fam!

  3. Dankie, weereens ‘n rede om fees te vier want net die Lam is waardig om aanbid te word met lofgesang. Laat ons optrek in laers en saam met die harp en die siters ons stemme laat opgaan tot in die Troonkamer. God se seën toegebid op jou mooi werk.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: