Vanoggend lees ek Psalm 1 ‘n paar keer deur en dan probeer ek dit in my eie woorde weergee.
Die hele Psalm is bietjie lank om op hierdie manier te lees, so ek lees net een vers. Die vers wat op hierdie manier gaan lees is vers 3:
DIE 1983 VERTALING
“Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.”
Die Psalm 1 mens, of dan die persoon wat in die regte verhouding met God leef (regverdige – vers 6) word vergelyk met ‘n boom wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nooit verlep nie. Die rede waarom ek hierdie vers gekies het, is omdat die woordjie “vrugte” hierin voorkom. Ons het twee weke terug in die erediens ook oor die vrugte gepraat (Johannes 15) en oor die gedagte dat die vrugte nie gedefinieer word nie, maar dat dit die logiese uitvloeisel is van iemand wat In Jesus bly, of dan volgens hierdie Psalm regverdig is, wat beteken om in die regte verhouding met God te lewe. Hier in Psalm 1 is dit iemand wat in die Woord van die Here bly wat vrugte gaan dra, al weet ons nie presies wat die vrugte is nie.
Ek lees ‘n paar vertalings.
DIE BOODSKAP
Daarom is jy soos ’n groot boom wat stewig langs die water staan. Hierdie boom dra op die regte tyd baie vrugte en sy blare bly groen. Sy grootheid skyn helder in alles wat jy doen.
In hierdie vertaling het die vertalers sommer klaar die Psalm baie persoonlik gemaak. Die Psalm begin met die woorde: “God hou sommer baie van jou…” Ek wil iemand wees van wie God baie hou. Die gedagte van die “regte tyd” tref my. Ek weet nie watter vrugte ek wanner sal moet dra nie. Al wat ek weet is dat ek op die regte tyd die regte vrugte gaan dra, omdat ek die Woord van die Here geniet en dit dag en nag lees sonder om moeg te word. (DieBoodskap: Vers 2)
Maar hier is ook iets wat ek andersins nie raak gesien het nie. “Sy grootheid skyn helder in alles wat jy doen.” Om die waarheid te sê, ek sien nie regtig waar dit vandaan kom nie en ook nie in die ander vertalings nie. EK sou wel dink dat die Vader juis daardeur verheerlik word dat ons baie vrugte dra. (Johannes 15)
THE AMPLIFIED BIBLE
“And he shall be like a tree firmly planted [and tended] by the streams of water, ready to bring forth its fruit in its season; its leaf also shall not fade or wither; and everything he does shall prosper [and come to maturity].”
Ek wonder of jy dit raakgesien het “and tended”. Ek is nie net geplant nie, ek word ook deur die tuiner versorg (tended) om dan vrugte te kan dra.
In die laaste gedeelte van hierdie vertaling is ons weer terug by die regverdige mens van die Psalm – die mens wat in die regte verhouding met God leef. In seisoen sal hy vrugte voortbring. Skielik wonder ek: Wanneer is ek in seisoen? Verwag ons nie dalk soms vrugte van ‘n boom wanneer dit nie vir die boom die regte seisoen is nie? Ek weet daar is die geleentheid in die Nuwe Testament toe Jesus die vyeboom vervloek het omdat dit nie buite seisoen vye gehad het nie, maar ek dink hier is iets anders ook ter sprake. Watse vrugte kan ons van ‘n “boom” in sy tienerseisoen; of jong-volwasse seisoen; of die jong-getroude seisoen; of klein-kinder-seisoen; of leë-nes-seisoen; of pensioenaris-seisoen; of weduwee/wewenaar-seisoen verwag? Kan ons van elke mens in elk seisoen van sy lewe dieselfde vrugte verwag? Ek dink nie so nie. Ek wonder of hierdie nie deel is van die probleem van die kerk nie, dan ons van elke en enige boom dieselfde vrugte verwag ongeag die seisoen van die lewe.
Ek weet mens kan maklik ook die seisoene van ‘n mens se lewe gebruik om vrugdra uit te stel en dalk selfs op ‘n stadium te kom wat ek ontdek dat ek dwarsdeur my lewe geen vrugte gedra het nie, maar ook dit is ‘n ander gesprek.
THE MESSAGE
You’re a tree replanted in Eden, bearing fresh fruit every month, Never dropping a leaf, always in blossom.
Is dit nie besonders nie. Ek is ‘n boom wat in die tuin van Eden uitgeplant is. Ek dra elke maand vars vrugte. Altyd in die blom en verloor nooit ‘n enkele blaar nie. In ‘n sekere sin weerspreek hierdie vertaling die Amplified, of dan my interpretasie van die Amplified. Vir hierdie boom is elke maand die regte seisoen.
THE NEW INTERNATIONAL VERSION
That person is like a tree planted by streams of water, which yields its fruit in season and whose leaf does not wither—whatever they do prospers.
Hierdie vertaling het ook die gedagte van die regte seisoen. Tog ‘n gedagte wat ek dink verdere aandag en nadink vra. In die Bybel leer ek God ken as ‘n God vol genade en liefde. Ek dink nie God sal van my vrug verwag wat ek nie kan dra nie. Hy sal tog van my die vrugte vra vir die seisoen waarin ek my bevind.
HERHAAL DIT IN JOU EIE WOORDE
In my eie woorde lyk hierdie vers vandag so:
Die mens wat in die regte verhouding met God lewe, dra in die regte seisoen gepaste vrugte. Selfs wanneer daar nie vrugte aan die boom is nie, verdroog of verlep die boom nie heeltemal nie. Die mens wat in die regte verhouding met lewe, beleef dat dit met Hom goed gaan.
IN WATTER OPSIG IS DIE GEDEELTE TOEPASLIK OP JOU LEWE EN WAT GAAN JY DAAROMTRENT DOEN?
Ek het verlede jaar ‘n boek van Brian McClaren gelees oor die verskillende seisoene in ‘n mens se lewe en hoe jou verhouding met die Here in elkeen van die seisoene verskil. Herfs, winter, lente en somer. Ek weet vanoggend net nie of ek in staat is om ‘n boom te wees wat nooit sy balre afgooi nie en elke maand vrugte dra nie. Ek sien myself vanoggend eerder as ‘n boom wat die verskillende seisoene voluit beleef. Ek dra vrugte op die regte tyd (vers 3), maar wanneer dit nie die regte tyd is nie, is daar nie vrugte nie en ek dink die Here verstaan dit. Wat my te doen staan is om te weet in watter seisoen ek is en te doen wat ek kan om die regte vrugte vir die regte seisoen te dra.
GEBED
Hemelse Vader, U ken my beter as wat ek myself ken. U ken my seisoene en U weet ook in watter seisoen ek op hierdie stadium van my lewe is en daarom weet U watter vrugte U op hierdie stadium van my kan verwag. Dankie dat ek kan weet dat U my eers liefhet en my dan uitstuur om vrugte te dra. Ek wil graag die vrugte dra wat ek moet dra, maar ek wil dat die vrugte vanuit my persoonlike verhouding met U groei en nie die gevolg is van my eie inspanning en moeite nie.
Amen
Ds. Attie, as ek kon wens dan is dit: dat alle mense-bome, SY SONSTRALE ook op hulle blare sal voel. Die dag as HY ons kom soek in die aanwindjie soos van ouds, ons sal antwoord hier is ek HERE, hier is ek.
President John F Kennedy het per geleenheid gese dat jy eers in die winter seisoen kan sien watter bome blare verloor en watter immergroen bly,wat my laat dink aan die mense wat eers gesnoei moet word voor hulle vrugte dra.Dink maar aan ‘n perskeboom.As hy nie gesnoei word en reg versorg word nie,kry jy niks uit hom uit nie.Ander dra weer vrugte sonder om gesnoei te word.Dink maar aan die advokadoboom,wat jaarliks vrugte dra sonder snoei.Die verskeidenheid op aarde bly maar vir my baie interessant.
Dankie vir die 40 dae,Attie.Ons het baie geleer.
Groetnis.