DIT GAAN GOED MET DIE MENS WAT… (DAG 36)

Ons is in die laaste paar dae van ons 40 Dae in die Woord Veldtog. Vir my persoonlik was dit wonderlik om op hierdie verskillende maniere met die Woord om te gaan. Ek is opgewonde oor die gedagte dat my stiltetyd nie weer in ‘n groef hoef te beland nie. Ek voel ek het ses verskillende metodes baasgeraak waarmee ek die Bybel in my stiltetyd kan hanteer.

Hierdie laaste week kyk ons na Psalm 1 en ons gaan elke keer ‘n ander metode gebruik om die Psalm te lees.

KIES ‘N VERS UIT PSALM 1. LEES DIE VERS ‘N PAAR KEER, STOP NA ELKE WOORD EN SKRYF JOU GEDAGTES NEER. 

Die vers wat kies is verse 1 en 2:

“Dit gaan goed met die mens wat… in die Woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.” (Psalm 1:1-2)

Ek gaan nie na elke woord stop nie, maar na elke frase.

DIT GAAN GOED…

My eerste reaksie is om die ooglopende betekenis te ignoreer. Dat dit regtig sommer net goed sal gaan. Ek sien die Amplifed Bible het hier BLESSED (HAPPY, fortunate, prosperous and enviable). Ek kan vanoggend nie anders as om hierdie belofte vir myself toe te eien nie. Ek wil God se seën beleef; ek wil geluk beleef; ek wil sien dat my planne uitwerk ek wil hê dat die wat nie is waar ek is nie so jaloers sal wees dat hulle ook sal wil kom waar ek is.  Daarmee bedoel ek dat hulle jaloers sal wees op God se seën in my lewe.

… MET DIE MENS …

Hierdie “goed gaan” of “blessedness” word nie deur alle mense beleef nie. Dit gaan met ‘n spesifieke persoon of ‘n spesifieke groep mense of tipe mens goed. Alhoewel dit met die persoon van wie ons praat goed gaan, is daar iets wat hom/haar duidelik onderskei van die met wie dit dan nie goed gaan nie. Met ander woorde, as jy hierdie besondere geluk of seën wil beleef, dan is daar iets wat jy kan doen.

… WAT IN DIE WOORD …

Hierdie is waaroor dit hierdie 40 Dae gegaan het: Om in die Woord te wees. Stiltetyd en meditasie of oordink of herkou van die Woord, dit is waaroor hierdie “in die Woord” gaan. Om “in” die Woord te wees is na hierdie 40 Dae vir my meer as om elke dag “stiltetyd” op my “Om Te Doen Lysie” af te merk. My oordenking van die Woord word die deurdrenking van die Woord. Ek eet die Woord soos kos en ek drink die Woord soos water. Ek is in die Woord en die Woord is in my.

… VAN DIE HERE …

Baie mense het baie mooi goed geskryf oor die Bybel. Maar, as ek lees wat iemand anders geskryf het, het ek nog nie gelees wat die Woord sê nie. Ek het in hierdie 40 Dae elke dag hier by die Koffietafel my eie gedagtes kom neerskryf. Ek hoop en vertrou dat jy eers self die Woord gelees en en dit oordink het en dit herkou het. Natuurlik kom dit nie maklik nie en natuurlik hoef jy nie so baie te skryf as wat ek skryf nie. Maar ek en jy moet met die Woord van die Here besig wees en nie met ander mense se woorde nie. Ander mense se woorde kan ons help om die Here se Woord onder die knie te kry, maar op die ou end moet ek by die Here se Woord vassteek.

Hoe meer ek die Woord van die Here lees, en hoe groter rol die Woord van die Here in my lewe speel, hoe meer neem ek die kleur, die geur, gestalte van die Outeur aan. Ek word meer en meer soos die een (of iets) wat ek die grootstse sê in my lewe gee.

Iemand maak in die week die opmerking dat almal wat die 40 Dae gedoen het nie soveel uit die tekste kan al wat ek as teoloog kan nie. Ek dink natuurlik dit is waar. Maar, indien jy hierdie metodes in jou lewe bly toepas en indien jy toelaat dat die Woord van die Here jou lewe deurdrenk en indien jy doen wat die Woord sê, waarborg ek jou dit wat jy in jou joernaal skryf binne ‘n jaar nie sal terugstaan vir dit wat ek skryf nie.

… SY VREUGDE VIND …

Hoe is dit om vreugde te vind in iets of iemand? Ek vind byvoorbeeld vreugde daarin om by my vrou, Renate,  te wees. Ons hoef nie verskriklike groot dinge te doen en altyd met iets besig te wees nie. As ons net bymekaar is, dan is daar ‘n diep en stil vreugde in my aanwesig.

Maar, ek  het ook met die verloop van tyd geleer wat dit is wat haar gelukkig maak. (Soos om vir haar in die oggend koffie in die bed te vat.) Ek vind veugde daarin om vir haar die dinge te doen wat haar gelukkig maak. Om vreugde te vind in die Woord van die Here beteken vir my om die vreugde van gehoorsaamheid te ervaar. Ek weet my gehoorsaamheid aan die Here bring vruegde vir die Vader – dit verheerlik die Vader. Wanneer ek deur my omgang met die Woord ontdek wat dit is wat die Here van my vra, dan is dit vir my lekker om Hom te gehoorsaam omdat ek weet dit vir Hom vreugde bring.

Ek vind vreugde in die Woord van die Here wanneer die Woord van die Here deur my verstand afsak na my hart en tot uitdrukking kom in my hande en my voete.

… DIT DAG EN NAG OORDINK …

Ek is vanoggend so dankbaar dat die vers verder gaan as net die vreugde vind (in gehoorsaamheid). Ek is soms bekommerd dat daar aan Christene ‘n boodskap oorgedra word wat daarop neerkom dat as jy nie iewers in die slums besig is om ‘n arm en behoeftige persoon uit die modder op te tel nie, dan is jy ‘n minderwaardige Christen.

Om vreugde te vind is vir my die uitdrukking van gehoorsaamheid. Dit dag en nag oordink is die intimiteit of nabyheid. Kan ons die twee losmaak van mekaar? Nooit nie! Geloof (Nabyheid) sonder werk (Gehorosaamheid) is sonder meer dood. Maar werke (Gehoorsaamheid) sonder geloof (Nabyheid) beteken ook niks nie. Werke sonder geloof kan dalk van die wêreld ‘n beter plek maak, maar die beste wêreld is ‘n wêreld waar mense onder die koningsheerskappy van Christus lewe.

Hierdie DAG EN NAG OORDINK beteken vir my dat ek die hele dag lank besig is om die Woord te oordink en te herkou en die Woord wat ek oordink en herkou te gehoorsaam. Die oordink van die Woord verander hoe ek dink (Verstand) en hoe ek voel (HArte) en hoe ek lewe (HAnde en voete). Dan help ek mense in nood, en ek dra by tot die verligting van armoede, waar ook al, maar omdat die Here my hart nuutgemaak het en ek hierdie mense begin sien soos Hy hulle sien.

Verhouding met God staan vir my op twee bene: Eerstens, die vreugde vind in die doen van die Woord van die Here en die intimiteit van ek oordink sy Woord dag en nag.

IN WATTER OPSIG IS DIE VERS OP JOU LEWE VAN TOEPASSING

Aan die einde van my bepeinsing het “Dit gaan goed…” amper nuwe betekenis gekry. Ek glo dat as ek die Woord van die Here dag en nag oordink en ek toelaat dat Hy deur sy Woord en sy Gees my lei in alles wat ek doen, gaan ek regte besluite neem en goeie keuses maak en gaan ek binne die wil van die Here leef. As ek dan binne die wil van die Here leef, kan enige storms en enige omstandighede en enige swaarkry, maar kom. Ek sal steeds gelukkig kan wees.

Tog, hoef ek nie skaam te wees om die Here ook te vertrou vir die goeie in hierdie lewe nie. Ek sal net nie my geluk en vrede afhanklik maak daarvan nie.

Ek dink ook die Here wil vanoggend vir my vra: Gee jy genoeg aandag aan die uitleef, die gehoorsaamheid aan My Woord? Ek dink ek moet ook tyd gee om nie net te vra:Wat wil die Here hê moet ek doen? nie, maar ook net soveel aandag aan die uitleef daarvan.

GEBED

Hemelse Vader, baie dankie vir U Woord. Dankie dat ek vanoggend uit die diepte van my hart kan sê dat ek weet wat dit beteken om in U vreugde te vind. U het my laat beleef wat dit beteken dat U deur die Bybel self in my lewe aan die Woord kom. U het my ook selfs die vreugde van gehoorsaamheid laat beleef. Ek wil U Woord dag en nag oordink. Maar, ek wil U Woord dag en nag oordink sodat U Woord vir my die pad kan wys. Laat U Woord in sy volle rykdom in my woon.

Amen

2 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

2 responses to “DIT GAAN GOED MET DIE MENS WAT… (DAG 36)

  1. Christelle van der Walt

    Ek het dit ook al baie kere ondervind as mens na antwoorde soek of raad nodig het moet jy daaroor peins. Dit moet jou sit, staan, loop, slaap en eet word. Geseënde dag Ds. Attie.

  2. Cecois Ferreira

    Hi, ek wou net iets deel omtrent wat ek gelees het op jou webwerf….. vroeg in 2008 het ek n droom gehad, in die droom het n vrou aan my verskyn, sy het n lang wit kleed aangehad wat onder tot op haar enkels gehang het, sy het kort voor my in die lug gesweef en toe vra my : “wat is jou naam?” Ek antwoord toe: ” Cecois.” Toe se sy vir my: ” Die HERE se dit sal goed gaan met jou.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s