Ek wens ek kon by elkeen wat deel is van ons 40 Dae in die Woord veldtog gaan sit en hulle persoonlike belewenis hoor. Die mense met wie ek praat vertel van nuwe diepte in hulle Bybelstudie en hulle stiltetyd en hulle persoonluike verhouding met die Here. Mense vertel hoe gemotiveer hulle is om dit wat hulle leer en lees ook in die praktyk toe te pas.
Vandag se gedeelte is vir my besonder kosbaar. Die gedeelte van die vrou wat Jesus met olie gesalf het. Markus 14:3-9:
3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar ‘n vrou gekom met ‘n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. 4Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? 5Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar.
6“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen. 7Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. 9Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.”
Die metode waarvolgens ons hierdie week die Bybel lees, is met behulp van die akroniem B.O.S.V.A.R.K.I.E. (Belofte om toe te eien; Opdrag om te gehoorsaam; Sonde om te bely; Voorbeeld om na te volg; Afdwaling om te vermy; Rede om die Here te loof; Knielgebed om te bid; Ingesteldheid (Gesindheid) om te verander; Egtheid (Waarheid) om te glo.
Is hier ‘n Belofte om toe te eien?
Hier is nie regtig enige belofte in hierdie gedeelte nie. Tensy ‘n mens die gedagte dat hierdie gebeure oral vertel sal word waar die evangelie verkondig word as ‘n belofte beskou. Ek moes vir myself hierdie krtiese vraag vra: Watter betekenis is daar in die uitgooi van die nardusolie of die salwing van Jesus? Jesus interpreteer dit as dat sy het Hom vooruit al gesalf het vir sy eie begrafnis. Mathhew Henry skryf in sy kommentaar so daaroor:
This was an extraordinary piece of respect paid him by a good woman that thought nothing too good to bestow upon Christ, and to do him honour.
NT Wright sien in die vrou se optrede ‘n daad van aanbidding sonder inhibisie. Spontane aanbidding sonder inhibisie is vandag nog soms vreemd. Aan die ander kant bring sulke spontane aanbidding ‘n nuwe dimensie in ‘n gemeente se aanbidding. Dit maak mens half ongemaklik. Hierdie vrou se daad van aanbidding sal orals oorvertel word, terwyl sommige van Jesus se wonderwerke byvoorbeeld nie oorvertel sou word nie.
Is hier ‘n Opdrag om te gehoorsaam?
Die mense was verontwaardig oor hierdie vrou se oormatige daad. Vir hulle was dit vermorsing. Vir haar was dit aanbidding aanbidding. Vir Jesus was dit voorbereiding vir sy begrafnis. Hier is die opdrag: “Laat staan haar. Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen.”
Mense aanbid dalk anders as ek, maar ek moet versigtig wees om hulle aanbidding as minderwaardig af te maak. Wat vir my dalk onnodig en ‘n vermorsing kan wees, kan iemand anders se mees kosbare daad van aanbidding wees en vir Jesus self baie kosbaar. Moenie ander mense se manier van aanbidding en diens te vinnig veroordeel nie.
Ek wonder of ons nie soms die versorging van die armes doen terwyl ons die spontane aanbidding van Jesus agterweë laat nie.
Is hier ‘n sonde om te bely?
Die antwoord op hierdie vraag is nie so maklik nie. Dalk my veroordeling van mense wat kerk anders as ek doen? Dalk my mening dat geld wat soms vir iets anders as armoede verligting en sending en hulp gebruik word, geld is wat gemors word? Dalk dat ek nie spontaan genoeg aanbid nie? Ek sal langer hieran moet herkou.
Is hier ‘n Voorbeeld om na te volg?
Hierdie vrou wat geen koste ontsien om Jesus te aanbid nie. Hierdie vrou wat in ‘n geselskap van mans instap waar vrouens eintlik nie welkom is nie om Hom met nardusolie te aanbid is vir my ‘n voorbeeld van my aanbidding van Jesus waarvoor ek my nie moet skaam nie.
Is hier ‘n Afdwaling om te vermy?
Die enigste wat ek aan kan dink is dat ek te vinnig sou oordeel wanneer ander mense iets vir die Here doen.
Is hier ‘n Rede om te loof?
Ek wil die Here loof omdat Hy my bedoeling raaksien. Ander mense kan dalk my bedoeling van aanbidding miskyk, maar nie Hy nie. Hy ken my diepste menswees en Hy weet wat ek bedoel.
Is hier ‘n Knielgebed om te bid?
Ek skryf dit aan die einde.
Is hier ‘n Intensie (gesindheid) wat moet verander?
Die gesindheid van aabidding by hierdie vrou wat in hierdie gedeelte na vore kom, is vir my kosbaar. Ek dink dit het te make met die feit dat ek die aanbidding in die eredienste (en dan en wan by ander plekke en geleenthede ook) lei en bietjie musiek maak. Ek geniet lofliedere en neem met oorgawe deel daaraan. Maar, ek (en my vrou, Renate, wat saam met my die begeleiding doen) het ‘n passie vir aanbidding. Die wonderlike ding is dat die gemeente dit onbewustelik opgetel het. Die kere dat ons as begeleiers en die gemeente bewus raak van die Here se teenwoordigheid in die erediens, is wanneer die gemeente aanbid. Ek soek aanbidding – die diep bewustheid van God se allesoorheerseende teenwoordigheid. Ek wil ‘n lewe leef waar ek Nardusolie oor Jesus se kop uitgooi en “‘n goeie daad vir Hom doen.” (Vers 6)
Is hier ‘n Egtheid (Waarheid) om te glo?
Ek weet nie of baie lesers met my gaan saamstem nie, maar die ewige waarheid wat ek met my wil saamneem is dat aanbidding van God belangriker is as enige iets anders wat ek doen, ja selfs die versorging van die armes. Ek dink dit is onredelik dat die twee teenoor mekaar gestel word. Die probleem is dat ons die een probeer doen het en die ander een nagelaat het. Ons het probeer aanbid sonder om hulp te verleen. Ek is bevrees dat ons as kerk nou in ‘n rigting beweeg waar ons hulp wil verleen sonder om te aanbid. Ons kan nie alle hulpverlening gelykstel aan aanbidding nie.
Enige mens kan hulp verleen. Enige mens kan nie aanbid nie.
GEBED
Hemelse Vader, ek aanbid U vanoggend met ‘n gesindheid van eerbied en agting en respek vir U grootheid en U heerlikheid. Dankie vir die voorreg wat ek vanoggend het om in my tyd alleen met U my in te dink hoe dit sou wees om soos hierdie vrou as ‘n daad van aanbidding ‘n pot nardusolie oor U Seun, Jesus Christus, uit te gooi. Ek wil U so aanbid. Heilige Gees, ek wil U vandag vra om my te leer om U spontaan en met oorgawe te aanbid. Vul my hart met verwondering oor U. Oorweldig my met U heerlike teenwoordigheid, sodat my lewe dan ook ‘n lewe van aanbidding kan wees.
Amen
Gesels saam hieroor: Hoe is die gedeelte op ‘n mens se lewe van toepassing en wat kan mens prakties doen om dit uit te leef?
Môre koffie drinkers, ek voel so aan my soom dat ons bietjie gaan herkou aan die een.
My eerste opmerking is dat Nardus olie destyds deur konings gebruik was. Soos die manne uit die ooste vir Jesus met sy geboorte ook olie as geskenk gegee het wat ‘n koningsgrskenk is, het dir vrou ook Jesus se koningskap bevestig. Om met olie gesalf te word in daardie tyd het ‘n baie spesiale betekenis gehad.
My tweede opmerking is eintlik heel simplisties en ek sien die daad van die vrou ad die samevatting van die Wet: Jy moet die Here ten volle liefhê en jou naaste net so.
Ek dink (met albei breinselle) dat ek nie kan aanbid sonder om goed te doen aan my naaste nie en ook nie kan goed doen sonder om te aanbid nie.
Johan: Salwing is vir meer dinge gebruik as net koningskap. Gaan kyk bietjie na hierdie mooi antwoord by http://www.gotquestions.org/anointed.html
Ek maak so. Moet Ebert nou eers uit die hospitaal gaan haal en hom na ‘n ander dr neem vir tweede mening. 4 operasies in een week, sonder resultate gaan net nie af nie.
Sterkte, Johan. Doen wat jy kan doen.
Ds. Attie sy het nog iets baie spesiaal vir Jesus gedoen. Sy het haar hare gevat en SY voete daarmee afgedroog.
Christelle: In die ander evangeliste se weergawes gebeur dit, maar nie by Markus nie. Maar, jy is reg dit was ook spesiaal.
Dagsê aan almal. Ja, aanbidding is sekerlik die belangrikste wat ons kan doen, behalwe om te glo. Ek kan getuig dat aanbidding altyd vrede en vreugde in my hart gebring het. Of dit nou in ‘n siekbed of op die sportveld is, maak nie saak nie. Die manier van aanbidding? Die vraag is eerder: kom dit opreg uit my hart uit?
Dankie aan almal wat die intensie het om ons te help om opreg te aanbid!