Tydens die 40 Dae in die Woord het ons ook stilgestaan by die geleentheid waar Jesus se voete gesalf is. Dit was op Dag 19 en ek het geskryf oor AANBIDDING OF HULPVERLENING. By die geleentheid het ons Markus 14:3-9 gelees en die B.O.S.V.A.R.K.I.E. metode gebruik om die gedeelte te lees. Vandag lees ons Johannes 12:1-8 hieroor en ons gebruik die SOM DIT OP! metode.
1 Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. 2 Daar het hulle vir Jesus ‘n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3 Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.
4 Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5 “Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”6 Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy ‘n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.7 Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8 Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”
‘n Paar dinge is anders. Twee baie belangrike rolspelers kry in Johannes se weergawe name. In Johannes se weergawe het die vrou ‘n naam, Maria. Maria was die suster van Marta en Lasarus – vir wie Jesus uit die dood opgewek het .
Aangesien ons in lydenstyd is – ‘n paar dae voor Paasfees – soos in die gedeelte ook, herkou ek bietjie aan Jesus se woorde in vers 7: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis.”
Ek lees weer enkele vertalings om die teks beter te verstaan.
DIE 1933/53 VERTALING
Toe sê Jesus: Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis.
Jesus se verhouding met Maria was anders as met die ander. Ek dink nou maar aan die dag toe Jesus Lasarus uit die dood opgewek het. Marta, hulle suster, was net so ontsteld. Marta gaan Jesus tegemoet. Maria wag tot sy geroep word. Marta staan wanneer sy met Jesus redeneer oor die situasie. Toe Maria by Jesus kom het sy by sy voete gekniel. Sy en Marta sê presies dieselfde woorde vir Jesus. “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.” (Sien Johannes 11:21 en 32) Die groot verskil is die liggaamsposisie. Die een staan regop en die ander kniel. Ons ken ook die gedeelte waar Marta haar afsloof om vir almal gereed te maak, terwyl Maria kies om saam met die dissipels en as ‘n dissipel eerder by Jesus se voete te sit.
Ek kry net die gedagte dat Maria gouer as enige iemand anders besef het wat aangaan. Nog voordat die ander daaraan dink dat Jesus gaan sterf, verstaan sy dit en salf sy Hom met die oog op sy begrafnis. Ek wonder watter rol het haar lewensingesteldheid van aanbidding daarin gespeel dat sy so vinnig gesnap het waarmee Jesus besig is. Ons praat so dikwels daarvan dat ons nie ons eie ding moet doen nie, maar dat ons deel moet wees van die ding wat God doen. Ek wonder of ons nie soveel makliker sal weet waarmee God besig is indien ons ook meer die lewensingesteldheid van kniel in plaas van staan en offer in plaas van terughou het nie.
THE NEW INTERNATIONAL VERSION
7“Leave her alone,”Jesus replied. “It was intended that she should save this perfume for the day of my burial.
THE MESSAGE
“Let her alone. She’s anticipating and honoring the day of my burial.
DIE AMPLIFIED BIBLE
7But Jesus said, Let her alone. It was [intended] that she should keep it for the time of My preparation for burial. [She has kept it that she might have it for the time of My embalming.]
SÊ DIT IN JOU EIE WOORDE
Die gedeelte is baie lank om in my eie woorde te sê. Wat my tref is dat Maria ‘n leefstyl van aanbidding gehad het. Hierdie was nie die enigste aanbiddingshandeling wat sy uitgevoer het nie. Knielend by Jesus se voete wanneer Lasarus sterf; wanneer Marta kos maak en wanneer sy Jesus se voete salf.
As ek iets hiervan in my eie woorde moet sê sal dit wees: “Los haar, haar hele lewe is ‘n lewe van aanbidding, deur hierdie daad aanbid sy my ook as die sterwende Verlosser.”
HOE IS HIERDIE VERS OP JOU LEWE VAN TOEPASSING EN WAT GAAN JY DAAROMTRENT DOEN?
Ek dink vanoggend aan my eie dankoffer wat ek gee. Ek sien my maandelikse dankoffer ongetywfeld as deel van my aanbidding van God. Elke maand wanneer ek my dankoffer gee maak ek ‘n punt daarvan om die Here te dank vir die voorreg van werk en ‘n gereelde goeie inkomste en dat ek vir my gesin kan sorg. Ek dink vandag daaraan dat dit ook ‘n manier is waarop ek Jesus se voete kan salf.
Ek dink ook aan ander offers van aanbidding wat ek graag bring. Ek dink aan die groot rol wat musiek en erediens speel in my lewe van aanbidding. Ek dink aan my persoonlike alleentyd met die Here en watter rol dit in my aanbidding speel. Ek het vanoggend net een begeerte en dit is dat niks wat ek doen deur die Here as ‘n geïsoleerde daad van aanbidding gesien sal word nie. Ek het die begeerte dat Hy na alles wat ek doen en alles wat ek is sal kyk en ‘n mens sien wat Hom aanbid. Dalk wanneer ek deur musiek en sang en gebed en Skriflesing en dankoffer sy voete salf. Maar ook wanneer ek in my omgee van ander en uitreik na mense in nood sy voete salf. Hierdie vers roep my vanoggend op tot ‘n lewe van aanbidding.
GEBED
Here Jesus, ek aanbid U as my Here wat gekruisig is, gesterf het en begrawe is en op die derde dag uit die dood opgestaan het. Ek wil U met my hele hart en my hele wese aanbid. Ek wil elke daad en elke handeling ‘n daad van aanbidding maak. Ek wil kniel en nie staan nie. Ek wil by U voete sit en ek wil sien hoe en waar U rondom my aan die werk is en ek wil aanbiddend deel wees van dit waarmee U besig is.
Amen
Lieflik, seker die mooiste gebaar wat iemand vir JESUS gedoen het op aarde. Maria stel ‘n baie mooi voorbeeld vir ons en sy sal nooit daarvoor vergeet word nie. Sy leef voort deur haar goeie handeling.