Lukas 24:1-12 vertel weereens die verhaal van die opstanding van die Here Jesus. Baie dieselfde as Johannes se weergawe.
Die metode waarvolgens ek na die gedeelte kyk, is die SIEN DIT! metode. Ek probeer my in een van die mense in die gebeure se skoene indink en raak dan bewus van wat ek beleef. In Sondag se preek het ek na aanleiding van Johannes 20:1-18 my in Maria Magdalena se situasie probeer indink.
Vir vanoggend wil ek weer in een van die vroue se posisie indink. Ek doen dit egter ook met ‘n spesifieke gebeure in my agterkop. Gisteraand toe lees ek weer op Kletskerk se Facebook van Nico Geldenhuys wat die lig gesien het (twee jaar terug al) en nou is die hele verhaal van die opstanding nie meer waar nie en die NG Kerk is baie lelik met hom omdat hulle hom nie toelaat om sy ongeloof uit te leef nie. So stel hy dit:
“Die NG Kerk laat haar lidmate in die steek wanneer hulle toelaat dat ernstige teoloë voor ringsittings gedaag word omdat hulle dit waag om vrae oor die Bybel se gesag te vra. U laat u lidmate in die steek wanneer u toelaat dat sogenaamde “behoudende” predikante die sosiale netwerke misbruik met fundamentalistiese, homofobiese haatspraak.”
‘n Bietjie verder skryf hy so:
Aan die einde van die Markus-evangelie stap twee niksvermoedende vroue op ‘n Sondagoggend ná Jesus se graf om sy lyk te behandel. By die grafkelder word hulle begroet deur ‘n Engel van die Here, wat aan hulle ‘n verrassende brokkie nuus meedeel: Die graf is leeg. Jesus is nie daarbinne nie, want hy het opgestaan! Die vroue is te geskok om iets te sê. Vreesbevange vlug hulle weg, en vertel vir niemand wat hulle gesien het nie.
Die verhaaltjie is nie waar nie, maar dit maak nie saak nie. Markus wil deur hierdie vertelling ‘n radikale uitdaging stel aan elke opregte soeker: Glo jy dat Jesus van Nasaret lewe, al het hy gesterf? Gaan jy, soos die vroue, in vrees wegvlug, omdat die nuus teen jou beterwete indruis? Of gaan jy, ten spyte van jou twyfel, ‘n geloofsprong neem en die boodskap van Pase omarm?
Ek is jammer vir Nico omdat hy voel soos hy voel. Ek het respek vir Nico omdat hy staan by sy standpunt. Maar ek stem nie saam met Nico oor ‘n paar dinge nie. Eerstens kan dit tog nie wees dat net die dominees wat dieselfde vrae as Nico oor die Bybel vra “ernstige teoloë” is nie. Dalk bedoel hy dat die wat vrae vra ook ernstige teoloëis.
Tweedens is dit nie net die dominees wat dink dat die opstanding nie regtig gebeur het wat ernstige vrae vir die Bybel vra nie. As dominees worstel die oorgrote meerderheid van ons met die Bybel en vrae ons ernstige vrae aan die Bybel, maar ons kom net nie tot dieselfde gevolgtrekking as Nico nie. Die oorweldigende getuienis van die Nuwe Testament bring ons tot die gevolgtrekking dat mens nie anders kan as om te glo Jesus werklik opgestaan het nie.
Maar aan die ander kant moet ‘n mens darem geweldig baie geloof moet hê en ‘n paar logiese spronge maak om te glo soos Nico wil hê dat ‘n mens moet glo. Ek moet glo dat Jesus lewe al het Hy gesterf? Ek moet die boodskap van Pase omarm. Wat is dan die boodskap van Pase? Die Boodskap van Pase volgens die Nuwe Testament is tog: Jesus is gekruisig, Jesus het gesterwe, Jesus is begrawe en Jesus het opgestaan. Jesus lewe. Nico glo dit nie. Jesus het nie opgestaan nie. Maar tog lewe Hy. Ek verstaan eerlikwaar nie.
In Lukas gaan die vroue vroeg die oggend graf toe juis omdat hulle glo dat Jesus dood is en nie gaan opstaan nie. Hulle kry nie die liggaam van die Here Jesus nie en hulle weet nie wat om daarvan te maak nie. (Vers 4) Die vroue het nie ‘n verwagting dat Jesus gaan opstaan nie.
Op die ou end is dit die engele wat vir hulle sê:
“Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy nog met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was.” (Vers 6)
In die Johannesevangelie duur die ongeloof oor Jesus se opstanding nog langer. Selfs nadat twee dissipels en Maria Magdalena die leë graf gesien het, glo hulle nog steeds dat Jesus dood is en dat iemand net sy liggaam op ‘n ander plek gaan begrawe het.
In die Lukas-evangelie haas die drie vroue hulle terug. Hulle gaan vertel vir die dissipels wat hulle by die graf beleef het. Dan eindig sommige mense se evangelie hier: “Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.” (Lukas 24:11) Vir die Nuwe Testamentiese skrywers eindig die verhaal egter nie hier nie. Volgens Lukas het Jesus eers aan die Emmausgangers verskyn. Toe die Emmausgangers in Jerusalem kom, toe hoor hulle die opgestane Here Jesus het ook aan Simon verskyn. Hulle was nog besig om te praat, toe staan Jesus daar tussen hulle.
Ek beskou myself as ‘n ernstige teoloog. Ek kan nie anders as om te sê: Op grond van wat ek in die Nuwe Testament lees (en op grond van historiese navorsing oor die historiese Jesus deur wetenskaplikes wat ek as ernstige teoloog tog lees) weet ek met my hele hart dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het en aan verskillende mense op verskillende tye en op verskillende plekke verskyn het.
Jesus het opgestaan! Openbaring 1 (Sondag-oggend se teks) praat van Jesus as “die eerste wat uit die dood opgestaan het.” Ek glo nie in God al is Jesus dood nie. Ek glo in God in die wete dat Jesus uit die dood opgestaan het en ek glo in God met die seker wete dat ek self, net soos Jesus, uit die dood opgewek sal word.
GEBED
Here Jesus, U het uit die dood opgestaan en die onmoontlike moontlik gemaak. U het vir my die weg gebaan, sodat ek ook nou met die verwagting leef om eendag self uit die dood op te staan. U het opgestaan en ‘n nuwe begin moontlik gemaak. U het opgestaan en die 0orwinning behaal. U is die Heerser van die heersers. U is die eerste en die laaste.
Amen
Ds. Attie, ek stem 100 % saam met jou JESUS CHRISTUS het wel opgestaan uit die dood. In Openbaring word die toekoms aan ons geopenbaar.
Hi Doom, dankie vir hierdie stukkie vandag en die herinnering deur die week dat Jesus opgestaan het.
Ouens soos hierdie Nico van wie jy hier praat pla my nie regtig nie. Ek verbaas my elke keer dat elkeen wat so ‘n tipe van ‘n “bekering” deurgaan dink dat hy die grootste ontdekking ooit gemaak het. Intussen word die opstanding van Jesus reg van die begin af bevraagteken.
Ek is lidmaat van die NG Kerk omdat ek dit wil wees. Ek is nie in die NG Kerk omdat ek deur iemand mislei word nie. Ek glo nie in die opstanding omdat ek nie vir myself kan dink nie. Ek glo dat Jesus liggaaamlik uit die dood opgestaan het omdat ek dit wil glo en omdat die Woord van God dit tog duidelik so leer. EK glo met my hart en siel en verstand en krag dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy lewe.
Groetnis, doom – en sterkte met jou voorbereiding vir Sondag.