WEES BLY OOR JOU SWAARKRY (DAG 22)

Hierdie week se metode is ‘n besondere metode. Die teksvers wat in die kleingroepe met behulp van die metode behandel gaan word, is Hebreërs 4:12 waarin die Woord van God as ‘n skerp twee-snydende swaard beskryf word. Wanneer mens hierdie metode begin gebruik, dan word die Bybel inderdaad skerper as ‘n twee-snydende swaard en lê dit ‘n mens se diepste bedoelings bloot. Ons noem hierdie metode die SOM DIT OP! metode. Die bedoeling is dat jy die paar verse in jou eie woorde saal opsom of parafraseer.

Ons lees hierdie week die boek Jakobus. Jakobus het vyf hoofstukke. Ons gaan elke dag by ‘n paar verse uit Jakobus stilstaan. Vandag se verse is Jakobus 1:2-4.

Uitdagings2 My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom,

3 want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.

4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.

‘n Mens sou dalk kon gaan sit en vinnig ‘n parafrase hieroor skryf en daarmee dink dat jou werk afgehandel is, of jy sou bietjie “werk” kon insit en die teks toelaat om met jou te werk. Jy kan op die volgende manier bietjie werk insit: 

LEES DIE TEKS WEER EN WEER

Ander vertalings help altyd wanneer ‘n mens die Bybel op hierdie manier wil lees. Daar is twee bekende parafrase algemeen beskikbaar, naamlik The Message en Die Boodskap.  Daar is ook die Amplified Bible wat alternatiewe interpretasies vir sommige woorde gee. (Al drie hierdie vertalings kan op die Internet by YOUVERSION gelees word.

Die Boodskap:

2 My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees.

3 Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef.
4 Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.

The Message:

2-4 Consider it a sheer gift, friends, when tests and challenges come at you from all sides. You know that under pressure, your faith-life is forced into the open and shows its true colours. So don’t try to get out of anything prematurely. Let it do its work so you become mature and well-developed, not deficient in any way.

Amplified Bible

2 Consider it wholly joyful, my brethren, whenever you are enveloped in or encounter trials of any sort or fall into various temptations. 3 Be assured and understand that the trial and proving of your faith bring out endurance and steadfastness and patience. 4 But let endurance and steadfastness and patience have full play and do a thorough work, so that you may be [people] perfectly and fully developed [with no defects], lacking in nothing.

DINK OOR WAT GOD VIR JOU SÊ

Ek hou nie van hierdie teks nie, want ek hou nie van beproewings nie. Maar, dit is ek wat praat en ek weet somme dat dit nie is wat die Here deur hierdie verse vir my wil sê nie. Die gedagte is dat mens eers vir die teks ‘n paar vrae sal vra voordat jy jou eie parafrase skryf of die teks in jou eiw oorde oroskryf. Wanneer ek hieroor begin dink, kom daar sommer so spontaan ‘n paar vrae by my op:

Wat sou met beproewinge bedoel word?

Beproewinge is daardie dinge wat met my gebeur wat my laat wonder of ek nie ‘n fout maak deur op die Here te vertrou nie. Hierdie dinge kan swaarkry wees, of teenslae, of om te sien dat dit goed gaan met mense wat nie op die Here vertrou nie. Wanneer ek onregverdig behandel word of dan die slagoffer van ander mense se boosheid is. As predikant in die gemeente behels dit dikwels teenstand uit ‘n onverwagse oord. As ek hierdie verse lees, dan lyk dit vir my asof hierdie beproewinge ‘n gegewe is. Dit gaan gebeur. Die Amplified praat van “enveloped”; The Message van “from all sides” en Die Boodskap van “by elke geleentheid.”

Ek kry amper die gevoel dat ek met die verwagting moet leef dat daar dinge met my gaan gebeur wat my vertroue in God gaan toets.

Hoe moet ek hierdie gedagte van “baie bly wees” verstaan?

Ek kan myself nie indink as dat ek sal skree “yippee” wanneer so ‘n beproewing oor my pad kom nie. Inteendeel, wanneer dit gebeur is my eerste reaksie dikwels die van teleurstelling, verslaendheid, ongeloof (“Kan nie wees nie!”). Ek sien egter The Message praat van “gift”. Die Boodskap van “wees opgewonde”. Dit lyk my die  Here probeer vir my sê dat ek by die ooglopende en eerste emosies verby moet kyk en ‘n geleentheid moet sien waarin my droom werklikheid kan werk.

Ek dink nou vanoggend aan my oefenfiets. Ek ry elke dag ‘n paar kilometer omdat ek fiks wil wees en gesond wil bly en ook my gewig in toom wil hou. Ek weet ook ek het meer energie as ek fiks is en ek kan meer kreatief in my werk wees en ek het baie meer selfdissipline. Enige iemand wat al fiks was, sal weet dat jy soms uitsien daarna om weer op die fiets te klim en moeg te word en te sweet en nie op te hou wanneer die bene begin lam word nie.

Dit wil vanoggend vir my lyk dat die Here vir my so wil sê. Jy weet dit is nie lekker nie, maar jy weet dit is goed vir jou. En my droom is om geestelik volwasse te wees. ‘n Man wat niks kortkom om te doen wat hy vir die Here moet doen nie. Dit wil vir my lyk asof dit nie sonder swaarkry en beproewing gaan gebeur nie.

Hoekom moet ek bly wees oor hierdie beproewing?

Hierdie beproewing leer my om te volhard.

The Message sê “… your faith-life is forced into the open and shows its true colours.”

The Amplified sê dit bring “… endurance and steadfastness and patience.”

Alhoewel die Message dit sê soos dit is, naamlik dat mense my kan dophou wanneer ek swaarkry en dan daaruit afleidings kan maak oor my geloof. Hou ek meer van die gevolge: Volharding, standvastigheid en geduld. As stiltetyd my in God se werkswinkel inbring, dan bring beproewinge my in God se gimnasium in. Hier word ek geestelik fiks. Wanneer sk so daaraan dink, dan hou ek van The Message se bewoording: “So don’t try to get out of anything prematurely.” Moenie ophou as jou bene lam word of jy begin sweet en jou asem begin jaag nie. Bly daar totdat gedoen is wat gedoen moet word.

Die einddoel?

Geestelike volwassenheid is die einddoel.

Die 1983 vertaling sê: “… tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Die Boodskap sê: “… geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.”

The Message sê:  “… mature and well-developed, not deficient in any way.”

The Amplified sê: “… [people] perfectly and fully developed [with no defects], lacking in nothing.”

Hoe dit ookal sy, as ek so daaran dink dan wil ek sê: “Bring it on!”

MY EIE PARAFRASE

“My broers en susters, julle moet van een ding seker wees en dit is dat daar altyd dinge met julle gaan gebeur wat julle gaan laat wonder of julle die regte ding doen om so volkome op die Here te vertrou. Moenie te vinnig terugdeins van sulke dinge af nie. Laat die dinge hulle loop neem, want hierdie dinge het tot gevolg dat mense rondom julle kan sien hoe julle op die Here vertrou en op Hom alleen staatmaak. Hierdie dinge vorm julle en maak  julle geestelik meer en meer volwasse. Op hierdie manier word julle manne en vroue wat presies weet hoe om in elke situasie op te tree.”

ONDERSOEK JOU HART EN KYK HOE DIE VERS OP JOU VAN TOEPASSING IS 

In my lewe moes ek al deur ‘n paar moeilike dinge, situasies en omstandighede werk. Ek kan vertel van nagte wat ek nie geslaap het nie en hoe my motivering verdwyn het en by enkele geleenthede dit selfs gevoel het asof my passie uitgebrand is. Ek wens ek kon vanoggend sê dat dit nooit meer gebeur nie. Ongelukkig is dit nie waar nie. Ek sou weer van twee geleenthede verlede jaar kon vertel wat my omgeboul het. Maar, een ding kan ek ook vertel en dit is dat dit nie elke keer dieselfde ding is wat my op dieselfde manier omvergooi nie. Ek sou verkies om nie deur sulke tye te gaan nie, maar my belewenis is tog dat hierdie vers waar is. Ek leer uit elke krisis situasie uit. Elke stukkie seer vorm my en leer my hoe ek in die toekoms moet optree. Ek is beslis nog nie wat ek moet wees nie, maar ek is ook nie meer wat ek was nie.

Maar, ek het hierdie geleenthede deurleef en alhoewel hierdie vers nie vir my vreemd is nie, het ek nie tydens hierdie tye daaraan gedink dat die Here besig is om my te vorm en dat ek op hierdie manier meer en meer geestelik volwasse word nie. Ek dink ek sal van hier af dalk myself meer gereeld hieraan herinner.

Ek dink aan die vers wat ons hierdie week memoriseer: “Aan U beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U.” (Psalm 119:11) Hierdie is een van daardie beloftes waaraan ek sal moet vashou. As ek dit nie memoriseer nie, kan die Heilige Gees my nie daaraan herinner in die tye wat ek dit nodig het nie. Die belofte is: Die Here gebruik moeilike tye en gebeure in my lewe om my geestelik meer en meer volwasse te maak. Hy gee op die manier vir my die gereedskap wat ek nodig het om werklik ‘n man van God te word.

In my eie lewe is daar juis nou ‘n effense “beproewing” wat ons deurwerk. Maar, ek sien reeds dat ek ‘n paar jaar terug die situasie anders sou hanteer het. Ek sien ook die tye wat my bene lam geword het en die asem min geraak het en ek eerder gedink het om op te hou. Maar ek beleef ook hoe die Here my vorm.

PRAAT MET GOD DAAROOR

Hemelse Vader ek vind vanoggend weer vreugde in U Woord. U weet dat ek terugdeins vir swaarkry en moeilike tye. U weet hoe maklik ek wonder en selfs twyfel of ek die regte ding doen om op U te vertrou wanneer dinge moeilik raak. Baie dankie dat U vanoggend aan my die versekering gee dat U al hierdie dinge gebruik om my geestelik volwasse te maak. Ek sal nooit kan dankie sê vir swaarkry nie. Ek kan net sê dankie dat U alles gebruik het en steeds gebruik om my te vorm.

U weet ook van die beproewing wat ons nou deurgaan. Dankie dat U dit ook gebruik om my te vorm.

Ek sal dit nooit waag om eers dapper te klink nie, maar tog wil ek sê dat as U voorsien om my te laat groei, laat die dinge wat moet kom, dan maar kom. In U hande gee ek my lewe oor.

Amen

4 thoughts on “WEES BLY OOR JOU SWAARKRY (DAG 22)

Add yours

  1. Attie, hierdie is ‘n baie moeilike gedeelte om oor te praat en ons familie worstel al 4 maande met die gedeelte. Al wat ek kan sê is dat swaar tye jou geloof tot die uiterste toets-glo my maar vry.

  2. Ds, oor hierdie onderwerp is daar regtig te veel gedagtes wat deur my kop dwaal om sinvol neer te pen. Al wat ek weet is dat hoe intenser jou moeilikheid is, hoe nader, meer prominent, is die Heilige Gees en hoe kleiner is jou eie vermoëns of bydrae. Tot op ‘n punt dat elke oomblik, ja elke asemtuig, volkome in die hand van die Here is. Jy hoef nie te glo nie. Jy hoef nie al daardie mooi dinge wat groei beteken te hê nie. Alles IS net. So GROOT is ons Vader!

    Agterna beskou is weer ‘n ander saak. Al wat ek hierop kan sê is dat jy, as mens, nie iets daarmee te doen gehad het nie. Dit is die waarheid. Ek dreig al lank om op skrif te sit wat ek persoonlik ervaar het. Die dag sal seker nog kom.

    Ek dink ook dat eie lyding iets anders as die lyding van iemand anders vir jou is. Laasgenoemde verg sekerlik al die dinge waaroor daar in die skrifgedeelte gaan. Dit is ook moeiliker? Vir eers is dit genoeg van my. Seën op die week wat voorlê,

  3. Doom Attie: Hierdie is ‘n moeilike een. Van vroeg vanoggend af worstel ek met hierdie verse. Dalk is die metode vir my nog bietjie vreemd. Maar… die Heilige Gees het my nie toegelaat om te vergeet hiervan nie. Ek het nie die “bly wees” verstaan totdat jy in die kerk oor daarna verwys het nie. Die lied daarna – Soos die klein in die hand van die Pottebakker – het dit vir my persoonlik bymekaar gebring.

    Dit lyk nou vir my die vraag wat ek moet antwoord, is: Waarop fokus ek wanneer ek deur ‘n moeilike tyd gaan? Fokus ek op my geloof wat getoets en beproef word, of fokus ek op dit wat God in my en met my doen terwyl my geloof getoets en beproef word. Ek sien in hierdie verse van Jesus iets van Jesus se gebed aan die kruis: “Vader, in U hande gee ek my lewe oor.”

    Ek kyk terug op my lewe en ek sien swaarkry tye wat ek gefokus het op my geloof wat getoets word, en ek het oorleef. Ek kry nou die gevoel dat as ek gaan fokus op dit wat God doen terwyl hierdie dinge aan die gang is, gaan my nie laat oorleef nie, maar laat oorwin.

    Hoe sê daardie lied van vanoggend: “Vorm my, Here God. Vorm my en vou my al kry ek seer. Vormy my, Here God. U weet hoe U my wil hê, o Heer!” En die gemeente het daardie gebed vanoggend met oorgawe gebid!

    Sela.

  4. Ek sien beproewings as deel van GOD die toets (oefening) om eendag deur die “Oog van die Naald” te gaan.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: