EK DOEN IETS NUUTS

Jesaja 43:16-21 het die wonderlike profesie van Jesaja waarin die Here belowe om ‘n nuwe ding te doen. Hierdie vers staan uit as die nuwe ding wat die Here gaan doen:

“Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.” (Jes 43:19)

SIEN DIT!

Ek probeer myself in die “prentjie” indink. Ek sien in my geestesoog hoe ek in die woestyn ronddwaal. Ek het geen idee in watter rigting om te beweeg nie en ek is dors. Die grootste gevaar in ‘n woestyn is dat ‘n mens sterf as gevolg van dors. Dan skielik is hier vir een of ander onverklaarbare rede voor my ‘n pad. Nie net ‘n pad nie, maar ook met ‘n duidelike aanduiding van watter rigting ek moet beweeg. Die tyd van ronddwaal in die woestyn is verby. Maar dit is nie alles nie. Rondom my ontspring daar uit die droë woestynland, nie fonteine nie, maar riviere. Met ander woorde die dae van “dors-wees” is ook verby. Daar sal van nou af meer as genoeg water wees vir my om my dors te les. Ek sien hoe ek in ‘n nuwe rigting beweeg en nie eers water met my saamdra nie, want oral waar ek kom sal daar riviere vol water wees.

WAT WIL DIE HERE HIERDEUR VIR MY SÊ?

Eerstens verstaan ek waartoe Hy in staat is. Hy kan dinge nuut maak. Hy kan nuwe rigting gee en Hy kan in behoeftes voorsien. Maar, ek het ook die 40 Dae in die Woord veldtog wat ons in ons gemeente gedoen het as “‘n nuwe ding” beleef wat die Here gedoen het. Hy het inderdaad vir ons gewys dat die nuwe rigting wat ons as gemeente inslaan is ‘n rigting wat die Woord vir ons gaan aandui. Daaronder verstaan ek vanoggend dat elkeen van ons op sy eie die Bybel van nou af anders gaan lees en die God gaan gehoorsaam wanneer Hy vanuit die Bybel met ons praat en op die manier gaan ons ‘n verskil maak waar ons ookal is en waar ons ookal gaan.

WAT WIL DIE HERE HÊ MOET EK DOEN?

Hierdie is altyd die moeilike maar dalk die belangriker vraag. Ek dink die Here wil vir my bewus maak van die nuwe ding wat Hy gedoen het en besig is om te doen. Ek dink egter ook Hy wil hê dat ek moet besef dat Hy ‘n pad gemaak het en nie ‘n stad gebou nie. ‘n Pad veronderstel beweging. ‘n Stad veronderstel bestemming. As ek dit so kan stel: Die nuwe ding staan maar nog op die punt om te gebeur. Ons moet versigtig wees om nie te dink dat ons ons bestemming bereik het nie. Ek dink die Here verwag van my om fyn te luister oor waarheen Hy met my oppad is.

GEBED

U is die God van nuwe begin en nuwe skepping. U het in U seun Jesus Christus met ons almal oor kom begin. Maar in my eie lewe het U so baie kere oor kom begin. U begin egter nie net oor nie. U maak nuut. U doen ‘n nuwe ding. U doen soms iets wat so nuut is dat dit iets is waarvan niemand nog ooit voorheen gehoor het nie. Ek glo dat U met ons gemeente nuut begin het en dat U ‘n nuwe ding gaan doen. Doen dit tog in ons tyd, o Here! Leer ons almal om fyn te luister om te weet in watter rigting U ons wil stuur.

Amen

4 thoughts on “EK DOEN IETS NUUTS

Add yours

  1. Baie keer wonder ek of ek werklik die Here se stem gehoor het, of ek op die regte pad is, of ek iets anders moet probeer, of… of..! Wonder ek nie te veel nie? Probeer ek soms nie te hard nie? As ek hierdie vrae vir myself vra, dan kom ek weereens onder die besef dat hierdie dinge nie van my af kom nie, maar uit genade van Bo. Ek moet geduldig wag op die Heer. Hy sal die pad vir my aandui, op die regte tyd en regte plek.

    1. Henry, ek dink mens raak al meer geoefen om te kan weet wanneer dit die stem van die Here is en wanneer nie. Maar, ek dink mens kom nooit op die punt waar dit vanselfsprekend is nie.

  2. More Attie. Soos jy seker weet is ons ook in ons gemeente besig om weer nuut na die Here te probeer luister.Ek dink jy,s reg dat ons elkeen meer tyd met die bybel moet deurbring om ons eie pad maar ook ons eie gemeente se pad deur die woestyn te vind.

    1. Hi Alec
      Baie lekker om van jou te hoor. Ek het gehoor dat julle weer ‘n ‘n “luister-seisoen” in julle gemeente is. Toe ek dit gehoor het, het ek gebid dat die Here werklik sy stem sal laat hoor.
      Sterkte

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: