STROME IN DIE DORSLAND

Psalm 126 is ‘n pelgrimslied. ‘n Lied wat gesings is terwyl ‘n mens op reis was.

‘n Pelgrimslied.

 Toe die Here die lot van Sion verander het,
was dit vir ons soos ‘n droom.
2 Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”
3 Die Here hét groot dinge aan ons gedoen;
ons was bly.
4 Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5 Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.
6 Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.

Ons mediteer oor Psalm 126 met behulp van die ONDERSOEK DIT ! (B.O.S.V.A.R.K.I.E.) metode.

Is hier ‘n BELOFTE om toe te eien? 

Ek sien verskuil in die verse dieselfde belofte as gister: God kan ‘n nuwe ding doen. In vers 1 staan daar: “Toe die Here die lot van Sion verander het…” God kan ‘n nuwe ding doen. In vers 2 vind ek ook ‘n belofte: “Onder die nasies het hulle gesê: ‘Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen…” As ek God toelaat om te doen wat net Hy kan doen, sal die mense sê: “God het groot dinge gedoen.”

In vers 4 val die skrywer terug op die belofte en vra dat die Here ‘n nuwe ding sal doen deur hulle lot te verander.

Is hier ‘n OPDRAG om te gehoorsaam?

Ek sien geen duidelike opdrag nie. Behalwe as ek die gedagte dat ek God moet vertrou om ‘n nuwe ding te doen as ‘n opdrag gaan verstaan.

Is hier ‘n SONDE om te bely? 

Geen sonde om te bely nie.

Is hier ‘n VOORBEELD om na te volg? 

Geen voorbeeld om na te volg nie.

Is hier ‘n REDE om te loof?

Natuurlik is die gedagte dat die Here ‘n nuwe ding kan doen meer as genoeg rede om te loof. As ek terugkyk op my geskiedenis en my lewe soos die skrywer terugkyk op Israel se geskiedenis, dan weet ek dit is waar: God het groot dinge aan my en aan my mense gedoen. Ek sien egter ook in vers 6 wonderlike rede om te loof. “Al loop hy en huil terwyl hy sy saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra.”

Wanneer ek vanoggend hier skryf dan wonder ek oor wat die Here hierdeur vir my wil sê. Ek dink daaraan dat Hy in die laaste deur sy Woord geweldig baie met my gepraat het oor gebed en dat ek Hom moet vra om verandering en groei en herstel te bring in daardie dele van my lewe waar ek dalk met trane saai. Ek sou nou ‘n voorbeeld of twee kon noem, maar as ek mooi kyk is my getuienis eerder dat Hy reeds in ‘n groot mate van die trane’n gejubel gemaak het.

In my gemoed het God ook ‘n groot ding tydens hierdie 40 Dae in die Woord ons gemeente se lewe gedoen. Daarvoor sou ek hom nie genoeg kon loof nie.

Ons is egter ook in Lydenstyd. Die lyding, sterwe en opstanding van die Here Jesus is natuurlik DIE strome in die dorsland by uitnemendheid. In hierdie geval is dit Jesus self wat met trane met die saaisak loop, maar juigend terugkom terwyl hy die gerwe van die verloste mense in sy arms dra. Oor die gebeure getuig die wêreld: “Die Here het groot dinge gedoen.”

Is hier ‘n KNIELGEBED om te bid? 

Ek wil tog nog steeds die gebed bid: “Verander tog ook nou ons lot, Here, soos U droëe spruite in die Suidland in waterstrome verander.” (Vers 4) Ek dink aan daardie ander vers wat ons tydens die 40 Dae hanteer het. Ek bid dat Hy die goeie werk wat Hy nou begin het, ook sal klaar maak. Maar deel van my knielgebed sal ook wees om God te loof vir die Saad wat Hy gesaai het toe Hy sy Seun vor ons in grond laat val het en Hy gesterf het.

Is hier ‘n INGESTELDHEID/GESINDHEID om te verander? 

Die enigste wat ek aan kan dink is dat ek ‘n ingesteldheid sal hê waar ek God vertrou om sy deel te doen, terwyl Hy my kan vertrou om my deel te doen.

Is hier ‘n EGTHEID/WAARHEID om te glo? 

Beslis: Die God wat ek aanbid kan ou dinge nuut maak en ‘n nuwe begin maak en ‘n pad in ‘n woestyn maak en droë spruite in waterstrome verander. Hy kan lewe bring waar almal gedink het daar dood is. Hy kan sonder vegrewe en skuld betaal en verlossing bewerk.

HOE IS HIERDIE VERS OP JOU LEWE VAN TOEPASSING EN WAT GAAN JY DAAROMTRENT DOEN? 

Toe ek die 40 Dae in die Woord veldtog begin het, en gesien het dat ons elke dag hierdie vraag moet vra en hoor hoe dikwels Rick Warren sê dat ‘n mens net die dele van die Bybel glo wat jy ook doen, het ek gedink ek gaan oorlaai word met lysies van dinge wat ek moet doen om die Woord te gehoorsaam. Intussen is die grootste verandering waaraan ek gehoor moet gee my denke en my gevoelens en my oortuigings. Soos vanoggend se gedeelte. Ek moet onthou dat dit God is wat die goeie werk in my en die mense rondom my begin. Ek moet maar net aanhou saai as dit tyd is om te saai en doen wat ek glo ek in gehoorsaamheid aan die Here doen. Hy sal op die regte tyd die oes inbring sodat ek juigend terugkom terwyl ek gerwe dra.

In hierdie lydenstyd mag ek ook nooit vergeet watter rpys Hy betaal het sodat Hy juis die rol van “Nuut-Maker” of Her-Skepper in ons lewens en in die kerk kan speel.

GEBED

Hemelse Vader van ons Here Jesus Christus. Ek aanbid as vanoggend in besonder as die Skepper, maar ook die Her-Skepper van my lewe. U is die een wat dinge nuut maak. U maak ‘n pad in die woestyn en waterstrome waar daar droë riviere was. U bring lewe waar daar dood was en bring vreugde waar daar hartseer is. Waar ek met trane saai, bewerk U ‘n oes wat maak dat ek juigend met arms vol gerwe terugkom. In hierdie dag sal ek met dinge besig wees wat ek soms as sleurwerk en roetine take beskou, ek bid dat dit saad sal wees wat ek soms met trane saai, maar ek laat die oes in U hande.

Here Jesus ek aanbid U as die gekruisigde Here wat met helse pyn deur lyding gegaan het. Ook vir my. Gee dat U kruisdood ook in my lewe en in ons gemeente veelvuldig vrug sal dra.

U ken my hart.

Amen

3 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

3 responses to “STROME IN DIE DORSLAND

  1. Johan

    Goeie môre Doom en ander koffie drinkers. Ek sit lekker en uit kyk oor die see hier by Diaz Strand, tussen Mosselbaai en Hartenbos nadat ek vandag se inskrywing gelees het. Gaan vandag bietjie Knysna se wêreld toe. Al wat ek vanoggend wil sê is dat God se skepppingwerk ongelooflik mooi is en ons nie ons eie land regtig na waarde waardeer nie.

  2. Siegfried

    Goeie Dag almal, ja dit is wonderlike dag, Johan geniet dit, dit is ons wonderlike God wat dit vir ons gee elke dag party keer sien ons dit nie eens raak nie. Ek het van oggend vroeg buite my huis gaan staan hier in Qatar en wonderlike dag breek gesien. Die HERE is alles in my lewe ek is lief vir Hom. Hy kyk mooi agter ons hier in die vreemde. Groetnis Siegfried

  3. Christelle van der Walt

    Lieflike oggend – Goeie môre ook aan almal! Vanoggend sing ek weer met ‘n nuwe lied in my hart. Lekker werk almal! XXX

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s