‘N REGVERDIGE DISSIPEL (DAG 38)

1Dit gaan goed met die mens

wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ‘n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6Waarlik,
die Here lei die regverdiges op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.
Die teksgedeelte wat ons die laaste paar dae lees, is Psalm 1. Ons lees dieselfde gedeelte en dan gebruik ons elke dag van die week ‘n ander een van die tegnieke wat ons in hierdie 40 Dae aangeleer het, om oor die teks na te dink of te mediteer. Sondag het ons die SÊ DIT! metode gebruik, gister die SIEN DIT! metode en vandag gebruik ons B.O.S.V.A.R.K.I.E. Met behulp van hierdie akroniem vra ons sekere vrae aan die teks en probeer so die teks beter verstaan. Dit is belangrik dat mens aanvaar dat jy nie altyd al die vrae beantwoord gaan kry nie. In so ‘n geval gaan jy maar net by die vraag verby en probeer die volgende een.
Is hier ‘n BELOFTE om toe te eien? 

Die wonderlikste belofte is dat dit goed sal gaan (Vers 1) met die mens van wie daar in Psalm 1 gepraat word. Die Psalm 1 mens sal voorspoedig wees in alles wat hy aanpak. (Vers 3) In vers 6 is daar ook vir my iets van ‘n belofte. “Die Here lei die regverdiges op hulle pad.”

Mooi is ook die belofte van die vrugte dra op die regte tyd en die blare wat nie verdroog nie. Ek is op hierdie aarde geplaas op vrugte te dra wat die groei van God se koninkryk sal bevorder. As ek in die Woord van die Here my vreugde vind en dit dag en nag oordink, sal ek die regte vrugte op die regte tyd dra – dit is dissipelskap.

Is hier ‘n OPDRAG om te gehoorsaam? 

Hier is nie direk ‘n opdrag nie, maar die implikasie kan tog in ‘n sekere sin as ‘n opdrag verstaan word. Ek  moet my vreugde in die woord van die Here vind en dit dag en nag oordink. Ek wonder of ek die opdrag moet sien as ‘n voorwaarde vir die seën of die waarmaak van die belofte. Ek dink tog dit is die regte verstaan van die teks om te sê dat die waarmaak van die beloftes afhanklik is van gehoorsaamheid aan die opdrag. Ek onthou iemand het eenmaal vir my gesê: Die Bybel is vol onvoorwaardelike beloftes, maar voorwaardelike seën.

Wanneer ek my vreugde in die woord van die Here vind en dit dag en nag oordink dan word my gedagtes en oortuigings al hoe meer gevorm deur die Woord. Ek weet nie of ons ooit op die punt sal kom dat ons elke keer al die besluite reg neem nie, maar ek kry tog uit hierdie skrifgedeelte die idee dat dit ten minste al hoe meer die geval sal wees.

Ek dink ons verwag die “goed gaan” (vers 1) en die “voorspoed in alles wat hy aanpak” (vers 3) en die “lei… op … pad” (vers 6) as vanselfsprekend. Intussen is die voorwaarde duidelik. Vind jou vreugde in die Woord van die Here en oordink dit dag en nag.

Hierdie 40 Dae in die Woord het ons op die regte pad geplaas.

Is hier ‘n SONDE om te bely? 

Ek kry nie hier regtig ‘n sonde om te bely nie. Behalwe dalk die kere wat ek gedink het dat die Here my in die steek gelaat het toe dit nie met my goed gegaan het nie, en ek nie voorspoedig was in alles wat ek aanpak nie en ek nie beleef het dat die Here my lei nie. Ek wonder of ek soms dink dat die Here dit aan my verskuldig is om die dinge so te laat werk.

Is hier ‘n VOORBEELD om na te volg? 

Die enigste voorbeeld is die voorbeeld van die regverdige in vers 6. In die vers 1 kry die Psalm 1 mens vir die eerste keer ‘n “naam”, as mens dit so kan noem. Die Psalm 1 mens is ‘n “regverdige”. In die Ou Testament beteken “regverdige” iemand wat aan die eise van ‘n verhouding voldoen. In die Ou Testament is daar niks wetties aan hierdie verhouding nie. Die regverdige is iemand wat doodeenvoudig God se onverdiende genade as ‘n liefdevolle en onverklaarbare keuse van God se kant aanvaar en daaruit lewe.

Die regverdige vind sy vruegde in die woord van die Here en oordink dit dag en nag. Hierdie is die voorbeeld wat wil navolg.

Is hier ‘n AFDWALING om te vermy? 

Die afdwaling om te vermy is dan natuurlik die voorbeeld van de goddeloses. Die goddeloses is dan die wat vrye, onverdiende, liefdevolle genade van God verwerp en kies om nie in ‘n verhouding met Hom te lewe nie. Hierdie mense het geen vastigheid nie en terwyl die regverdige die vastigheid van ‘n boom by waterstrome het, beleef die goddelose die verwarring soos die van kaf wat deur die wind waarheen ookal gewaai word. Daar is net eenvoudig geen weerstand nie. Hulle het ook geen verweer wanneer die Here oor hulle sou oordeel nie.

Is hier REDE om te loof? 

Ek kan die Here loof vir sy Woord in my lewe. Wanneer ek op hierdie manier oor die Woord dink, dan is dit ook nie eens so moeilik om in die Woord van die Here my vreugde te vind nie. Dink net aan die gevolge van ‘n lewe wat met die Woord van God deurdrenk is. Ek wil die Woord van die Here al hierdie dinge in my lewe laat wees. Ek loof die Here vir die vastigheid wat Hy deur sy Woord in my lewe  bring. Ek loof die Here omdat Hy my op my pad lei. Ek loof die Here omdat ek die verwagting kan hê dat ek voorspoedig sal wees in alles wat ek aanpak.

Is hier ‘n KNIELGEBED om te bid? 

Ek skryf my gebed aan die einde.

Is hier ‘n INGESTELDHEID/GESINDHEID wat kan verander? 

Hoe meer ek oor die Psalm dink, hoe meer wonder ek oor persoonlike besluite wat ek in my lewe moet neem. Ons sê so maklik: “Gaan bid daaroor!” Maar wat maak mens dan nou wanneer jy daaroor bid? Hoe weet jy wat die regte besluit is wanneer jy daaroor bid? Ek weet daar sal getuies wees van mense wat sê: “Ek bid daaroor en dan weet ek net daarna wat die regte besluit is en dan neem ek die besluit?” Maar my vraag aan sulke mense sal wees: “Kan jy vir my in alle eerlikheid verseker dat jy nog elke keer wat jy so gevoel het, die regte besluit geneem het en nooit ooit die verkeerde besluit geneem het nie?” Dalk is ek verkeerd, maar ek dink nie dit is so nie.

My persoonlike gevoel is dat ek ook my besluite met die Here deurpraat. Ek skryf daaroor in my joernaal. Ek speel met die gedagte terwyl ek stil is voor die Here. Ek laat hierdie besluite saam met die Woord deur my gedagtes maal wanneer ek dag en nag ‘n kansie kry. Ek vra dat Hy aan my die regte leiding deur sy Gees sal gee. Met die verloop van tyd kom daar soms meer duidelikheid in ‘n sekere rigting en dan neem ek daardie besluit. Ander kere kom daar geen duidelikheid in enige van die rigtings nie. Dan moet ek aanvaar dat die een dalk nie noodwendig ‘n beter keuse as die ander is nie. Hoe dit ookal sy. Die gesindheid wat ek wil verander is om geen besluit in my lewe te neem as ek dit nie met die Here in gebed deurgepraat het nie.

Ek wonder hoe beleef jy die “leiding van die Here” in jou lewe?

Is hier ‘n EGTHEID/WAARHEID om te glo? 

Die waarheid wat ek vanoggend kies om te glo, is dat die regte verhouding met die Here het dissipelskap tot gevolg.

GEBED

Baie dankie, hemelse Vader, vir U onverdiende liefde en genade. Dankie dat U nog voordat ek kon kies of vra, nie U Seun, Jesus Christus, my sondeskuld en sondelas laat dra het nie, maar ook gekies het om ‘n verhouding met my te hê. Ek aanvaar vanoggend opnuut weer U uitnodiging om in ‘n regte verhouding van regverdighheid met U te leef. Leer my om my vreugde in U woord te vind en dit dag en nag te oordink. Leer my hoe om saam met U al die besluite in my lewe te neem.

Amen

2 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

2 responses to “‘N REGVERDIGE DISSIPEL (DAG 38)

  1. Christelle van der Walt

    Ds. Attie, goeie môre, dit is so mooi geskryf. Wat ‘n groot genade (versekering) het ons net nie as gelowige dat ons lewens verseker veilig is in GOD se HANDE nie. Dit gee ons gemoedsrus. Dit kom so helder deur vanoggend.

  2. Christelle van der Walt

    [image: Inline image 1]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s