HIERDIE MAN WAS WERKLIK DIE SEUN VAN GOD (DAG 20)

Vandag is ons halfpad deur ons 40 Dae in die Woord veldtog. Hierdie week doen ons die ONDERSOEK DIT! metode aan die hand van die Akroniem B.O.S.V.A.R.K.I.E.  (Belofte om toe te eien; Opdrag om te gehoorsaam;Sonde om te bely; Voorbeeld om na te volg; Afdwaling om te vermy; Rede om die Here te loof; Knielgebed om te bid; Ingesteldheid (Gesindheid) om te verander; Egtheid (Waarheid) om te glo.)

Vandag kyk ons na Markus 15:33-39, Jesus se kruisiging.

33Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. 34Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

35Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”
36Een van hulle het toe gehardloop, ‘n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ‘n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”
37Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
38Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.
39Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

Die verhaal van die kruisiging is eintlik baie bekend. Dalk is dit so bekend dat ‘n mens by iets verby kan lees.

Is hier ‘n belofte om toe te eien? 

Ek sien nie enige belofte om toe te eien in hierdie gedeelte nie.

Is hier ‘n opdrag om te gehoorsaam?

Geen duidelik of direkte opdrag ook nie.

Is hier ‘n sonde om te bely? 

Dalk: “Vergewe my die tye wat ek nog tywfel oor of U werklik die Seun van God is.”

Is hier ‘n voorbeeld om na te volg? 

Die offisier word deur al die gebeure oortuig dat Jesus die Seun van God is. Die feit dat Jesus die Seun van God is, is al so vanselfsprekend vir ons, dat ons soms vergeet dat dit Hy was – God self – wat aan die kruis gehang het. Die kruisiging van Jesus behoort ook weer my geloof te versterk en in my iets van die verwondering wakker te maak wat die offisier beleef het toe hy sien wat alles gebeur.

Ek wonder darem wat sou die impak wees as ek deur die loop van hierdie dag wat voorlê myself soveel keer as moontlik herinner aan hierdie woorde: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Want elke keer wat ek dit vir myself sê, sal die konteks van die vers ook deur my gedagtes flits. 

Is hier ‘n afdwaling om te vermy? 

Dalk is die mense se gespot oor Jesus wat na God roep tog iets waarteen ons moet waak. Ons spot nie dalk nie, maar die boodskap het so “gewoon” geraak dat ons nie meer oorweldig word deur die gedagte dat iemand vrywillig sy lewe vir ander aflê nie.

Is hier rede om die Here te loof? 

Wel hierdie hele gebeure vul mens met verskillende emosies. In die eerste plek die hele gedagte dat Jesus aan die kruis van God en mens verlate was sodat ons nooit ooit deur God verlaat sou word nie. Hierdie gedagte vul my met ‘n behoefte om naby aan Hom te wees en op een of ander manier vir Hom te laat verstaan dat ek met my lewe sou wou wys dat ek sy liefde waardig was. Daarmee saam loof en eer en aanbid ek die Man aan die kruis – Jesus wat waarlik die Seun van God was.

Is hier ‘n knielgebed om te bid? 

Ek skryf my gebed aan die einde.

Is hier ‘n intensie/gesindheid om te verander? 

Ek weet nie of dit noodwendig ‘n gesindheid is wat moet verander nie, maar ek besef net weereens hoe erg Jesus se lyding was. Wanneer ek dink aan hoe erg sy lyding was, dan wil ek meer dankbaar lewe. Ek dink aan die soldate se ligsinnigheid oor Jesus se lyding en ek bid dat die Here my sal bewaar van soortgelyke ligsinnige praatjies oor sy kruisiging en sy lyding. Maar, ek bid ook vir ‘n gesindheid van verwondering oor die feit dat die Man aan die kruis waarlik die Seun van God was.

Is hier ‘n egtheid/waarheid om te bely? 

“Hierdie man (Jesus) was werklik die Seun van God.”

GEBED

Here Jesus, U was en is werklik bo alle en enige twyfel die Seun van die lewende God. U is self God wat mens geword het en aan die kruis U lewe vrywillig afgelê het sodat ek U Vader ook “my Vader” kan noem. U het hierdie verskriklike lyding deurgegaan sodat ek kan weet dat U my sondeskuld vir altyd weggeneem het. Leer my om in verwondering voor U te lewe.

Amen

5 thoughts on “HIERDIE MAN WAS WERKLIK DIE SEUN VAN GOD (DAG 20)

Add yours

  1. Môre koffiekanne, Vanoggend wil ek net stil wees en sê, ja, U is werklik die seun van God en dankie dat U ook vir my gesterf het.
    Ebert is terug by dir huis, dreineringsak, steke, en al, en kan steeds net vloeistowwe in neem. Vir my lyk dit na ‘n goeie manier om gewig te verloor -10kg in 15 dae.

  2. Ek verwonder my telkens dat die mens hoegenaamd in staat is om te glo sonder om iets met ons sintuie waar te neem! Dankie dat die Heilige Gees aan ons geskenk is om dit wel moontlik te maak.

  3. VOLHARD – Jesus het tot aan die dood van die kruis vir sy liggaam op aarde volhard.
    Hier sit ek nou al weer met trane in my oë want al het ek die kruisiging honderde kere oor en oor gelees en dit deel van my lewe gemaak kan ek nie anders nie.

    1. DIT IS VOLBRING! Dit wat Jesus op aarde moes kom doen, het Hy kom doen, vir almal van ons! elke keer as ek hierdie gedeelte lees, dan besef ek hoe dankbaar ons moet wees, want ons sal nooit van God verlate wees, soos wat Jesus was in daardie donker ure nie! Dit wat beskore was vir moordenaars en die laagste kriminele, dit moes Hy verduur, die vlekkelose Lam van God. Mag ons nooit hierdie daad van liefde gering ag nie, en mag ons met ons lewens ons dankbaarheid getuig – tot Sy eer.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: