GOD SAL IN JULLE BEHOEFTES VOORSIEN (DAG 35)

Ek was vir twee dae by ‘n werksessie van ‘n taakspan van die Noordelike Sinode. As gevolg daarvan kon ek nie gister-oggend (Dag 34) se meditasie doen nie. Vandag se vers het die wonderlikste belofte in.

“My God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (Filippense 4:19)

As ek die vers persoonlik maak lees dit as volg:

“My God sal in elke behoefte van my, Attie, voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”

Elke behoefte… kan dit wees dat iets uitgesluit is van “elke behoefte”? Kan dit wees dat daar iets wat ek dalk nie van God kan verwag nie?

As ek die vers moet skryf asof God dit self vir my sê, dan lyk die vers so:

“Attie, ek sal in elke behoefte wat jy het, voorsien volgens My wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”

Skielik sien ek die “kwalifisering” raak – volgens “sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” Ek kyk na die Nuwe Lewende Vertaling en daar is ‘n verwysing na 2 Korintiërs 9:8. Dit is dalk die moeite werd om die vers ook te lees.

“En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte  altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Kor 9:8)

Hierdie vers maak my oë oop vir ‘n paar gedagtes. Ek sal in alles genoeg hê, nie wat ek dink genoeg is nie (dit is gewoonlik te veel), maar genoeg.  Die oorvloed is God se oorvloed en nie myne nie. Die bedoeling is nie dat ek die oorvloed sal hê nie. God het die oorvloed en uit sy oorvloed voorsien Hy in my behoeftes, genoeg – nie te veel nie. Met ander woorde hier is nie sprake daarvan dat ek van God kan verwag om vir my in alles oorvloedig te voorsien nie.

Die rede waarom God uit sy oorvloed in my behoeftes voorsien is SODAT  (belangrike woord) ek uit my oorvloed kan bydra vir elke goeie werk. Met ander woorde, die oorvloed wat God aan my skenk is sodat iemand uit my oorvloed (God se oorvloed) voordeel kan trek.  Filppense 4:19 se “elke behoefte” is nie gelyk aan watter wenslysie ek ookal kan optower en dan by God kan gaan aanspraak maak om op grond van hierdie vers daarin te MOET voorsien nie. (Dit is voorspoedteologie en nie gesonde Bybelseteologie nie.)

Ek weet dat ek soms moeg word om dit te hoor, maar ek moet besef dat die oorgrote meerderheid van ons wat hier lees in die kategorie val van mense aan wie daar reeds deur die genade van God oorvloedig in elkeen van ons behoeftes voorsien is. As ek die vers vanoggend reg verstaan, dan lyk dit vir my dat God oorvloedig in my behoeftes voorsien sodat ek die kanaal kan wees waardeur Hy vanuit sy oorvloed in iemand anders se behoefte kan voorsien. Niemand se voorsiening van sy behoefte val uit die lug uit nie. God voorsien in almal se behoeftes volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus deur ander mense.

Ek het einde verlede maand ‘n goeie salaris gekry omdat daar lidmate is wat uit hulle oorvloed hulle dankoffer gegee het. Ons gemeente help by verskillende aksies en projekte vir mense in nood omdat daar lidmate is wat uit die ryklike voorsiening van God hulle dankoffer gereeld gee.

HOE IS HIERDIE VERS OP MY LEWE VAN TOEPASSING EN WAT GAAN EK DAAROMTRENT DOEN?

Wat is die tydlose waarheid in hierdie gedeelte? God het onmeetbare oorvloed waaruit Hy in elkeen van my behoeftes kan voorsien.

Hoe lyk ek in die spieël van hierdie skrifgedeelte? Ek het dit hierbo genoem. God het reeds ryklik in soveel van my behoeftes voorsien. Ek moet vir myself die vraag afvra: Waarvoor wil ek die voorraadskuur van God se oorvloed gebruik? Vir my eie skuur, of sodat Hy dit deur my kan gebruik om in ander se behoeftes te voorsien. Wil ek ‘n skuur wees of wil ek ‘n kanaal wees?

Wat wil God hê moet ek daaromtrent doen? Ek dink God wil opnuut weer vir my vra om na my gesindheid te kyk teenoor die dinge waarmee Hy my reeds vanuit sy oorvloed ryklik geseën het. Ek dink God wil hê ek moet myself sien as ‘n kanaal waardeur sy goedheid na behoeftes van ander vloei. Maar, ek dink ook God wil my daarvan verseker dat ek nie bang hoef te wees om ‘n kanaal te wees nie. As ek die kanaal is, gaan Hy in elkeen van my behoeftes bly voorsien.

GEBED

Hemelse Vader, dankie vir die seker wete dat U in elke behoefte wat ek het ryklik sal voorsien volgens die wonderbaarlike rykdom wat daar ook vir my in Christus Jesus is. Dankie vir die onmeetbare rykdom van verlossing wat ek reeds ontvang het deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. Ek wil nie ‘n skuur wees deur die oorvloed waarmee U my seën op te gaar nie. Ek wil ‘n kanaal wees deur wie die rykdom van U oorvloed vloei tot by hulle wat behoeftes het. Ek wil in geloofsvertroue op U staatmaak vir die dag van môre en nie vir een oomblik dink dat ek self moet voorsien nie.

Amen

2 thoughts on “GOD SAL IN JULLE BEHOEFTES VOORSIEN (DAG 35)

Add yours

  1. Hi Doom
    Hierdie behoeftes waarin God so ryklik voorsien sluit sekerlik ook emosionele, geestelike en liggaamlike behoeftes in. In my stiltetyd bid ek vanoggend vir drie mense wat groot operasies gehad het. Ek bid vir ‘n ander goeie vriend van ons gesin met ‘n ongeneeslike siekte. Ek bid dir ‘n ouerhuis wat deur diepwaters gaan. My gebed vir hulle is: “Here, sal U asseblief ryklik voorsien in elkeen van hulle se behoeftes volgens U wonderbaarlike rykdom in Christus.”

  2. Gegroet my Ds. Attie, ek wil net dankie sê vir die wonderlike “pitkos” noem dit “padkos” wat ek rondom jou gesprekke optel. Ek geniet die geloofsgeprekke baie omdat dit my siel voed op ‘n besonderse manier. Dankie Ds. Attie!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: