Die SOM DIT OP! metode waarmee ons hierdie week werk het werklik die potensiaal om elkeen van ons nie net dieper in die betekenis van die Woord in die te neem nie, maar ook te vra: Hoekom sê die Here dit juis nou vir my? Ek was gisteraand verbaas om te sien hoe die tieners hierdie metode baasraak. Vandag kyk ons na Jakobus 1:19-20.
19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.
20’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.
LEES DIT WEER EN WEER
Ek lees eers die vers vir myself ‘n paar keer deur. Ek skryf die woorde of uitdrukkings neer waaroor ek meer sou wou dink. Bv.:
“in gedagte hou.”; “elke mens”; “te gewillig”; “luister”; “nie te gou”; “praat”; “kwaad word”; “nie reg voor God nie”
Nou gaan ek dieselfde gedeelte in ‘n paar ander vertalings lees:
1953 VERTALING
So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.
20Want die toorn van ’n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.
DIE BOODSKAP
Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening. 20Moet jou net nie vererg nie, want wat gaan dit nou help? As jy jou humeur verloor, kan jy mos nie meer daarop ingestel wees om te doen wat God wil nie.
THE MESSAGE
Post this at all the intersections, dear friends: Lead with your ears, follow up with your tongue, and let anger straggle along in the rear. God’s righteousness doesn’t grow from human anger.
NEW INTERNATIONAL VERSION
My dear brothers and sisters, take note of this: Everyone should be quick to listen, slow to speak and slow to become angry, 20 because human anger does not produce the righteousness that God desires.
AMPLIFIED
19 Understand [this], my beloved brethren. Let every man be quick to hear [a ready listener], slow to speak, slow to take offence and to get angry. 20 For man’s anger does not promote the righteousness God [wishes and requires].
WAT PROBEER DIE HERE VIR MY DEUR HIERDIE VERS SÊ?
Dit lyk vir my nogal duidelik dat die Here vir my probeer sê dat ek nie te vinnig kwaad moet word nie. Maar die interessante is dat Hy ook vir my sê hoe ek kan verhinder dat ek vinnig kwaad word. Ek moet “te gewillig” wees, met ander woorde amper oorywerig, om te luister. Ek moet altyd gereed om te luister. Maar as ek net luister en niks meer nie, gaan dit eintlik nie die situasie help nie. As ek die teks so lees dan lyk dit vir my asof die beginsels gebruik moet word in ‘n situasie waar daar potensiaal vir konflik is. In ‘n konflik situasie probeer mens dinge uitpraat en dan moet ons dinge vir mekaar sê. As ek eerder daarop fokus om te luister as wat ek fokus op wat ek gaan sê, gaan ek verder kom.
Met ander woorde, ek moet ook op so ‘n manier luister dat ek weet wat die ander persoon bedoel. In ‘n konflik is daar mos altyd drie perspektiewe, myne, joune en die regte een. As ek altyd ywerig is om te luister gaan ek jou perspektief kry en dan gaan my perspektief nader aan die regte perpektief kom.
Die belangrikste woorde in enige konfliksituasie is: “Het ek jou reg verstaan, bedoel jy….” Of: “Dit lykmy jy voel…”
Ek hou nogal van die Amplified wat sê dat ek nie te vinnig aanstoot (offense) moet neem nie. As ek so vinnig ge-“offend” word, reageer ek vinnig en dan gewoonlik in woede.
Die Ou Vertaling het my nogal getref omdat dit sê dat hierdie kwaad-word bewerk nie die geregtigheid van God nie.Paulus skryf in Efesiërs dat ons mag kwaad word, ons moet net nie sondig nie. Jesus het kwaad geword en die tafels in die tempel omgegooi. As ek daaraan dink dat God deur my sy koninkryk hier op aarde wil laat kom, dan lyk dit vir my hierdie teks sê dat as ek te vinnig met woede reageer dan kan God my nie gebruik om sy koninkryk te laat kom soos Hy graag wou nie. Is dit nie die wese van alle sonde nie, God kan nie sy koninkryk deur my laat kom soos Hy graag wil nie?
Almal van ons weet dat woorde wat in woede gesê word wonde veroorsaak wat baie moeilik genees. Woorde wat in woede gesê word neutraliseer die invloed wat God deur my op hierdie persoon of op ‘n situasie kon gehad het. God se koninkryk groei nie in ‘n klimaat van agressie en woede nie.
SKRYF DIT IN JOU EIE WOORDE
My geliefde mede-gelowiges, werk ‘n manier uit waarop julle julleself deurlopend aan die volgende kan herinner: Wanneer dinge moeilik raak in ‘n verhouding of in ‘n situasie, maak altyd seker jy het goed verstaan wat die ander persoon probeer sê, voordat jy reageer. As jy dit nie doen kan jy dalk net aanstoot neem omdat jy die persoon verkeerd verstaan het. As dit gebeur gaan jy in woede reager en dinge sê wat ander kan seermaak. As dit gebeur lei die saak van die koninkryk skade. Dan kan God jou nie in die persoon se lewe en in die situasie gebruik om Sy Koninkryk te laat kom soos Hy graag wou nie.
ONDERSOEK JOU HART EN KYK HOE DIE VERS OP JOU VAN TOEPASSING IS
Hierdie vers praat met my. Ek neem maklik aanstoot (voel ge-“offend”) deur dinge wat ander mense sê. Ek neem soms dinge wat nie eers direk op my gemik is nie, ernstig op asof dit op my gemik is. Alhoewel ek al deur die jare geleer het om nie reageer nie, bly dit steeds vir my ‘n moeilike saak. Ek sê dan dinge wat verhoudings versuur en situasies lamlê. Intussen het dit al dikwels gebeur dat ek na die tyd agterkom dat die persoon eintlik nie bedoel het soos ek dit verstaan het nie. As ek maar net eers seker gemaak het dat ek die persoon reg verstaan, dan sou dit ook nie gebeur het nie. Ek het ook al gesien dat as mens die regte vrae vra dan praat die persoon wat dan wel die verkeerde motiewe het, hom-/haarself gou vas.
My bekommernis vanoggend is egter dat ek die saak van die koninkryk skade doen deur nie eers mooi te verstaan voordat ek reageer nie. Ek weet ek moet soms die harde en moeilike waarheid praat, maar dit lyk my dit moet eers ‘n proses wees waar ek mooi luister en probeer om agter die kap van die byl te kom.
PRAAT MET GOD DAAROOR
Hemelse Vader, U het aan my die Heilige Gees gegee om my onder andere aan hierdie waarheid te herinner. Heilige Gees ek wil in ‘n verhouding met U lewe waar U my nie net herinner wanneer ek eers moet luister nie, maar dat ek dadelik sal weet dat dit U is wat my herinner. Ek besef dat ek in my stiltetyd en deur Bybelstudie hierdie verhouding moet bou en U stem moet leer ken sodat ek kan weet wanneer U met my praat. Here Jesus, dankie dat U vir my ook die Heilige Gees gestuur het. Help my om so te lewe dat U koninkryk deur my doen en late kan kom.
Amen
Sien jy dalk kans om met ons te deel hoe jy die verse in jou eie woorde sou op som?
Goeie dag. Soos ek dit verstaan is woede, en my ander emosies, nie noodwendig verkeerd nie. Dit kom tog ook van God. Dit is hoe ons dit aanwend waar die probleem kom. Iemand het eenkeer vir my geleer dat my woede nie skade moet berokken horisontaal of vertikaal nie. Dit sluit myself in. Die Bybelse manier is om die energie te gebruik om op die oplossing van ‘n probleem te fokus. Is dit nie wat Jak 1:19,20 vir ons sê nie?
Doom,
Woede per se is nie die probleem nie. Die probleem is hoe jy dit hanteer. Soos jy skrywe het Jesus op ‘n keer of wat self lekker kwaad geword en selfs tafels omgekeer en mense uit die tempel gejaag. Die vraag wat egter gevra moet word is hoekom Hy kwaad geword het? Niemand het Hom of sy persoon skade aan gerig nie, maar het die huis van die Here misbruik en onteer.
Daar is mense wat “kwaad gebore word” en nie hulle woede kan beheer nie en dan is daar mense wat kwaad word, dit uitpraat, en dan aanbeweeg.
Ek moet ook eerlik wees en erken dat ek ook maar goed kwaad kan word oor ongeregtighede en veral vir mense wat vir my lieg en dan praat en nie eers as die WP wen nie, maar dit gebeur maar selde, hehehe. Ek is lankal gewoond aan taxis wat voor my injaag, maar mense wat vir my lieg bly steeds vir my ‘n probleem. My gebed is dat as ek kwaad word, wat deesdae maar selde gebeur, die Here my sal help om my woorde versigtig te kies en my te help dat my optrede van so aard sal wees dat daar iets goeds uit die kwaad sal voortspruit.
Ek sien kwaad word as die einde van die proses. Ek sien dit as dat ek mooi moet luister om seker te maak dat my reaksie ‘n gepaste reaksie sal wees. Ek is bekommerd daaroor dat ons ons eie kwaad word wil regverdig. Dit bly steeds beter om nie kwaad te word nie. Ek wil eerder vir myself ‘n doelwit stel om nie glad nie kwaad te word nie as wat ek vir myself ‘n doelwit stel om net onder sekre omstandighede kwaad te word. Ek kan nie eers van een keer in my lewe onthou dat ek na my eie kwaad word gevoel het dat ek die koninkryk gedien het nie. en ek kan ook nie van een keer onthou wat ek die slagoffer van selfs “geregverdigde kwaad word” was, wat ek daarna gevoel het nou het hier iets gebeur waarop die Here trots kan wees nie. Ek was egter al by waar kwaad word geregverdig kon wees, maar ‘n sagte reaksie het harte gewen en omstandighede gered.
Ek gaan eerder vra dat die Heilige Gees my deurlopend daaran herinner dat my reaksie gepas moet wees en dat ek met ‘n ‘n woord in liefde baie verder kom as met ‘n woord in woede.
Julle moet nou nie vir my lag nie Ds. Attie –
In elke mens is daar ‘n “skaap” en ‘n “wolf”. Dit simboliseer die goed en die kwaad. Dit hang nou net van jouself af (jou besluit), watter een jy die meeste gaan voer.
As jy die “wolf” net voer vrek die “skaap” en as jy die “skaap” net voer vrek die “wolf”.
So die keuse is joune en die gevolge moet jy kan dra.