DIT GAAN NIE OOR MY NIE

My voorbereiding vir die naweek se geleenthede maak my intens bewus van Jesus se lyding. Vir Vrydag-oggend se erediens werk ek rondom die Geluide van die Lydensweg. Geluide wat begin by die soldate wat kom om Jesus te arresteer en dan eindig by die geluid van die graf wat toegaan. Psalm 31 verwoord vir my iets van wat Jesus in daardie tyd moes gebid het. Ons weet van net een sinnetjie wat Hy in die tuin van Getsemané gebid het en dit is:

My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matteus 26:39)

Ons weet egter dat Jesus twee keer teruggekom het en twee keer sy dissipels aan die slaap gekry het en elke keer het Hy weer teruggegaan om verder te bid. Sonder twyfel moes Jesus Psalm 31 geken het. Ek wonder of dit dalk deel was van sy gebed daardie aand.

10 Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my.

11 My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit.
12 Ek is die spot van al my teëstanders, veral van my bure, ‘n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien, vlug vir my.
13 Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is, ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan.
14 Ek hoor dreigemente van baie; dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam en smee planne om my lewe te neem.
15 Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God.
16 My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!

Die metode waarna ek vanoggend na die Psalm kyk is die MAAK DIT PERSOONLIK! metode. Net soos verlede is dit half onnodig want die skrywer het dit klaar in die eerste persoon geskryf. Maar, hoe sou dit klink as God self hierdie woorde vanoggend sou sê:

Dalk iets soos:

Ek hoor jou roep om genade. Ek sien jou nood. Ek sien hoe die swaarkry en die lyding jou hele menswees aantas. Selfs jou liggaaam begin daaronder ly. Ek sien hoe jou teenstanders jou spot en veral die wat jou goed ken. Hulle wil dit eintlik nie meer naby aan jou waag nie. Wanneer mense jou in die straat sien aankom, loop hulle draaie rondom jou omdat hulle nie met jou wil praat nie.

Ek sien dat jy voel dat niemand meer vir jou omgee nie en dat mense maak asof jy nie bestaan nie. Ek weet van al die driegemente wat uit soveel oorde na jou kant toe kom. Jy voel selfs dat mense daarop uit is om jou lewe te neem.

Maar, jy doen die regte ding deur op My te vertrou. Jy is reg, Ek is jou God. Jou tye is in My hand en ek sal jou red uit die hand van jou vyande en jou vervolgers.

Ek besef dat die kort gebed wat ons van Jesus weet nie verhoor is nie. Die beker het nie by Hom verbygegaan nie. Maar ons weet ook dat God Hom tog op ‘n heel onverwagse manier van sy vyande en vervolgers gered het. Op die ou end was sy tye in die hand van Sy Vader. Psalm 31 laat my egter vanoggend ook besef dat God eintlik nog nie nodig gehad het om so met my te praat nie. Ek was en is nie in ‘n situasie wat sulke gebede regverdig nie.

Hierdie lydensweek van Jesus maak my bewus van Jesus se lyding. Dit gaan nie oor my nie. DIt gaan oor sy lyding en dit wat Hy moes deurgaan om vir my verlossing te bewerk. As mens, ‘n bang mens, wat elke sweepslag gevoel het en elke klap ervaar het, het Hy nie kans gesien vir dit wat Hy geweet het voorlê nie. Hierdie lydingsweek maak my opnuut bewus van waarom ek my lewe aan Jesus wil toewy. Oor die prys wat Hy betaal het. En dalk gaan toewyding op die ou end oor die aanhoudende herhaling van hierdie sinnetjie: Dit gaan nie oor my nie. DIt gaan nie oor my nie.

Ek stap dus vanoggend weg van Psalm 31 met die gedagte: Dit gaan nie alles oor my nie. Dit gaan alles net oor Jesus.

GEBED

Here Jesus, ek buig vanoggend met my lewe laag voor U. Ek dink vanoggend aan hoe ek somtyds by U kom kla oor dingetjies wat in my lewe skeefloop en nie uitwerk soos ek wil nie. Maar U Gees wys my op die lydensbeker wat U moes drink. Vergewe my die kere wat ek dink dat alles oor my gaan. Vergewe my die kere wat ek eintlik meer toegewy is aan myself as enige iets of  enige iemand anders, insluitend U. Soos U U Vader en my Vader met U lewe vertrou het, so wil ek my lewe opnuut aan Hom toevertrou. My tye is in U hand. Help my om te aanvaar as U die uitkoms op ander maniere gee as wat ek gedink het dit moet wees. Help my om altyd op U te bly vertrou.

Amen

6 thoughts on “DIT GAAN NIE OOR MY NIE

Add yours

  1. Tyd, tye en halwe tyd skryf die psalmis elders oor God se beheer in die skepping. Die enkele oomblik (tyd) van eensaamheid van Jesus het veroorsaak dat elke gelowige die tydsbegrip van die ewigheid nie hoef te verstaan nie, maar kan uitleef. Die konsep tyd het in lydingstyd nie n 24-uur skedule nie. Dankie vir die post.

  2. Dankie Doom vir hierdie stukkie vanoggend. Ek dink ook nou bietjie anders oor toewyding. Ek is nie toegewy aan Jesus omdat Hy dit eis nie. Ek is aan Hom toegewy omdat ek nie anders kan nie. Selfs die Groot Opdrag gaan vir my nie noodwendig oor iets wat ek te alle koste moet gehoorsaam anders… Die Groot Opdrag is vir my Jesus se manier om te sê: Ek sien jou toewyding. Hier is die manier waarop jy jou toewyding kan uitleef: Gaan maak dissipels.

    ‘n Geseënde Pase vir Doom en die gemeente en die koffie-drinkers.

  3. Ds. Attie ek dink ek is nou amper op datum met al die pos en het nou al amper te veel geskryf.

    Nog iets waaroor ek nagedink het daar onder die sterre hemel: Weet julle hoe dors moes JESUS gewees het terwyl HY daar aan die kruis gehang het.
    Ek bly daaraan dink. Ek praat nie eens van die pyn nie. Die dors julle!

  4. En daardie Donderdagaand moes ek my telkens bewus maak – dit gaan nie hier oor jou nie. Dit gaan nie hier oor kollegas rondom jou en doellose gevegte teen ‘City of Tshwane” – want hoe onskuldig jy ookal is – jy sal betaal – ongeag. Dit laat my weer dink aan wie ons regters is? Die wat ‘n onskuld moet bewys al dan nie. Ek besef net weer opnuut – hul kan jou geld vat, hul kan jou goed vat – ja alles wat hul kan sien, maar jou spesiale menswees behoort aan Hom. Tough times don’t last – tough people do! Ek sal hierdie Paasfees wat verby is sekerlik nooit vergeet nie. Dankie ook dat julle dit daar so spesiaal gemaak het.

    1. Linda; Paasfees is vir my die belangrikste deel van Paasfees. In SUid-Afrika is dit altyd in die vakansie en mis ons dikwels so baie omdat “almal weg is met vakansie”. Ons het lank terug ‘n besluit geneem om nie met Paasfees weg van die gemeente te wees nie en dan ook hard daaraan te werk om Paasfees werklik ‘n Paasfees te maak. Die gemeente is egter so getrou deur alles so saam te beleef dat dit alles net nog meer spesiaal maak.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: