U LEI MY OP MY PAD (DAG 40)

Wel, ons het aan die einde van ons 40 Dae in die Woord veldtog gekom. My gebed is eerstens dat elkeen wat saam met ons op hierdie reis was die ses tegnieke in hulle stiltetyd sal bly toepas. Ek gaan in elk geval hier op die koffietafel bly skryf en die tegnieke toepas in my meditasies by skrifgedeeltes wat aansluit by die teks wat gemeentes dwarsoor die wêreld lees, The Revised Common Lectionary. Tweedens hoop ek dat julle sal aanhou om te kom kuier. Ek skryf dikwels ook oor ander goed. So gaan ek byvoorbeeld in die nabye toekoms oor die vier geestelike tipes iets skryf.

Maar, kom ons kyk na ons laaste meditasie. Ons is steeds by Psalm 1.

SKRYF JOU NAAM IN DIE PLEK VAN SELFSTANDIGE NAAMWOORDE EN VOORNAAMWOORDE EN HERSKRYF DIE PSALM ASOF ASOF GOD DIT DIREK AAN JOU GERIG HET

1Dit gaan goed met my, Attie,

wanneer ek  nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wanneer ek, Attie  in die woord van die Here my vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Dan is ek, Attie  soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Ek, Attie is voorspoedig in alles wat ek aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ‘n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6Waarlik,
die Here lei my, Attie, die regverdige op my pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

Dit lyk vir my hierdie metode het vir mense ‘n groot impak gehad. Vanoggend besef ek weer hoekom. Dit maak ‘n verskil wanneer jy jou eie naam daarin sien. Wat my getref het toe ek hierdie Psalm so oorskryf is die kontras  by vers 1 en 2. Dit gaan goed met my WANNEER. Op ‘n manier kan ek nie anders as om te dink dat my “goed gaan” tog in ‘n mate van my afhang. Die Here gee vir my alles wat ek nodig het – die Woord en die Gees en die gemeenskap van gelowiges om my te help om in Sy Woord my vreugde te vind. Wanneer dit gebeur en ek die Woord dag en nag oordink, met ander woorde daaroor mediteer en nadink, dan kry ek die wysheid van die Heilige Gees om die regte besluite en keuses te maak.

Die Woord en die Gees en die gemeenskap van die gelowiges is altyd daar. Die vraag is, gebruik ek dit wat die Here vir my gegee sodat dit goed kan gaan in my lewe.

Saam met hierdie metode gaan die gedagte dat mens die Psalm so moet oorskryf asof God dit vir jou persoonlik sê. Kom ons kyk:

1 Attie, Dit gaan goed met jou, wanneer jy 

nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wanneer jy Attie, in My  woord jou vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Dan is jy, Attie, soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Jy  is voorspoedig in alles wat jy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ‘n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6Waarlik, Attie,
Ek lei jou, die regverdige op jou pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

Ook ‘n baie persoonlike en intieme metode. Daar is iets in om te sit en te besef dat die Here dalk vir my sê: “Hei! Kyk bietjie terug op jou lewe. Kyk na die tye toe dit sleg gegaan het. Watter rol het die Woord en die Gees en die gemeenskap van gelowiges in jou lewe gespeel? Is dit nie dalk die probleem nie.”

Ek dink natuurlik dit is nodig om te sê dat ek hier “goed gaan” en “op die regte pad” verstaan as die gevolge van die besluite wat ek in my lewe neem. In vers 1 en 2 word die raad, (of aanbevelings) van die goddeloses teenoor die verdiep in die Woord van die Here gestel en in vers 6 lei die Here my op “my pad”. Met ander woorde, dit gaan hier nie oor dinge waaroor ek geen beheer het nie. Deur my omgang met die Woord van die Here en onder die leiding van die Heilige Gees en die met my geloofsgemeenskap as klankbord ontwikkel ek “the mind of  Christ”.

(“Who can know the LORD’s thoughts? Who knows enough to teach him?” But we understand these things, for we have the mind of Christ. 1 Kor 2:16 – New Living Translation)

Op hierdie manier neem ek besluite anders.

IN WATTER OPSIG IS DIE GEDEELTE TOEPASLIK IN JOU LEWE EN WAT GAAN JY DAAROMTRENT DOEN? 

Ek kan nie anders as om uit hierdie 40 Dae in die Woord veldtog te stap met die vaste voorneme om my tyd met die Here te bly ontwikkel nie. Ek moet so dikwels baie besluite neem, maar hier gee die Here weer vir my die versekering dat ek die regte “raad” sal kry en dat Hy my op die “my pad” sal lei, wanneer my denke met sy Woord deurdrenk is.

GEBED

Dankie Here God vir die versekering dat dit met my goed gaan wanneer ek nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar eerder in U Woord my vreugde vind en dit dag en nag oordink. Ek het waarlik in hierdie 40 Dae U Woord geniet en U weet hoe U Woord in my gedagtes vasgesteek het.

Ek wil wees soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, ek wil op die regte tyd die regte vrugte dra en ek wil nie dat my blare ooit verlep nie.
Hoe begeer ek nie om voorspoedig te wees in alles wat ek aanpak nie. Ek dink vanoggend aan die tye toe ek nie so voorspoedig was in wat ek aangepak het nie. Ek sien en verstaan nou hoekom. Ek weet egter ook van tye toe dinge wat ek aangepak het regtig voorspoedig verloop het. As ek terugkyk op my lewe dan sien ek inderdaad die rol wat U Woord toe in my lewe gespeel het.
Ek besef dat die goddeloses nie hierdie luukse van U leiding deur U Woord en U Gees het nie. Ek wil nie wees soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word nie. Ek wil standvastig en onwankelbaar wees. Dankie dat ek kan weet dat ek deur dit wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het nou in die regte verhouding met U kan wees en daarom hoef ek nie U oordeel te vrees nie.
 
Here, ek besef vanoggend opnuut weer dat dit waar is, U lei my op my pad maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

Amen

One thought on “U LEI MY OP MY PAD (DAG 40)

Add yours

  1. Ds. Attie jy haal vanoggend die woorde uit my gedagtes met jou gebed want dit is presies hoe my ervaring rondom jou koffietafel was. Nog ‘n ding wat ek geleer het rondom jou tafel is die soort karakters wat kom aansit. Ek het ook ondervind wat baie mense nie maklik kan praat oor hulle geloofslewe nie maar eerder oor ander dinge. Dit wys jou net watter groot invloed ‘n mens se woorde op iemand se gemoed kan hê.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: