OF JY HOU MET ALTWEE HANDE VAS – OF JY HOU NIE VAS NIE

Ek het Sondag oor Filippense 3:4b-14 gepreek. Ek geniet dit altyd om in die week nadat ek oor ‘n teks gepreek het, terug te kom na die teks toe en net weer te vra: Wat het die Here vir my gesê deur die teks wat ek vir preek moes lees.

Die tekste wat ons lees is dieselfde tekste wat honderde duisende gemeentes dwarsoor die wêreld in ‘n betrokke week en op ‘n betrokke Sondag lees. Die Leesrooster wat ons volg staan bekend as The Revised Common Lectionary. Die tekste wat ons lees sluit dan aan by die betrokke stadium waar ons in die kerkjaar is. Ons is tans in Lydenstyd en ons tekste sluit daarby aan. In elke week sal daar ten minste ‘n teksgedeelte uit een van die evangelies wees, een uit die Ou Testament; een uit die Psalms en een uit die res van die Nuwe Testament.

Ons lees vandag Filippense 3:4b-14 met behulp van die MAAK DIT PERSOONLIK! metode van meditasie. Daar is een klein probleempie met hierdie teksgedeelte en dit is dat dit reeds in die eerste persoon geskryf is. Maar… ek weet nie van jou nie, maar ek lees dit nog altyd as van toepassing op Paulus. Ek wonder wat gaan gebeur as ek dit op my persoonlik van toepassing maak. Ek gaan probeer:

Maar, wat eers vir my, Attie, ‘n bate was beskou ek, Attie, nou as waardeloos ter wille van Christus, ja nog meer, ek, Attie, beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.

Ek wil jou uitnooi om hierdie vers dalk so oor te skryf.Paulus se Damaskuspad-ervaring het al hierdie dinge waardeloos gemaak. Maar al hierdie dinge was nog steeds deel van Paulus se lewe. Met dieselfde ywer waarmee hy Christene vervolg het, het hy nou die evangelie van Christus verkondig. Die kennis en insig wat hy as Fariseër opgedoen het, het hom nog steeds gehelp in die skryf van sy briewe. Sy onberispelike gehoorsaamheid aan die wet van God, was nog steeds so selfs nadat sy oë oopgegaan het vir die genade-verdienste van Jesus Christus.

Terwyl ek die vers so oorskryf tref dit my dat daar selfs in die tyd nadat ek die Here leer ken het (Ek was nie altyd ‘n Christen nie), dinge gebeur het waarvan ek vir myself vandag moet sê: Hierdie dinge is waardeloos. Dit lyk vir my vanoggend asof die Here vir my wil sê: Of jy hou met altwee hande aan My vas, of jy hou nie aan my vas nie.  Ek kan nie met dieen hand aan Christus vashou en met die ander aan my eie prestasies nie.

Ter wille van Hom, het ek, Attie, alles prysgegee, en beskou ek , Attie, dit as verwerplik, sodat ek, Attie, Christus as enigste bate kan verkry.

Paulus gebruik rekenkundige terme van wins en verlies en die gedagte van ‘n balansstaat wat opgestel word. Al die mooi dinge wat hy gedoen en die mens wat hy was, sou hy dalk aan die “bate” kant van sy balansstaat kon opskryf, maar hy besef nou dat niks daarvan ‘n dooie duit kan bydra tot dit wat hy graag in sy lewe wil sien nie. Al wat hy in sy lewe wil sien, is om Christus te ken. Hoe gaan hy dit regkry? Hoe gaan ek dit regkry?

Al wat ek, Attie, wens is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat, Attie, sal deel hê aan die opstanding uit die dood.

Om alles wat jy is, jou aangebore status en posisie en jou persoonlike prestasies in alle eerlikheid as  verwerplik te beskou, is om aan Hom gelyk te word in sy dood. Ek onthou so goed in die jare net na my bekering is die hele gedagte van selfkruisiging sterk beklemtoon. Aangesien ek op daardie stadium ‘n redelik woeste lewe geleef het, het dit vir my beteken dat ek my sondige drange en begeertes moes kruisig en nie meer na willekeur daaraan kon toegee en my daaraan moet oorgee nie.

Met die verloop van tyd het ek myself op hierdie wyse gekruisig en kon daar werklik ‘n punt in my lewe kom waar die selfkruisiging in die verband redelik minmaal en selfs as semi-afgehandel beskou kon word. Later jare het dit wat so gekruisig moes word, meer en meer subtiel en persoonlik en fyn geword. Die selfkruisiging is nog nie afgehandel nie.

Maar, helaas, met die verloop van tyd het ek ontdek dat my vermoëns om met my sondige leefstyl te breek maar net nog ‘n persoonlike prestasie geword het, wat ek heel gemaklik aan die bate kant van my balansstaat kon opskryf . Mens doen mos maar so hier en daar ietsie vir die Here, waarop jy, en waarskynlik die Here ook, nogal trots is en trots mag wees. Dan kom mens darem soms baie naby aan die punt waar Paulus ook sy gesprek begin het en dat jy ook wil sê:

As iemand meen dat hy op die uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer… (Fil 3:4)

Paulus noem vier aangebore dinge en drie persoonlike prestasies. Ek doen maar dieselfde. Het jy al gehoor hoe missionêr is ons gemeente? Het jy al gehoor watter groot rol speel ons gemeente in die gemeenskap? Het jy gesien hoeveel mense kom na my kerk toe? Het jy gesien hoe getrou is ek in my stiltetyd? So word die lysie van my eie prestasies die batekant van my balansstaat. Terwyl daar eintlik net een ding moet staan en dit is: Ek ken Christus Jesus.

So kan ek in hierdie lydenstyd aan Hom gelyk word in sy dood. Net soos Hy sy goddelike status prysgegee het om as mens in my plek te sterf so sal ek sterf aan enige iets in hierdie lewe wat ek dalk sou dink van my ‘n verdienstelike mens in sy oë sal maak.

HOE IS HIERDIE GEDEELTE OP MY VAN TOEPASSING EN WAT GAAN EK DAAROMTRENT DOEN?

Ek dink ek het dit reeds genoem. Ek moet sterwe aan myself deur niks wat ek ooit gedoen het, tans besig is om te doen of in die toekoms gaan doen te reken as iets wat my ‘n waardige verdiener van God se verlossing in Christus Jesus maak nie. Ek sterwe daagliks aan myself.

GEBED

Here Jesus, baie dankie vir U sterwe vir my aan die kruis. Dankie dat U kans gesien het om U status as God se Seun prys te gee om ter wille van my volledig mens te word. Bevry my van enige gedagte om myself verdienstelik te wil maak in U oë. Ek beskou alles wat ek is en was en ooit sal wees as verwerpilik sodat ek my net kan beroep op dit wat U vir my aan die kruis gedoen het.

Amen

4 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

4 responses to “OF JY HOU MET ALTWEE HANDE VAS – OF JY HOU NIE VAS NIE

  1. Anne-Marie Scheepers

    Hi Attie, in my bybel het ek n datum van Aug ’86 by die gedeelte geskryf. Ek onthou so goed, jy het uit dieselfde gedeelte gepreek. Tot vandag is dit een van my gunsteling gedeeltes! Dit is presies hoe ons die Woord moet lees. Persoonlik vir jouself! Ek het n aantekening daarby, Lewe God se plan vir jou lewe, by die gedeelte!

    • Hi Anne-Marie. Jy onthou beter as ek. Ek sê altyd vir mense hulle moet dit doen. Datums in hulle Bybel skrywe en een sinnetjie vir die rede. DIt help mens om raak te sien wat die pad is wat jy en die Here saam gestap het.
      Groete daar!

  2. DIV

    Hi Doom
    Was bietjie lanklaas hier. Elke dag gelees, maar net nie altyd tyd om saam te gesels nie. Ek het darem Sondag baie gehou van daardie wat jy uit die Griekse mitologie vertel het. Daardie verhaal het vir my die hele gedagte van verwagting en voltooiing (Ek dink jy het die woord vervulling gebruik) geskets. Dalk moet jy dit eendag vir ons hier op die Koffietafel skryf .

  3. Christelle van der Walt

    Laat my lewe ook wees VADER: MINDER van my & MEER van U!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s