Vanoggend lees ek Jesaja 50:4-9 en ek herkou die teks en bedink die teks na aanleiding van die ONDERSOEK DIT! metode en die akroniem B.O.S.V.A.R.K.I.E.
Eers die teks:
4 Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister. 5 Die Here my God het my geleer om te luister: ek was nie teen Hom opstandig nie, ek was nie ontrou aan Hom nie. 6 Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.
7 Die Here my God help my, ek sal nie teleurgestel staan nie; ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.8 Hy wat my onskuldig sal verklaar, is naby; wie wil ‘n aanklag teen my inbring? Laat ons elkeen sy saak stel. Wie wil my aankla? Laat hom vorentoe kom.9 Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar? Dit is verby met almal wat my beskuldig, soos met ‘n lap wat deur motte gevreet word.
Ons is in wat bekend staan as die Groot Heilige Week. Die week waarin die kerk dwarsoor die wêreld Jesus se lyding en kruisiging en sterwe in herinnering roep. Gister het kerke dwarsoor die wêreld Palm Sondag gevier. Die dag waarop Jesus die laaste keer Jerusalem binne gegaan het en mense Hom met waaiende palmtakke verwelkom het. Wanneer ek nou hierdie gedeelte lees, kan ek nie anders as om te dink aan Jesus nie. Ek dink in besonder aan vers 6:
Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.
In ‘n groot mate die dinge wat Jesus in hierdie week voor sy dood beleef het.
Is hier ‘n BELOFTE om toe te eien?
Ek kry in die gedeelte die belofte dat die Here my sal leer om na Hom te luister. (Vers 5) Ons leef natuurlik in die tyd na Pinkster en anders in as in die Ou Testament woon en werk die Heilige Gees in elkeen van God se kinders. Maar… ek wonder darem of ons dit nie as vanselfsprekend aanvaar dat ons die onderskeid tussen die leiding van die Heilige Gees en my eie insig sal ken nie. Alhoewel die Heilige Gees nooit by ons eie verstand en insig verbywek nie, is daar tog tye in ons lewe wanneer ons in geloof moet uitstaap en dinge moet doen, selfs al maak dit nie logies sin nie.
Ek wil egter ook ‘n belofte sien in vers 6 en 7 dat ek kan weet dat nie in die verleentheid sal kom of teleurgestel sal staan nie. Met ander woorde, God is ook saam met in my stryd omdat ek saam met Hom in sy stryd is.
Is hier ‘n OPDRAG om te gehoorsaam?
Hier is geen direkte opdrag nie, maar wanneer ons kyk na voorbeeld om na te volg. Sal die praktyk dalk blyk.
Is hier ‘n SONDE om te bely?
Ek sou wonder of die kere wat ek “terugslaan” of met skerp woorde “terug reageer”, nie dalk ‘n sonde is wat ek moet bely nie. Ek besef net dat hierdie skrywer sake in die Here se hande gelos het. “Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar?” (Vers 9a) Dalk meer die dinge in die Here se hande laat en nie self probeer om alles te “fix” nie.
Is hier ‘n VOORBEELD om na te volg?
Hier het ons die lydende kneg of profeet. ‘n Profeet met ‘n duidelike roeping wat weet waarvoor die Here hom in hierdie tyd in hierdie omstandighede tussen hierdie mense geplaas het. “… sodat ek die wat moeg is kan moed inpraat.” (Vers 4b) Om dit te kan doen het die Here hom geleer om die regte woorde te gebruik. (Vers 4a)
Ek dink vanoggend aan die geleentheid toe ‘n vropu aan my probeer verduidelik het dat die Here aan haar die gawe van kritiek gegee en dat sy nie anders kan as om te kristiseer nie, en as sy nie kritiseer nie, gaan sy ongehoorsaam wees aan die Here. Eerstens is daar geen aanduiding in die Skrif van so ‘n gawe nie, maar tweedens weet almal van ons hoe seer mense maak wat net altyd fout vind en kristiseer.
“Elke môre laat Hy my opnuut weer luister soos ‘n leerling moet luister.” (Vers 4c) Ek kry die prentjie van ‘n profeet wat by die voete van sy mentor sit en daar sy omstandighede uitspel en dan deur sy mentor gehelp word sodat hy daaruit gaan met die gepaste reaksie in gepaste omstandighede. Die voorbeeld wat ek graag wil navolg is om die geestelike dissipline van “luister” op so ‘n manier in my lewe te vestig sodat ek ook die wat moeg is kan moed inpraat.
Ek dink Christene en die wêreld is moeg om te hoor hoe ver hulle van God af is en hoe verlore is en hoe hulle (meestal die kerk) God in die steek gelaat het. Ek dink Christene in die wêreld en ook die wêreld het nodig om moed ingepraat te word. Die woorde van bemoediging kom egter uit tye van “luister”. Dié voorbeeld wil ek graag navolg.
Maar dan ook die voorbeeld van nie terugbaklei nie. “Ek het my rug gehou vir die wat my slaan , my wang vir die wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.” (Vers 6) Ek kan nie met dieselfde mond moed inpraat en baklei nie.
Maar, dit beteken nie dat daar nie onreg sal wees en dit beteken nie dat daar nie valse beskuldigings sal wees nie. Maar die voorbeeld wat die profeet vir ons stel is om dit in God se hande te laat. (Sien vers 9) Ek is hier om te bemoedig. God doen die res.
Is hier ‘n AFDWALING om te vermy?
Ek sien geen waarskuwing teen ‘n afdwaling nie.
Is hier REDE om te loof?
Ek sal die Here vanoggend graag wil loof vir die gawe van die Heilige Gees. Dit is die Heilige Gees wat my leer om te luister. Ek sal die Here graag wil loof omdat Hy my in hierdie tyd op hierdie plek tussen hierdie mense gesit het om hulle moed in te praat. Ek sal die Here graag wil loof omdat Hy my saak vir my behartig en ek nie bekommerd hoef te wees oor teleurstelling en uitbuiting en skande en verleentheid nie. Hy help my en daarvoor loof ek Hom.
Is hier ‘n KNIELGEBED om te bid?
Ek skryf ‘n gebed aan die einde.
Is hier ‘n EGTHEID of WAARHEID om te glo?
Ek moet vanoggend net glo dat die Here my sal leer wat dit beteken om te luister. Ek weet Hy gaan nie vir my in my stilword tye die woorde gee wat ek in elke situasie deur die loop van elke dag moet sê nie, maar ek verwag dat ek in my stiltye van nadink gaan leer hoe die stem van die Heilige Gees klink sodat ek sy leiding kan beleef wanneer ek in watter situasie ookal mense moet moed inpraat. Die ander groot waarheid is God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?
GEBED
Here Jesus in hierdie week is ek intens bewus van U lyding. Ek wil U aanbid as die lydende Kneg van God wat vir my en elke ander mens hierdie dinge beleef het wat hier beskryf word. Tog het U nie teruggedeins nie. U het die lydenspad enduit geloop. Hemelse Vader ek sien in die lewe van Jesus dat U U seun nie in die steek gelaat het nie. Alhoewel hy verneder en gespot en bespoeg en geslaan is, het U Hom verhef tot die hoogste eer: ‘n Plek aan U eie Regterhand.
Ek wil in navolging van U ook vir hierdie mense tussen wie U my geplaas het moed inpraat. Ek het nie altyd die regte woorde nie, maar ek steun op U Heilige Gees dat ek U in my tye alleen met my op so ‘n manier gaan praat dat ek U stem duidelik gaan hoor wanneer ek tussen mense is.
Amen
Wat ‘n genade om te weet dat God ons NOOIT in die steek sal laat nie, selfs nie in die moeilikste omstandighede nie.
EN dat Jesus dit aan die kruis so mooi gewys het.