Ek lees vanoogend Lukas 19:28-40 wat handel oor Jesus se intog in Jerusalem. Wanneer ek die teks die eerste keer vanoggend lees, tref dit my dat die dissipels hulle klere uittrek en voor Jesus op die pad oopsprei (Sien vers 36). Hulle het waarskynlik ook alte goed geweet watter profesië op daardie oomblik in vervulling gaan. Hier is die teksgedeelte:
28 Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe. 29 Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag: 30 “Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar ‘n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 31 En as iemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle antwoord: Die Here het hom nodig.”
32 Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het. 33 Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?”34 Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.”35 Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim. 36Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi.37Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. 38 Hulle het gesing:“Loof die Koning,Hy wat in die Naam van die Here kom!Vrede in die hemelen eer aan God in die hoogste hemel!”39 ‘n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u volgelinge!”40 Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”
Die metode wat ons vanoggend gebruik is die BID DIT! metode. Hierdie is ‘n verhalende gedeelte, so die SIEN DIT! metode sou beter gewerk het. Ek gaan die twee probeer kombineer.
Ek sien myself vanoggend as een van die twee dissipels wat gestuur word om die donkie te gaan haal. Ek is nou al vir amper drie jaar een van Jesus se dissipels. In hierdie drie jaar het ek Jesus goed leer ken en ek weet baie goed waartoe Hy in staat is. Hy het ons altyd weer verras met wat Hy doen en hoe Hy dit doen en die dinge wat Hy ons geleer het. Vandag is geen uitsondering nie. Hy stuur ons voor Hom uit na die dorp toe. Hy gee vir ons ‘n adres en sê daar staan ‘n donkie met ‘n vul. Ons moet die donkie gaan haal? Hoe weet Hy hierdie dinge? Hoe weet Hy van die donkie? Hoe weet hy dat die eienaar van die donkie tevrede sal wees met die woorde “Die Here het hom nodig!”. Die verbasende is dat die eienaar heeltemal tevrede is.
Ek was in elk geval nie baie opgewonde om Jerusalem toe te gaan nie. In die laaste tyd is die konflik tussen Jesus en die leiers van die Jode erg. Aan die ander kant kan mens ook nie op Paasfees wegbly van Jerusalem af nie. Oppad terug, nadat ons die hingsvul gekry het, het ek begin dink aan die teks in Sagaria. “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.” (Sagaria 9:9)
Skielik het die gebeure vir my so ‘n klein bietjie sin gemaak. Jesus het al baie kere vir ons gesê Hy is die Messias. Hier het ons nou vir Hom die hingsvul van ‘n donkie gaan haal. Vandag gaan Hy Jerusalem binne as sy koning. Ek en die ander dissipel het daaroor begin praat en toe ons by Jesus en die ander dissipels kom het ons vertel wat ons dink. Hulle het dadelik besef wat aan die gang is. Opgewonde oor ons koning het ons van ons klere voor hom oopgegooi.
Toe ons naby die stad kom, het die skare mense wat reeds daar was vir die Paasfees en wat reeds getuies was van al die wonderwerke wat Hy gedoen het, Hom uit vollebors besing. Nogal met die woorde van daardie bekende lied uit Psalm 118: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel.” (Psalm 118:26) Ek was so opgewonde oor hierdie ding. Hierdie man wat my een van sy vertrouelinge gemaak en my vir drie jaar baie naby aan Hom laat leef het, hierdie man ry Jerusalem binne en die mense ontvang Hom as hulle koning. Hierdie was wonderlik.
Die pretbederwer Fariseërs het natuurlik beswaar gemaak. Maar, soos altyd het Jesus ‘n antwoord gereed gehad: “As hulle stilbly sal die klippe dit uitroep.”
Ek kan nie beskryf hoe wonderlik dit vir my was om te besef dat Jesus die koning, die Messias is nie. Opgewonde om deel van sy binnekring te wees. Opgewonde oor wat vir ons voorlê.
GEBED
Hemelse Vader, die oomblik kan soms so heerlik en wonderlik wees. Ek wil vanoggend saam met die skare sing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel.” Ek besef vanoggend dat Jesus deur sy lyding, sterwe en opstanding werklik vrede in die hemel gebring het en al die eer aan God besorg het. Aan U kom toe al die eer. Ek aanbid U as daardie een wat weet waar die hingsvul was en wat om vir die eienaar te sê. Ek aanbid as die een wat ook my toekoms so in U hand hou. Gee aan my die genade om vol te hou met my lof aan U en nie my mantel na die wind te draai wanneer die skare anders begin roep nie.
Amen
Dit was heerlik om hierdie gedeelte as dissipel te kon meemaak. Die opgewondenheid en vreugde te kon aanvoel – oor die Messias, die Koning wat werklik gekom het! hoewel die gebeure wat gevolg het ons baie bedroef maak, ken ons vreugde oor ons Opgestane Here geen perke nie en die wete dat Jesus ons Verlosser leef, en dat ons saam met Hom tot ‘n nuwe lewe opgestaan het! Ons loof en prys die Koning Hy wat in die Naam van die Here gekom het!
Ek sing ook saam want dit is vir my net so kosbaar hierdie gedeelte. Voel of ek ook daar tussen die skare is en ek gooi ook my mantel en palmtakke voortuit op die paadjie vir JESUS.
Het Ds. geweet as jy na ‘n donkie se vel kyk is daar ‘n swartkruis op sy rug.
As die vel oopgegooi word sien mens dit duidelik. Een swartlyn loop oor die voorblaaie en die ander swartlyn regdeur op sy ruggraat.