THE ART OF CURATING WORSHIP (2)

Ek gaan ‘n paar artikels op die koffietafel plaas oor Mark Pierson se boek The Art of Curating Worship. Ek het reeds my eerste artikel HIER geplaas.

Vroeg in sy boek vra Pierson reeds twee baie belangrike vrae. Wat is kerk? en Wat is aanbidding? Hy antwoord dan elkeen van die vrae soos volg:

WAT IS KERK?

In my vorige skrywe het ek gemeld dat wat vir Pierson “kerk” is, is vir ons waarskynlik erediens. Hierdie gevolgtrekking van my word nog duideliker wanneer hy sy antwoord op die vraag gee. Sy eerste sin is: “Why do we come together as Christians at all? What do we come together to do that is important?” Met ander woorde, hoekom kom ons op ‘n Sondag bymekaar? Wat kom ons doen wat so belangrik is? Hy stel dit so:

“… the reason we come together as a church community is to sustain people in their following of Jesus Christ in the world, [and introduce others to that journey].”

Hy voeg die woorde in hakkies by vir die mense wat voel dat die “definisie” nie evangelisasie in gedagte hou nie. Ek hou nogal hiervan. Hoekom doen ons erediens? Ons doen erediens om mense te ondersteun in hulle volg van Jesus in hierdie wêreld. Met ander woorde, hier is nie ‘n veronderstelling dat daar saam met my in die erediens ‘n klomp mense is wat enige iets anders met hulle lewe wil doen as om in hulle alledaagse lewe volgelinge van Jesus te wees nie.

Is hierdie ‘n verkeerde veronderstelling?

WAT IS AANBIDDING?

Aanbidding is nie vir Pierson (en ook nie vir my nie) iets wat net gebeur wanneer ek sing of wanneer ek met my oë toe op God fokus nie. Aanbidding is wat in die erediens gebeur en dit is deur aanbidding in die erediens wat ons hoop om erediensgangers te ondersteun in hulle daaglikse lewe as volgelinge van Jesus. Pierson se definisie van aanbidding is dan:

Worship is a person or persons responding to the Trinitarian community of God, with heart, soul mind and strength (or as Eugene Peterson translates those words from Luke 10:27 in the Message, with “passion, prayer, intelligence  and muscle”).

Hierdie definisie is weereens ‘n belangrike definisie. Die definisie impliseer die teenwoordigheid van die drie-enige God en dat die erediensgangers begelei moet word om met hulle hele hart en hulle siel en hulle hele verstand en al hulle krag op die teenwoordige God te reageer. Mense verskil. Sommige mense is hart-mense; ander is siels-mense; ander is verstand-mense; ander is krag- of fisieke-mense. Maar goeie aanbidding maak dat my hele menswees op die teenwoordigheid van God reageer.

Die persoon wat dan die erediens-kurator (sien gister se artikel oor die titel of benaming) moet dan daaraan werk om die totale mens aan te spreek in die erediens.

Hoe dink en voel en praat mense oor aanbidding?

3 thoughts on “THE ART OF CURATING WORSHIP (2)

Add yours

  1. Hierdie verskillende tipes mense is vir my baie interessant,Attie.Nou wonder ek,veronderstel jou erediens-kurator is ‘n harts mens,sal hy nie dan vanuit ‘n harts oogpunt die mense aanspreek nie,en veronderstel die ontvanger is ‘n siels-mens,sal die persoon ook nie dan iets anders ervaar as wat die erediens-kurator probeer oordra nie?Ek wonder of ‘n mens so ‘n persoon sal kry wat aan al 4 eienskappe sal voldoen?
    Groetnis.

    1. Werner, ek dink die gedagte is juis dat kurators bewus sal wees van die verskillende mense sal verstaan wat dit is wat daardie mense “betrokke maak” by die erediens en dan in die erediens daarvoor ruimte sal laat. Dieselfde handeling of liturgiese element kan inderdaad vir verskillende mense verskillende ervarings of belewenisse gee. Die fout wat ons maak is om te dink almal reageer dieselfde op alles.

  2. Ek dink JESUS het al hierdie eienskappe met onderskeiding gehad.

    Ons almal het ‘n hart, siel en verstand en ons moet met als wat ons is en het daaraan werk om hierdie gawes wat GOD vir ons gegee het te gebruik om HOM te dien. Niks kom vanself nie – jy moet daaraan werk elke liewe dag en dit sal al hoe makliker raak vorentoe.

Lewer kommentaar op Christelle van der Walt Kanselleer antwoord

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑