JESUS SE OPSTANDING – MEER AS STERKER AS DIE DOOD

Ons lees vanoggend Jesaja 65:17-25, maar ek het die behoefte om iets te deel oor die opstanding van Jesus. Johannes 20:1-18 het opnuut weer my oë hiervoor oopgemaak.

Tydens Paasfees en dan in besonder op die Sondag van die opstanding hoor ek so dikwels dat Jesus vir ons die dood oorwin het en dat die graf Hom nie kon hou nie en dat God sterker is as die dood. Hierdie dinge is natuurlik onteenseglik waar. My enigste vraag is: Was dit dan ooit anders? Was daar dan ooit ‘n tyd toe God nie sterker was as die dood nie? As ons op soek is na ‘n God wat mense uit die dood laat opstaan, het ons nie die kruisiging en die opstanding nodig gehad nie. Lasarus is uit die dood opgewek en Jaïrus se dogter en selfs in die Ou Testament het Elia die weduwee van Sarfat se seuntjie uit die dood opgewek.

Ek is soms bekommerd dat ons dink dat die lewe na die dood iets sal wees soos Lasarus se opwekking waar ons maar net voortgaan met dit waarmee ons nog altyd besig was.

Maar Jesus se opstanding sê vir my soveel meer. Johannes is ‘n woordkunstenaar. Hy kies die woorde wat hy gebruik baie versigtig en die struktuur van sy evangelie is ook ‘n kunswerk. Wanneer mens dan lees hoe hy die grootste gebeure denkbaar oorvertel, dan moet jy hierdie dinge in gedagte hou.

Wanneer Maria Magdalena vir Jesus in die tuin raakloop herken sy Hom nie. Want Jesus het ‘n verheerlikte liggaam. ‘n Liggaam wat anders is. So anders dat sy nie haar geliefde leermeester herken nie. In die hele gesprek oor die aard van die opstandingsliggaam is hierdie belangrik. Ook ek en elke ander gelowige gaan met ‘n verheerlikte liggaam opstaan. Ons liggame sal nie dieselfde wees nie.

Die eerste woorde wat Jesus vir Maria sê is: Vir wie soek jy? Hier het dit vir my interessant geraak. Wanneer Jesus sy aardse bediening begin, is die eerste mense met wie Hy praat die dissipels van Johannes. Eerste en laaste woorde is vir enige skrywer belangrik. Die eerste woorde wat Jesus  in Johannes 1:38 sê: “Wat soek julle?” In die tuin is die eerste woorde wat Hy vir Maria sê: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” (Johannes 20:15) Hier begin die opstandingsera net soos die era van Jesus se aardse bediening met dieselfde woorde begin het. Jesus se opstanding lei ‘n nuwe era van bediening in. Jesus se opstanding bevestig dat Jesus reg was en dat Hy onskuldig was. Jesus se opstanding onthef Hom van enige blaam. God het Jesus opgewek omdat Hy onskuldig gesterf het. Jesus se opstanding bevestig dat Hy werklik is wie Hy gesê het Hy is.

Maria se verwarring van die identiteit Jesus het ‘n verdere belangrike punt. Sy verwar Hom met die tuinier. Dalk toevallig, maar ek is nie so seker nie. Johannes begin sy evangelie anders as enige een van die ander drie evangeliste. Hy begin by die begin. Johannes begin by die skepping. Johannes se verhaal gaan oor die Een deur wie alles tot stand gekom. Die Een wat daar was toe God alles geskep het. Die een deur wie niks wat bestaan tot stand gekom het nie.

Nou weet ons mos waar het die moeilikheid begin. Die moeilikheid het in ‘n tuin begin. Toe Adam en Eva nie die opdragte van die Tuinier gehoorsaam het nie. Die Tuinier het hulle uit die tuin uit gedryf en engele by die hekke van die Paradys gesit sodat Adam en Eva nie kon inkom nie.  In Johannes 20 verwar Maria Jesus met die tuinier. Ek dink Johannes wil vir ons sê: Met die opstanding van Jesus het God met sy skepping oor kom begin. Die opstanding is ‘n “nuwe begin” verhaal. Die opstanding is ‘n herhaling van die Skeppingsgebeure waar God as Herskepper met ons weer voor begin. Eva het die eerste vrug geëet. Maria het eerste die opgestane Jesus gesien en met Hom gepraat.

In die begin is die opdrag: gaan bewerk die aarde en vul die aarde met julle nageslag. In die NUWE begin is die opdrag: Gaan bewerk die aarde, die hele wêreld en vul die wêreld met die nageslag van die opgestane Here Jesus. Die opstanding gaan oor baie meer as net om vir my die lewe na die dood te verseker. Die opstanding bevestig dat Jesus onskuldig was. Die opstanding  bevestig dat Jesus se werk sal voortgaan, selfs na sy hemelvaart. Die opstanding bevestig dat selfs al sou die wêreld sy sterkste magte mobiliseer om die persoon en die werk van Jesus te vernietig, sal dit nie gebeur nie.

Jesus se woorde aan Maria is ook treffend:

Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is’ (Johannes 20:17)

Johannes begin die evangelie met die Woord wat vlees geword het. Johannes eindig sy evangelie met die vlees wat weer Woord word. Maar in hierdie woorde is daar ook die gedagte van ‘n nuwe verhouding wat moontlik gemaak word. Jesus praat van my Vader wat ook julle Vader is en my God wat ook julle God is. Vir my is dit alles deel van die nuwe begin. Na sy opstanding – en dan in besonder na Pinkster – sou elke volgeling van Jesus dieselfde verhouding met God die Vader kan hê as wat Jesus gehad het. Daar is nie meer engele voor die hekke van die paradys om te keer dat mense in die tuin ingaan nie. Die voorhangsel van die tempel het geskeur sê Matteus. ‘n Nuwe begin maak ‘n nuwe verhouding met nuwe intimiteit moontlik.

Maria gaan en gaan vertel. Sy sê: “Ek het die Here gesien!” Sy kon net sowel gesê het: “[Ek] het sy heerlikheid gesien, die heerlikhedi wat Hy as die enigste Seun van die vader het, vol genade en waarheid.” (Johannes 1:14)

Soveel meer as net sterker as die dood.

1 Kommentaar

Filed under Paastyd

One response to “JESUS SE OPSTANDING – MEER AS STERKER AS DIE DOOD

  1. Christelle van der Walt

    So ‘n rukkie gelede het ek ook verwys na Genesis 2: “GOD in die aandwindjie wandel en HY roep vir Adam en Eva nadat hulle gesondig het.” bedoelende dat ons dan nie moet wegkruip nie maar vorentoe kom en GOD antwoord, ons moet nie beskaamd wees nie.

    Ek het die kruisiging ook geassosieer met die skepping net soos Ds. dit hier vir ons mooi vertel.

    Goed geskryf Ds. Attie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s