GOD MEER GEHOORSAAM AS MENSE

Ek lees vanoggend Handelinge 5:27-32a.

27 Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle: 28 “Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.”

 29 Petrus en die ander apostels het geantwoord: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! 30 Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. 31 God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. 32 En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

 

Ek gebruik die “MAAK DIT PERSOONLIK! metode om oor die gedeelte na te dink. As ek die gedeelte persoonlik maak, dan lees dit so: 

“Ek, Attie, moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! 30 …God … het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. 31 God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. 32 En ek, Attie, is getuie hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

Ek besef nou opnuut dat ek aan God meer gehoorsaam moet wees as aan mense. Hierdie “meer gehoorsaam” kan ook anders gekwalifiseer word. God verwag van my absolute gehoorsaamheid, hoogste lojaliteit aan Hom en Hom alleen. Gister-oggend het ek tydens die erediens ‘n responsiewe skuldbelydenis gedoen. (Responsief beteken ek sê ‘n gedeelte, dan is daar weer ‘n gedeelte wat die gemeente sê.) Die laaste deel van die responsiewe skuldbelydenis was: 

Ek sê: Here Jesus, U het gesê: ‘As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.’

Gemeente sê: Here, vandag vergewe ons hulle wat ons te nagekom het. Soos wat U ons vergewe, vergewe ons hulle.

Hierdie bring my by die praktyk van vandag se gedeelte. God verwag van my om te vergewe die wat my te nagekom het. As ‘n ouer kan jy mense wat jou te nagekom het eintlik relatief maklik vergewe. Waarmee ek sukkel is mense wat my kinders te nagekom het. Ek moet God meer gehoorsaam wees as enige iets anders. Ook my eie worsteling om die mense wat my kinders te nagekom het te vergewe.

Iemand mag dalk vra: Maar, hoekom is dit so belangrik? Die antwoord is vir my: Ek is geroep, soos elke ander Christen, om getuie te wees van die opstanding van die Here Jesus. Die opstanding van Jesus beteken dat ek in die lewe hierna soos Jesus uit die dood opgewek gaan word en ‘n verheerlikte liggaam gaan hê. Maar, die opstanding van Jesus beteken vir my ook dat God hier en nou met my ‘n nuwe begin gemaak het. Ek het die verantwoordelikheid om die vrug van daardie nuwe begin uit te leef. So is ek getuie van die opstanding van die Here Jesus.

Vandag beteken daardie nuwe begin dat ek moet vergewe.

GEBED

Opgestane, Here Jesus, ek loof U vanoggend omdat U ook vir my, ‘n alledaagse en gewone mens geroep het om getuie van U opstanding te wees. Ek besef vanoggend dat hierdie roeping behels dat ek U meer gehoorsaam as enige iets en enige iemand anders. Ek moet te alle koste van U opstanding getuig. Ek moet daarvan vertel, maar ek moet dit ook leef. Gee my die genade om te weet wanneer ek moet praat en vertel oor U opstanding. Gee vir my die genade om die vrug te dra van ‘n mens met wie U nuut begin het. Vanoggend beteken dit vergifnis. Lei my, leer my, en help my hiermee.

Amen

2 thoughts on “GOD MEER GEHOORSAAM AS MENSE

Add yours

  1. Vanoggend val jou woorde Ds. Attie so sag op my hart. Als wat verkeerd gaan in mens se lewe moet jy om vergifnis vra en vergewe. Dit is seker die belangrikse werkwoord in ons handel en wandel. As jy vergewe is daar vrede en voorspoed.

    Ds. Attie al jou boodskappe het ‘n diep betekenis. Baie Dankie!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: