DIE HERE IS MY KRAG EN MY BESKERMING

Vanoggend lees ek Psalm 118: 2-4 en 14-24. Die meditasie metode waarvan ek vanoggend gebruik maak is die MAAK DIT PERSOONLIK! metode.

Ek is weereens verbaas om te sien hoe die mense wat die tekste vir die Leesrooster uitwerk moeite doen. Sondag het ons die opstanding van die Here Jesus gevier en Psalm 118 jubel so mooi daaroor. Psalm 118 kan maklik ‘n pre-opstaningslied word wat deur ‘n post-opstandingsgelowige gesing word.

14 Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het!

15 Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars: “Die Here doen kragtige dade,
16 die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade!”
17 Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.
18 Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie.
19 Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.
20 Dit is die poort na die Here toe; regverdiges mag daardeur ingaan.
21 Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het.
22 Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.
23 Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë!
24 Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

Die gedagte met die MAAK DIT PERSOONLIK! metode is om die teks te lees asof dit op jouself van toepassing is. Die Psalmskrywers het gewoonlik reeds ‘n baie persoonlike aanslag omdat hulle in die eerste persoon skryf. Maar, ‘n mens kan ook die teks hanteer asof die Here dit vir jou persoonlik sê. Iets soos die volgende: (Lees gerus jou eie naam in.)

“Attie, Ek is jou krag en jou beskerming. Dit is Ek wat jou gered het!

Attie, hoor jy die gejuig in die laer van die oorwinnaars? Hulle jubel en juig oor wat ek gedoen het. Ek het ‘n kragtige daad gedoen. Hulle sing liedere omdat Ek oorwin het, getriomfeer het. Jy is nou deel van hierdie laer van oorwinnaars deur My Seun Jesus Christus.

Een ding kan jy weet, Attie, en dit is, jy sal nie sterwe nie. Jy sal lewe en getuig van die groot en wonderlike dinge wat Ek gedoen het. Ek het swaarkry oor jou laat kom, maar Ek het ook swaarkry oor my eie Seun laat kom. Ek het jou nie aan die dood oorgegee nie, maar dit is net omdat ek Hom aan die dood oorgegee het.

Attie, Ek maak die tempelpoort vir jou oop. Jy het nou vrye toegang na My toe. Ek wil hê jy moet daar inkom en My nabyheid en My teenwoordigheid beleef. Dit is die oorwinning wat Ek behaal het. Attie, jy is regverdig in My oë. Jy mag nader kom na My toe. Ek het jou gebed gehoor en verhoor en Ek het jou gered.

Ek wil hê jy moet verstaan dat Jesus die klip is wat deur die bouers verwerp en afgekeur is. Maar, nou is Hy die belangrikste steen in die nuwe tempel wat Ek besig is om te bou. Geen mens kan na hierdie magtige daad kyk en nie besef dat dit ‘n wonder is wat plaasgevind het nie. My Seun Jesus het uit die dood opgestaan. Nou is elke dag ‘n dag wat Ek gemaak waarin jy kan bly wees en waaroor jy kan juig. Elke dag is opstandingsdag.”

Hierdie metode het vir my in die 40 Dae in die Woord tydperk oopgegaan. Ek beleef dat die Here met my persoonlik besig raak wanneer ek ‘n teks op hierdie manier lees. Vir my is dit belangrik dat ek in my tyd alleen met die Here nie in die heel eerste plek wil hoor wat die Here vir iemand wil sê nie. Ek wil hoor wat Hy vir my wil sê. Hierdie metode help my daarmee.

As ek in hierdie tyd oor Psalm 118 moes preek, sou ek dit sonder twyfel gekoppel het aan die opstanding van Jesus. Jesus se opstanding is God se nuwe begin. God het ook met my nuut en oor begin. Elke môre is sy genade vir my nuut.

GEBED

Opgestane Here Jesus, ek jubel en juig oor die magtige daad wat U verrig het toe U uit die dood opgestaan het. Ek jubel en juig oor die nuwe begin wat U ook met my gemaak het. Ek wil deel wees van die laer van oorwinnaars wat U magtige dade besing. Ek wil vertel van die wonder wat U gedoen het. Ek wil deel wees van dit wat  U begin het deur die goeie werkw at U in my en in die wêreld begin het voort te sit.

Amen

One thought on “DIE HERE IS MY KRAG EN MY BESKERMING

Add yours

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: