DIE VREDE VAN GOD IN JOU ( DAG 33)

Vandag se vers is weereens ‘n baie bekende vers. Ek begin al amper dink dat elke vers in Filippense ‘n “bekende” vers is.

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagte die wag hou in Christus Jesus.” (Filippense 4:6-7)

Is hierdie nie net eenvoudig van die wonderlikste beloftes wat ‘n mens kan lees nie. As ek dit nou persoonlik moet maak, lyk dit vir my die vers gaan iets soos die volgende lyk: 

Ek, Attie, moet oor niks besorg wees nie, ek, Attie moet net al my begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend maak. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor my hart en gedagte die wag hou in Christus Jesus.

Skielik besef ek dat net die persoonlike lees van die vers alreeds ‘n stukkie vrede en rustigheid in my lewe inbring. As ek nou die vers moet herskryf asof God dit direk vir my sê, dan lyk die vers so:

Attie, jy moet oor niks besorg wees nie. Jy moet net al jou begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan My bekend maak. Wanneer jy dit doen, sal My vrede wat alle verstand te bowe gaan, oor jou hart en gedagte die wag hou in Christus Jesus.

Ek voel amper om te sê dat mens nie die Woord so mag hanteer nie. Dit raak net te persoonlik en te direk. Dan dink ek weer daaraan dat die Here juis vir ons die Woord gegee het om aan vas te hou in moeilike tye. Hierdie vers is bedoel vir die gemeente in Filippi en is deel van Paulus se laaste woorde aan die gemeente aan die einde van sy brief. Hy noem die een opdrag na die ander. Onder andere dat hulle deur gebed rustigheid en kalmte en vrede by God kan kry.

HOE IS HIERDIE VERS OP JOU LEWE VAN TOEPASSING EN WAT GAAN JY DAAROMTRENT DOEN?

Ek kan my nogal maklik oor baie dinge bekommer. Vir een of ander rede sukkel ek nie om ander mense se nood en seer en probleme en vrae en worsteling in gebed na die Here te bring nie, maar ek huiwer soms om dit met my self te doen. Ek betrap myself soms dat ek dink die ou dingetjie wat my pla is te nietig om die Here mee lastig te val. Ek is vanoggend onder die indruk dat ek maar met groot vrymoedigheid my eie nietighede na God toe kan bring.

Ek wens ek kon sê dat ek elke keer wanneer ek so ‘n saak in gebed na die Here toe neem, dan los Hy die saak op en alles is weer 100%. Dit is egter nie waar nie. Ek kry ook nie die belofte daarvan in heirdie vers nie. Ek kry net die belofte van vrede. Wanneer ek op die ou end met God in gesprek gaan en sommer net my hart teenoor Hom uitpraat, doen Hy deur sy Heilige Gees ‘n wonderlike werk in my. Daar kom vrede. Ek dink dit is ‘n klein bietjie van daardie vrede wat Jesus gekry die aand toe Hy in Getsemané met sy Vader geworstel het oor die bitter beker wat Hy moes drink. Sy Vader het nie die beker van Hom weggeneem nie. Hy moes die bitter beker van lyding en pyn en dood leeg drink. Maar, die manier waarop Hy dit gedoen het, getuig van vrede – vrede wat alle verstand te bowe gaan. God se vrede wat oor sy hart en gedagte wag gehou het.

‘n Mooi uitdrukking in die vers is: “oor julle harte en gedagtes die wag hou”. As ek so ‘n klein bietjie van die “SIEN DIT!” metode gebruik maak, dan sien ek hoe “vrede” aangetrek is soos ‘n wag en by die ingang van my hart en my gedagtes staan om seker te maak dat net vrede daar in beheer is.

Ek wil ook met God praat oor alles wat op my hart is. In my dapper oomblikke sal ek ook vir Hom vra om sekere bekers by my verby te laat gaan, maar ek sal ook toelaat dat Hy deur sy Gees in my vrede werk wat alle menslike verstand te bowe gaan. Daardie vrede wat mens ook laat bid: “Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.”

GEBED

Hemelse Vader, baie dankie dat U my vanoggend weer daarvan verseker dat ek oor niks in hierdie lewe besorg hoef te wees nie. Ek aanvaar U uitnodiging om al my behoeftes en alles wat my pla in gebed aan U bekend te maak. Ek sien ook daarna uit dat U vrede, U unieke vrede in my lewe sal inkom en oor my hart en gedagte die wag hou.

Amen

3 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

3 responses to “DIE VREDE VAN GOD IN JOU ( DAG 33)

  1. Ek dink aan Spreuke 4:23, “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Net God kan oor hierdie – soms harde – hart van my die wag hou sodat die goeie werk wat Hy in my begin het sal voleindig word op die dag wanneer Christus kom.

  2. Christelle van der Walt

    “Soos ‘n skulp wat sy pêrel toe-vou.” Hoe meer vrede – hoe meer saligheid.
    Onse Vader gee ons almal ‘n dankbare hart vir alles wat ons so onverdiend uit u genade ontvang elkedag. Amen.

  3. Christelle van der Walt

    “maak ons eenvoudig soos hulle wat naby die aarde staan, die sterre sien, die wind hoor, en glo…..”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s