SOOS ‘N BOOM BY WATERSTROME (DAG 37)

Die bome in ons tuin is meestal bladwisselend. Reg voor ons kamer is ‘n groot boom (Ek het nou al twee keer sy naam gehoor, maar vergeet dit elke keer). In die somer is die boom se blare so dig dat jy met tye onder hom kan staan as dit reën en jy sal nie nat reën nie. Regtig ‘n mooi boom. In die winter gooi hy elke liewe blaartjie af en staan hy daar kurkdroog. Elke keer as ek na hom kyk dan wonder ek of hy nie dalk hierdie jaar heeltemal verdroog het nie.

Die boom in ons tuin laat my na aanleiding van hierdie week se Psalm dink aan die seisoen in my geestelike lewe. Soms is dit somer en die boom is welig, mooi om na te kyk en ‘n te ken van groei. Ander kere is dit winter. Dood. Mens wonder of daar ooit weer iets daaruit kan groei.

In Psalm 1 word die persoon wat sy vreugde in die woord van die Here vind en dit dag en nag oordink, vergelyk met ‘n boom.

“Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” (Psalm 1:3)

Vandag se oefening is om van die SIEN DIT! metode gebruik te maak en hierdie prentjie te sien. Ek sien in my geestoog ‘n boom wat tussen waterstrome staan. Ek sien die boom soos mens dit soms in flieks ook sien. Ek sien hoe seisoene binne ‘n paar minute kom en gaan. Ek sien die warm son en ek sien storms. Ek sien bitter koue en erge hitte. Ek sien hoe die blare van hierdie boom nie verkleur of afval nie. As jy nader kom en die boom van mooi bekyk, dan sien jy altyd die tekens van nuwe takkies wat uitgroei. Amper onopsigtelik word die boom net nog groter en nog weliger. Ek sien hoe daar op die regte tyd mense aangestap kom na die boom om van sy vrugte te pluk en dit te eet. More kom hulle weer terug omdat die boom sy vrugte in oorvloed dra. In die snikhete dae sien ek hoe mense aangestap kom om in sy skadu te rus.

Ek sien in my geestesoog hierdie prentjie en dink daaraan dat die boodskap van Psalm 1 eintlik is dat die mense wat sy vreugde vind in die woord van die Here en dit dag en nag oordink, soos hierdie boom is. Ek wil waag 0m te sê: Die geheim van dissipelskap is uit! Dissipelskap is nie een of ander wêreldvreemde leefstyl nie. Jesus het gesê dat ons waarlik sy dissipels is as ons in sy woorde bly. Dissipelskap is om in die Woord van die Here my vreugde te vind en dit dag en te oordink. Die enigste voorwaarde is dat ‘n wesenlike deel van “oordink” is om te dink oor die vraag: “Wat is die praktiese implikasie van hierdie skrifgedeelte vir my vandag? Wat wil die Here hê moet ek nou gaan doen na aanleiding van hierdie gedeelte? Dissipelskap is dan om in gehoorsaamheid aan die Woord van die Here my lewe te gaan leef waar ek dit ookal leef. By my huis, werk, in my huwelik, gesin, vriende, kerk, waar ookal.

WAT WIL DIE HERE HÊ MOET EK NOU DOEN? 

Die eerste ding is natuurlik dat ek moet seker wees dat ek my vreugde vind in die woord van die Here en dit dag en nag oordink, sodat ek kan wees soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Dit beteken vir my dat ek die gewoonte wat opnuut oor hierdie 40 Dae gevestig is, moet volhou om daaglikse oor God se woord te mediteer.

Ek dink vanoggend baie spesifiek aan die kinders by my in die belydenisklas. Ek sien hierdie jaar as ‘n dissipelskapjaar vir hulle. EK wil hulle voorberei om as dissipels van die Here Jesus te gaan lewe. Maar ek is na gisteraand se gesprek meer en meer daarvan oortuig dat ek hulle moet begelei om onder andere die gewoonte van tyd alleen met God in hulle lewens te vesitg. Maar saam met daardie tyd alleen altyd die vraag: Wat wil die Here hê moet ek na aanleiding van hierdie verse doen? Ons het gisteraand ook gepraat oor geestelike “buddies”. Iemand wat my verantwoordbaar hou vir my tyd alleen met God en wat daaruit voortvloei. Ek wil graag die ding hierdie jaar vir die Here doen.

Ek sien egter ook die belofte raak. “Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpaak.” (Psalm 1:3c) Ek sal op hierdie belofte steun.

GEBED

Hemelse Vader, ek wil graag hierdie boom wees wat vrugte dra op die regte tyd en waarvan die blare nie verdroog. Ek wil ‘n boom in U tuin wees wat funksioneel is. As mense vrugte daar kom soek, dan moet hulle vrugte daar kom kry. As hulle in die skadu skuiling wil kom soen van die warm som, moet hulle dit kry. Ek dink vanoggend terug aan die tye in my lewe toe die boom tog so ietwat verdroog het omdat U Woord nie die regte rol in my lewe gespeel het nie, en gehoorsaamheid nie altyd daar was nie. Vergewe my daarvoor en wil U my deur die leiding van die Heilige Gees daarvan weerhou in die toekoms. U ken die stukkie gehoorsaamheid waartoe ek myself vanoggend wil verbind. Dankie dat ek ook kan staatmaak op U belofte wat sê dat ek voorspoedig sal wees in alles wat ek aanpak.

AMEN

 

2 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

2 responses to “SOOS ‘N BOOM BY WATERSTROME (DAG 37)

  1. Christelle van der Walt

    Lieflik, lieflik, lieflik! Ds. Attie. “Die oumense praat nie verniet van as ‘n kind klein is moet jy die sagte takkies snoei sodat die kind nie vorm in ‘n bos maar in ‘n mooi boom.” Ja en daar gaan storms kom in jou lewe partykeer breek daar ‘n tak af en iemand kom graveer iets op jou stam in gebrand in jou lewe of kom besoedel daar rondom jou boom. Ons moet nie toelaat dat die verkeerde met ons bome gebeur nie maar net die goeie. Ons moet GOD trots maak op ons mense-bome.

  2. Henry

    Dit moes seker ‘n olyfboom gewees het. Immergroen wat vrugte dra. Lang, warm somers en kort, koue winters. Dit klink vir my na die regte verjaarsdagwens vir myself. Amen.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s