JESUS HET OPGESTAAN (DAG 21)

Ons lees vandag Markus 16:1-20.

Dit is ‘n redelik lang stuk, so ek gaan dit nie hier plaas nie. Jy kan dit egter HIER LEES.

Ons probeer die Bybel ondersoek met behulp van die akroniem B.O.S.V.A.R.K.I.E.  (Belofte om toe te eien; Opdrag om te gehoorsaam;Sonde om te bely; Voorbeeld om na te volg; Afdwaling om te vermy; Rede om die Here te loof; Knielgebed om te bid; Ingesteldheid (Gesindheid) om te verander; Egtheid (Waarheid) om te glo.)

Is hier ‘n belofte om toe te eien?

“Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word.” Hierdie is ‘n wonderlike belofte om vir jouself toe te eien. Glo jy dat Jesus die Seun van God is wat vir meer as 30 jaar op aarde gelewe het, aan die kruis op Golgota gesterf het en op die Sondagmore na sy kruisiging uit die dood opgestaan het? Indien ek dit glo, kan ek weet dat ek gered is.

(Ek dink die doop kan ‘n gesprekspunt word hier.)

‘n Belofte wat ook dalk gesprek sal uitlok is rakende die wondertekens wat sal voorkom by die wat glo. Ek dink ‘n mens moet dit eerstens binne die konteks van daardie tyd verstaan, maar tweedens mag ons ook aan die belofte vashou dat die wat glo mag verwag dat daar van tyd tot tyd wonders sal gebeur. Hierdie is tog ‘n belofte waaraan ek sal wil vashou. Ek het al wonders in my lewe beleef en ek verwag dat dit weer sal gebeur.

Is hier ‘n Opdrag om te gehoorsaam? 

Ek sien net een opdrag. “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.” Wat maak ek met hierdie opdrag? Ek preek in my eie gemeente en elke ander plek waar ek moontlik kans kry, maar beteken dit dat ek die evangelie aan die hele mensdom verkondig? Hmmm… hieroor sal ek bietjie moet dink.

Is hier ‘n Sonde om te vermy? 

Moeilik om te sê.

Ek voel aan die een kant ek moet dalk versigtig wees dat ek te bang is (Vers 8) om ander van die opstanding te vertel nie. In hierdie tyd waar dit dikwels gebeur dat ons wat glo dat Jesus gesterwe het en weer uit die graf opgestaan het, belaglik gemaak word en daar met ons gespot word, is ons so in die versoeking om die opstanding van Jesus onder die dekmantel van klomp ander dinge wat ons in sy Naam sou doen, te begrawe. Ons is bang ons gee ander godsdienste en ateïste en agnostici aanstoot met ons boodskap dat Jesus opgestaan het. Intussen laat ons maar toe dat hulle, hulle oortuigings wyd en syd verkondig. Ek skaam my nie vir die evangelie nie.

Hier is egter ook nog ‘n sonde om te vermy. Die sonde van ongeloof te midde van oorweldigende getuienis. Die dissipels het by Maria Magdalena gehoor dat Jesus uit die dood opgestaan het en ook by twee ander dissipels dat Hy ook aan hulle verskyn het, maar hulle het steeds nie geglo nie. Die opstanding van Jesus is ‘n histories gedokumenteerde feitelike gebeure. Ek mag dit maar glo.

Is hier ‘n Voorbeeld om na te volg? 

Die drie vroue is gedryf deur hulle liefde vir Jesus om die Sondagmore terug te gaan om sy liggaam te gaan balsem. As ek mooi daaroor dink, dan besef ek dat hulle eintlik aan die einde van hulle pad met Jesus gekom het. Mag my liefde vir Jesus so sterk wees dat ek steeds sal bly teruggaan na Hom toe, maak nie saak hoe donker die omstandighede rondom my is nie.

Maria Magdalena het vertel en die twee dissipels het gaan vertel. Ek moet gaan vertel: Jesus het opgestaan! Hy leef!

Is hier ‘n Afdwaling om te vermy?

Aan die een kant die bevraagtekening van die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het, maar ek sien ook die gevaar dat iemand op grond van dit wat hier staan op ‘n dwaalweg kan gaan oor die hele kwessie van die verhouding tussen geloof en wondertekens.

Is hier ‘n Rede om te loof? 

Natuurlik! Jesus het opgestaan. Hy sit aan die reterhand van God.

Is hier ‘n Knielgebed om te bid?

Ek skryf my gebed aan die einde.

Is hier ‘n Ingesteldheid/gesindheid om te verander? 

Dalk die gesindheid van onsekerheid oor Jesus se opstanding alhoewel ek in my eie lewe hierdie saak lankal vir myself uitgemaak het.

Is hier ‘n egtheid/waarheid om te glo?

Hierdie vraag is dalk die belangrikste van vanoggend se meditasie. Met watter ewige waarhede stap ek uit hierdie gedeelte uit?Vir my is daar twee wat ook opgeneem is in ons geloofsbelydenis. Jesus die Gekruisigde het opgestaan uit die dood en Hy sit aan die regterhand van die Vader.

Maar ek sien ook hierdie half verskuilde waarheid in vers 20. “Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop volg.” Die waarheid wat ek hier uit haal is dat die Here met my saamwerk in my skamele pogings om die evangelie te verkondig deur dit self te bekragtig. Ek verkondig die evangelie. Hy skryf dit op mense se harte. Hy bekragtig en werk die geloof in hulle harte. Hoe wonderlik is dit om God as medewerker te hê.

Gebed

Here Jesus Christus, U is die gekruisigde en opgestane Verlosser van alle mense. U is die Een wat opgevaar het na die hemel en nou sit aan die Regterhand van die Vader. U is die Een wat met my saamwerk wanneer ek probeer om deur wat ek doen en wat ek sê verkondiger van die evangelie te wees. Ek bid dat U U self sal bekend maak as die opgestane Here, die lewende Seun van die Ewige God en Vader, die Skepper van die hemel en die aarde.

Amen

One thought on “JESUS HET OPGESTAAN (DAG 21)

Add yours

  1. Ds. Attie jy doen darem soveel moeite met jou daaglikse boodskap om die KOFFIETAFEL.

    Die les wat ek ook leer uit die betekenis van kruisiging en die opstanding is:
    Na vreeslik pyn en hartseer in ‘n mens se lewe verskyn daar altyd groot vreugde in al SY kinders se lewe.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: