GELOOFSGROEI IS HARDE WERK (DAG 32)

Ek wens soms ek kon dit anders stel, maar ek kan nie. Wat Paulus in hierdie vers sê is waar en elkeen wat geestelike of geloofsgroei beleef, besef dit: Geestelike vorming is harde werk.

“Ek span my in om dit alles myne te maak, omdat Christus Jesus my reeds syne gemaak het.” (Filippense 3:12b)

As ek dit dan nou persoonlik moet maak, dan gaan die teks so lees:

Ek, Attie, span my in om dit alles myne, Attie s’n, te maak, omdat Christus Jesus my, Attie, reeds syne gemaak het.

As ek dit dan nou sou skryf asof God met my self praat, dan gaan dit so lyk:

Attie, jy moet jou inspan om alles joune te maak, want Attie, Ek het jou reeds Christus s’n gemaak.

Hierdie is een van daardie tekste wat mens binne konteks (Die verse voor en na) moet lees, anders gaan die betekenis verlore. Verse 10 en 11 is baie belangrik:

“Al wat ek wens is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (Filippense 2:10-11)

Daardie “verwagting” waarvan Paulus hier praat het niks te make met ‘n onseker miskien of miskien nie. Hy leef met die vaste wete dat iewers in die toekoms (Verwagting is gerig op iets wat in die toekoms gaan gebeur) gaan hy wat Paulus is deel hê aan die opstanding uit die dood.

Waarvoor Paulus hom inspan is om hier en nou:

(i) Christus te ken

(ii) Die krag van sy opstanding te ondervind

(iii) Deel te hê aan sy lyding

Nie een van hierdie drie dinge kom vanself nie. Al drie vra harde werk. Harde werk van iemand wat reeds deur die kruisdood van Jesus Christus, Christus s’n geword het. Harde werk van iemand wat met die seker wete leef dat hy of sy reeds aan Christus behoort. Ek is reeds syne. Ek span my nie in om syne te word of syne te wees nie. Ek is dit reeds.

Die eerste deel van vers 12 is net so belangrik,

“Ek sê nie dat ek dit alles al het nie of die doel al bereik het nie, maar ek span my in…” (Filippense 3:12a)

Die betekenis is tog duidelik. Ek behoort aan Christus. Niks of niemand kan dit ongedaan maak nie. Maar ek het nog nie alles wat ek moontlik in hierdie lewe kan wees vir myself toegeëien nie. Ek is nog nie alles wat Christus bedoel het ek kan wees nie. En sonder harde werk, gaan ek ook nie daar kom nie.

HOE IS HIERDIE VERS OP MY LEWE VAN TOEPASSING EN WAT GAAN EK DAARMOTRENT DOEN?

Die praktiese toepassing is vir my dat hierdie 40 Dae in die Woord my opnuut bewus gemaak het van hoe belangrik dit is om tyd te gee waar God my deur die Woord en deur die Gees kan vorm en kan verander. Ek is God se onvoltooide simfonie, sy onafghenadelde kunswerk, sy gebou in aanbou. Ek besef vanoggend dat die Here vir my wil sê dat ek nie my volle God-gegewe potensiaal gaan bereik sonder inspanning en opoffering nie. Hierdie inspanning behels ook dat ek my leefstyl en my gedrag sal moet verander wanneer die Here dit van my verwag. Ek wonder of die inspanning nie die meeste hiermee te make het nie – die verandering wat deurlopend in my lewe nodig is indien ek wil hê dat my lewe die Woord ver-woord.

In verse 13-14 word die metafoor van ‘n atleet gebruik.

Ek kyk twee weke terug na die toets tussen Suid-Afrika en Pakistan en luister na die kommentaar. Een van die kolwers (Alviro Peterson) het in hierdie reeks nie na wense presteer nie. Kepler Wessels bespreek toe die foute wat daar is met die manier waarop hy voor die paaltjies beweeg. Indien Alviro Peterson die kolwer wil word wat hy duidelik die potensiaal het om te wees, sal hy in sy kolfstyl ‘n paar veranderings moet aanbring en nuwe gewoontes aanleer en ou gewoontes afleer. Om dit reg te maak, gaan beteken dat hy baie ure in die nette sal moet deurbring en baie instruksies en wenke van sy afrigter, Gary Kirsten en ander goeie kolwers in die span, moet aanhoor.

Ek sien hierdie inspanning waarna Paulus hier verwys as dieselfde. Ek (en elke ander persoon wat in Jesus Christus glo) is klaar in Christus se span. Ons “kolf” egter nie volgens ons volle potensiaal nie. Ten einde ons potensiaal in Christus se span te verwesenlik, sal ek baie ure in die “nette” (binnekamer, eredienste, kleingroep) moet deurbring en mooi moet luister na my “Afrigter”, die Heilige Gees, en ander spelers in die span (My kleingroep of mede-gelowiges) en aanpassings moet maak.

Die praktiese vraag waarmee ek gekonfronteer word, is: Sien ek kans vir die inspanning wat nodig gaan wees om my volle potensiaal in Christus se span te verwesenlik?

GEBED

Here Jesus, baie dankie dat ek kan weet dat ek ten volle aan U behoort. Ek besef vanoggend dat ek nodig het om hard te werk om my potensiaal in U span te verwesenlik. Gister het ek gelees dat U my gewillig en bekwaam maak om U wil uit te voer. Ek bid vanoggend dat U in my die wil sal gee om die opofferings te maak wat ek moet maak, en dat U, Heilige Gees, as my Afrigter van my ‘n goeie speler in U span sal maak. Ek wil graag alles wees wat U bedoel het dat ek moet wees.

Amen

4 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

4 responses to “GELOOFSGROEI IS HARDE WERK (DAG 32)

  1. Christelle van der Walt

    My dierbare Attie, jy skryf met soveel liefde dat my hele kantoor daarmee gevul is. Fillipense 2: 10-14 is een van my BESTE BYBELVERSE. Dankie vir mede-gelowiges, VADER, aan wie U besondere gawes van die GEES gegee het. Help my om voluit met hulle saam te werk in u diens. Amen.

  2. Gesina Retief

    Attie
    Baie dankie vir hierdie stukkies elke oggend wat ons help om die 40-dae met die Woord met meer insig en afwagting te deurloop.
    Hierdie “Maak dit Persoonlik” oefening spreek nogal tot my. Ons is so gewoond om sê die Here praat deur sy Woord met ons en ook met my. Maar hier word die “ons” weggelaat en gaan dit net oor “my”.
    Party verse slaan my amper tussen die oë as ek my naam invoeg. Dit praat darem so reguit net met my.
    Geseënde dag aan almal.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s