‘N NUWE SKEPPING

My bedoeling is om in die tyd wat kom nog steeds van die verskillende meditasietegnieke te gebruik om met skrifgedeeltes om te gaan. Volgens die LEESROOSTER lees ons hierdie week 2 Kor 5:16-21.

16 Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17 Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18 Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19 Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20 Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Teologies is hierdie ‘n ongelooflike ryk gedeelte. Met die eerste lees van hierdie gedeelte tref vers 17 my: “Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Aangesien hierdie vers vir my so baie beteken, gaan ek dit vanoggend hanteer aan die hand van die SOM DIT OP! metode.

LEES DIE GEDEELTE ‘N PAAR KEER DEUR

Ek lees die gedeelte in ‘n paar ander vertalings om die betekenis van die teks beter te verstaan.

1933/53 VERTALING

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Hierdie is die vertaling waarmee ek my geestelike tande geslyp het. In Christus is ek ‘n nuwe skepsel of nuwe skepping. Ek kan so goed onthou hoe hierdie waarheid my in my jong dae, as iemand wat pas tot bekering gekom het, aangegryp het. Net soos God alles rondom my geskep het, het Hy my nou weer geskep. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Maar, vandag is more se gister. Vandag se nuwe dinge is more se ou dinge. More-oggend sal ek weer kan sê: Alles het nuut geword.

DIE BOODSKAP

Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy ’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine. Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan is die nuwe lewe hier!

Hierdie woorde: “‘n nuwe skepping in die kleine”. Die nuwe lewe is hier.

THE NEW INTERNATIONAL VERSION

Therefore, if anyone is in Christ, the new creation has come:The old has gone, the new is here!

Hierdie vertaling, soos die BOODSKAP ook, lê klem daarop dat die nuwe lewe hier is. My worsteling is natuurlik dat hierdie nuwe lewe wat dan nou reeds hier is, nie altyd so lekker sigbaar is in my lewe nie. Ek lewe nie altyd hierdie nuwe lewe nie.

THE MESSAGE

 Now we look inside, and what we see is that anyone united with the Messiah gets a fresh start, is created new. The old life is gone; a new life burgeons!

Eugene Peterson sê ‘n ding darem mooi. Nou kyk ons na binne en binne sien ons die werklikheid van ons een-wees met Christus. Nuwe skepping word by Hom ook ‘n nuwe begin. Ek kan as gevolg van my geloof in Jesus Christus oor begin met God.

THE AMPLIFIED BIBLE

Therefore if any person is [ingrafted] in Christ (the Messiah) he is a new creation (a new creature altogether); the old [previous moral and spiritual condition] has passed away. Behold, the fresh and new has come!

Die vorige geestelike en morele toestand is nie meer van toepassing nie. Die nuwe is hier!

SÊ DIT IN JOU EIE WOORDE

Ek weet ek is een met Christus en daarom aanvaar ek ook dat ek geheel en al ‘n nuwe skepping is. Al wat wat oorgebly het van die mens wat ek was, is herinneringe. Ek is vry om vandag as ‘n nuwe mens te lewe.

IN WATTER OPSIG IS DIE GEDEELTE VAN TOEPASSING OP JOU LEWE EN WAT GAAN JY DAAROMTRENT DOEN? 

Dit lyk my ek moet tot rus kom in die werk wat Jesus Christus reeds vir my ook gedoen het. Ek is deur geloof een met Hom. Ek moet ophou om myself te kasty oor dit wat ek was en oor dit wat ek nog nie is nie. Beide hierdie vorme van kastyding neem soveel emosionele energie dat ek nie kan wees wie ek vandag is nie. Ek is God se onvoltooide simfonie, maar nie in die sin dat ek nooit voltooi gaan word nie, maar eerder in die sin dat Hy nog aan die skryf is.

Natuurlik is ek nog nie alles wat ek kan wees nie, maar ek is ook nie meer alles wat ek was nie.

GEBED

Here Jesus, hoe sal ek U ooit kan bedank vir dit wat U vir my gedoen het. Dankie dat U werk ‘n volmaakte werk is en dat ek niks kan toevoeg tot dit wat U vir my gedoen het nie. U het my nuut gemaak. Ek kan nie my eie lewe nuut maak nie, maar ek kan lewe vanuit die wete dat ek ‘n heeltemal nuwe skepping is.

Amen

One thought on “‘N NUWE SKEPPING

Add yours

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: