KOM DOEN DIT, HERE!

Die sesde meditasie metode wat ons geleer het, is die “BID DIT! metode. Die BID DIT! metode is ‘n eintlik baie naby aan die MAAK DIT PERSOONLIK! metode.

Vanoggend gaan die na aanleiding van Jesaja 43:16-21 ‘n gebed bid. Lees eers die teks voordat jy my gebed onder lees.

16So sê die Here,

Hy wat ‘n pad gemaak het deur die see,
‘n deurgang deur die magtige waters,
17Hy wat strydwaens en perde laat optrek het,
‘n leër op volle sterkte na sy ondergang toe.
Hulle kon nie weer opstaan nie,
dit was klaar met hulle,
hulle is soos ‘n lamppit uitgedoof.
18Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink
en by die verlede stilstaan nie.
19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit staan op die punt om te gebeur,
julle kan dit al sien kom;
Ek maak in die woestyn ‘n pad,
Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.
20Die wilde diere sal My vereer,
die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn,
riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk, se dors te les.
21Dit is die volk wat Ek vir My geskep het,
en wat my lof sal verkondig.

Here God, en aanbid U vanoggend as die Een wat Uself in die geskiedenis aan ons geopenbaar het as die almagtige God. In Jesaja 43 lees ek dat U ‘n pad gemaak het deur die see en ‘n deurgang deur magtige waters. U is almagtig Here.

In hierdie lydenstyd waarin ons nou is, kan ek ook nie anders as om te dink aan U Seun Jesus Christus en die manier waarop Hy deur sy lyding en sterwe vir ons die pad oopgemaak het na U toe nie. Dankie Here Jesus dat U self deur die diep waters van helse smart gegaan het om verlossing vir my en elke ander mens moontlik te maak.

Maar vanoggend besef ek ook dat daar in my eie lewe die kere was wat U ‘n pad deur die see en ‘n deurgang deur die magtige waters gemaak het. Vergewe my as ek U magtige dade vergeet wanneer ek met ‘n volgende uitdaging gekonfronteer word.

Die Bybel herinner ons hoe U die magtige Egiptenare vernietig het en ook hoe die Een uit die nageslag van Adam die slang se kop finaal vermorsel het. Herinner my deur U Gees elke keer daaraan wanneer ek dink dat die slang besig is om sy kop op te tel. Herinner my daaraan dat U oorwinning finaal was en dat hy nie weer kan opstaan nie.

Maar ek wil nie net aan die vroeëre dinge dink nie. Toe die profeet Jesaja hierdie woorde geskryf het, was die sterwe en opstanding van Jesus iewers in die toekoms. Vandag is dit in ons verlede. Maar ek sien ook uit na die nuwe dinge wat U gaan doen. Ek sien uit na die nuwe hemel en die nuwe aarde waar ek en elke ander kind van U saam met U en U Seun Jesus Christus die bruilofsmaal van die Lam gaan vier.

Maar ek weet dat U “nuwe ding” nie beperk is tot een dag iewers in die toekoms nie. Ek weet dat U vandag ook vir die volk wat U vir Uself geskep het, die kerk, hierdie gemeente, iets nuuts beplan. Ek weet diep binne in my dat U in die woestyn ‘n pad maak en dat U riviere in die droë wêreld laat ontspring. Leer my om nie by die suksesse of mislukking van die verlede stil te staan nie. Leer my om met verwagting die toekoms in te gaan, terwyl ek weet wat ek in die verlede die bewyse sien dat U werklik ook in hierdie tyd ‘n nuwe kan doen.

Kom les ons dors na U in hierdie tyd.

Amen

One thought on “KOM DOEN DIT, HERE!

Add yours

  1. Baie treffend Ds. Attie. Ek het nou al baie kere gemerk dat mense wat voorsorg tref vir rampe in hulle lewe die situasie sonder stress ervaar. Ek sien mens se geloofslewe ook so. As jy jou geld en energie en tyd op GOD se sake spandeer ervaar jy geen probleme nie. As daar wel slegte of negatiewe dinge gebeur gaan jy weet hoe om die situasie te benader. Sonder probleme. GOD dra jou daardeur.

    Lekker middag verder Ds. Attie dit was lekker om weer op datum te kon kom met al die wonderlike dinge wat Ds. vir ons op die Koffietafel kom sit het.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: