VERGEWE OM VERGEWE TE KAN WORD? (DAG 18)

Vandag se gedeelte is dalk een van dardie gedeeltes in die Bybel wat dikwels bespreek word en selfs in omstredenheid gedompel word. Die teks is Markus 11:25

“En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”

Die verstaan van die hele kwessie oor vergifnis van ander en God wat dan vergewe is nie so maklik nie. Maar kom ons probeer aan die hand van B.O.S.V.A.R.K.I.E.

Is hier ‘n belofte om myself toe te eien? 

Die wonderlike belofte wat hier is, is dat God, my Vader wat in die hemel is, my oortredings vergewe. Die vraag wat onmiddelik opspring, is: Beteken dit dat ek nie vergewe is as ek nie vergewe het nie? Ek dink ons moet dit baie duidelik stel: My sonde is vergewe op grond van die kruisdood van Jesus Christus. Niks wat ek doen kan die vergifnis meer maak nie en niks wat ek doen kan die vergifnis minder maak nie. Die bloed van Jesus Christus reinig my van my sonde. Niks meer nie. Niks minder nie.

Is hier ‘n opdrag om te gehoorsaam? 

Die opdrag is redelik duidelik: Vergewe as jy iets teen iemand het! Jode het altyd gestaan wanneer hulle bid. Die gedagte is, terwyl jy staan en dit kom by jou op dat jy iets teen iemand het, vergewe die persoon. Moenie wag tot die persoon om vergifnis vra nie, vergewe net daar en dan.

Is hier ‘n sonde om te bely?

Hierdie deel het bietjie self-ondersoek tot gevolg gehad. Onvergewensgesindheid is die sonde om te bely. Dit help egter nie ek bely my onvergewensgesindheid, maar vergewe nie.

Ek moes gaan dink oor mense wat my skade berokken het en my seergemaak het. Snaaks, dit was nie te moeilik om vir myself uit te sorteer dat ek vergewe het en dat dit agter my is nie. Wat moeiliker is en waarby ek langer moes stilstaan, is mense wat die mense vir wie ek lief is seergemaak het en benadeel het. Dit was nie te maklik nie. Ek moes my onvergewensgesindheid bely.

Ek worstel met die volgende gedagte: As ek iemand vergewe het, beteken dit alles is weer soos dit was voor die seermaak ding gebeur het? Ek dink nie ek het die vermoë om hieroor die laaste woord te sê nie. Hoe ek dit vanoggend maar weer vir myself geformuleer het, is dat dit eerstens afhang van wie die persoon is. Byvoorbeeld: Daar is in my gemoed geen twyfel daaroor dat my vrou Renate enige iets sal kan doen wat sal maak dat ek nie my verhouding met haar sal wil herstel nie. Daar is niks wat een my kinders sal kan doen wat maak dat ek sal ophou om vir hulle lief te wees en die verhouding sal wil herstel nie. Maar wat van ander?

Ek sien kans om te vergewe en ek sien kans om die seer en die seerkry te vergeet, maar as jy enigsins ‘n risiko is om my of my familie weer skade te berokken, dan sal ek sonder huiwering die verhouding offer. Ek dink nie die Here verwag van sy kinders om hulleself in ‘n posisie te plaas waar hulle weer en weer deur dieselfde mense op dieselfde manier vertrap word nie. Die feit dat ek nie die verhouding wil herstel nie, beteken nie dat ek nie vergewe het nie. Ek het vergewe, maar ek beskerm ook dit wat die Here aan my toevertrou het.

Is hier ‘n voorbeeld om te volg? 

Die Matteus teks (6:14) sê ek moet vergewe soos die Vader my vergewe. Ek moet sy voorbeeld volg. Hy het my sonde en oortredinge vergewe die dag toe Jesus aan die kruis gesterf het. Hy het nie gewag tot ek vergifnis vra en bely nie. Al my sonde is in Christus reeds vergewe. Deur belydenis en berou word ek deur die Heilige Gees herinner aan dit wat Jesus reeds gedoen het en die Vader reeds aan my toegesê het. Ek beleef dan die wonderlike vrede en vreugde van die wete: Ek is vergewe!

Is hier ‘n afdwaling om te vermy? 

Uit die aard van die saak loop ek hierdie die risiko om my onvergewensgesindheid op allerhande maniere te regverdig. Ek kan nie met my vergifnis wag tot die ander persoon om vergifnis vra nie. Dikwels weet die ander persoon nie eers van die seer wat ek beleef het of die oortreding wat teenoor my begaan is nie. Vergewe sonder huiwering. Moenie wag nie. Moenie regverdig nie. Want die vergifnis gaan nie oor die ander persoon nie. Die vergifnis gaan oor my.

Is hier ‘n rede om die Here te loof?

Ek kan nie anders as om die Here God te loof vir die grootheid van sy genade en die heerlikheid van sy vergifnis nie.

Is hier ‘n knielgebed om te bid?

Ek skryf my gebed aan die einde.

Is hier ‘n ingesteldheid/gesindheid wat moet verander?

Dalk moet ek gouer vergewe. Dalk moet ek nie my seerkry te lank troetel nie. Dalk moet ek tydens elke gebedsgeleentheid vra: “Heilige Gees, is hier iemand wat ek moet vergewe?” Dieselfde Gees wat die geestesoog van my verstand verlig om die Woord reg te verstaan sal my ook in my eie hart laat sien as ek met bitterheid en opgekropte woede en oop wonde loop.

Is hier ‘n egtheid/waarheid om te glo?

Twee waarhede. Eerstens, my Hemelse Vader vergewe my oortredinge deur die kruisdood van Jesus Christus. Tweedens, hierdie vergifnis word vir my my ‘n ervaarbare werklikheid wanneer ek vergewe soos ek vergewe is.

GEBED

Hemelse Vader wat my vergewe. Ek wil bid en vra dat U my diepste menswees sal ondersoek en vir my sal wys hoe en waar en wie ek nog moet vergewe. Dankie dat ek kan verwag dat U, Heilige Gees, hierdie gebed van my sal hoor en sal verhoor. As ek hier skryf: “Ek vergerwe vir….” dan weet U die name wat daar ingeskryf moet word omdat U my aan die mens en die gebeure herinner. Ek vergewe soos U my vergewe. Gee aan my die wysheid om die vergfinis op so ‘n manier te hanteer dat U Naam verheerlik sal word en nie sodat ek goed sal lyk nie.

Aan U kom toe al die lof en die aanbidding van my hart.

Amen

16 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

16 responses to “VERGEWE OM VERGEWE TE KAN WORD? (DAG 18)

  1. Johan

    Vader help my om te vergewe en te vergeet soos wat U met my oortredinge doen. Amen

  2. Ena

    Hierdie is so waar, en ek hoop ons almal wat hierdie lees, dit vir ewig sal onthou. Jesus help ons om maklik te vergewe. Amen

  3. DIV

    Doom: Is jy nie dalk so ‘n klein bietjie sag in die toepassing nie?

    Kan dit nie wees dat ‘n mens soms op ‘n baie direktiewe en harde manier nodig het om vir iemand te sê: “Jy MOET vergewe!”

    Jy MOET vergewe omdat ons in die Woord die opdrag het om te vergewe.

    Jy MOET vergewe omdat jou onvergewensgesindheid besig is om jou eie lewe en die lewe van mense rondom jou te vernietig.

    Jy MOET vergewe omdat jou huwelik dit nie gaan oorleef nie en as jy nie vergewe nie moet jy weet gaan jy stoksiel-alleen oud word.

    Ek wonder maar net.

    • Werner Olivier

      Div,ek dink nie ds Attie is te sag in die toepassing nie.Ons verstand se baie keer vir ons om op ‘n direkte en harde manier op te tree,maar dit is nie ons Meester se taal nie.Ek dink die antwoord is in Kol 3:12-13 te vind.
      Groetnis.

  4. Christelle van der Walt

    Ek kan vanmiddag hier voor julle almal getuig dat ek al baie mense vergewe het omdat ek elkeen opgedra het in gebed. Ek het geen vyande waarvan ek weet nie. Ek bid elkedag dat ek ook nie iets sal sê of sal doen wat iemand anders sal seermaak nie. Mense reageer verskillend op dinge, nie almal is dieselfde nie. Hoe beter jy jouself ken hoe makliker sal jy kan vergewe. “NO GUTS NO GLORY”.

  5. Dagsê almal

    Ding weet nie of Ding te hard of te sag op homself is nie; Ding weet nie regtig hoe om oor hierdie ene te dink nie.

    Wat Doom hierbo sê onder “Is daar ‘n sonde om te bely”, spook dikwels by Ding ook. Daar is mense in Ding se lewe wie Ding enige tyd sal vergewe, maar daar is mense wie Ding darem so waar so waar mee sukkel om te vergewe.

    Sonder baie meer praat: ek weet nog steeds op hierdie laat stadium van my aardse lewe nie hoe om hierdie toe te pas nie. Wat presies is dit wat maak dat ek party mense regtig maklik kan vergewe en met ander sukkel ek so? Dis nie asof die wie ek nie vergewe (het) nie, my vyande is nie; dis meer ‘n geval van ek druk net nie ‘n slang (weer) aan my bors as ek klaar geleer het ‘n slang se natuur is om te pik nie. Want as ek die slang teen my bors troetel en ek word gepik, moet ek dan vir myself kwaad wees of vir die slang?

    Miskien sal Ding ook eendag genoeg gelewe het om te weet wie en wat om waar wanneer te vergewe, maar vir die oomblik is Ding nog hopeloos te onnosel vir hierdie ene.

  6. Ding het nou maar nog ‘n blikbekertjie koffie geskink. Daar is nog iets om te bely:-

    Ding en die land se besonder hoë misdaad-tendens.
    ‘n Ongeluk is een ding, maar aspris, aspris is ‘n heeeeeel ander bedryf. En Ding praat nogal van tyd tot tyd met God hieroor: Ding het ‘n gevoel dat Ding, sou een van Ding se geliefdes ‘n ernstige misdaad-statistiek (moord, verkragting, ernstige aanranding) word, vergifnis nie vir Ding summier die hoofprioriteit gaan wees nie.
    Wat help dit Ding besin oor vergifnis en Ding is nie helemal been-eerlik nie? En as ek dan eerlik is, moet ek erken dat ek nie voorsien dat ek maar sommer net sal vergewe as een haar op my Veerkie se hoof geskaad moet word nie. Ek het al so moedeloos geraak oor hierdie misdaad dat ek gevoel het ek kan ook sê kom ons maak die 30 silwerstukke in lyke bymekaar en dan haal ons Jesus Christus van die Kruis af sodat ons terug is by die Ou Testament en ‘n oog vir ‘n oog betaal word (Elsa Joubert: Die Laaste Sondag). Want diep persoonlik eerlik: sal ek iemand wie my geliefdes se lewe aspris kom verwoes, net vergewe? Wat het ek dan vir myself te sê? Verkragting en moord kom reguit van Satan af; nie van God af nie. Dit pla my, mense. Ek is bang vir myself wanneer ek hieraan dink. Gaan ek, as iemand in ons huis ongenooid inkom, ‘n bang hasie wees of gaan ek myself en my huismense verdedig? Ek weet nie, maar ek het ‘n goeie idee.

    Koffiedrinkers, hoe dink julle hieroor? Wat antisipeer julle sal julle doen?

    • Ding: Ek twyfel nie daaraan dat ek my gesin sal beskerm met alles wat ek in my het nie. As ek nie weerstand bied nie, sal dit nie wees omdat ek besig is om te vergewe nie, maar juis omdat ek met al my krag veg vir die behoud van my mense. Want soms vat dit mos meer krag om niks te doen nie as wat dit vat om iets te doen.

      Maar… Ding as iemand naby aan jou daardie verskriklike dinge pleeg, waarvan jy hier praat, dink ek jy veral sal dit nooit reg wil praat en wil regverdig en maak of dit nie so erg is nie, maar JY sal sê: Ek staan by my gevalle geliefde.

      So dink ek….

      • Doom, dankie vir die reguit praat. Doom, verdedig is een benadering – ek is bekommerd dat verdedig nie vir my genoeg sal wees nie. Ek dink nogal my bloed bruis in my are tot die effek dat my “verdedig” sal aanhou tot lank na die “aanval”…
        Nou, oor die iemand naby aan my die dinge pleeg … Doom, ek het nog nie daaroor gedink nie, maar ja, ek sal dit nie goedpraat nie. Daarmee is Doom in die kol. Of ek nou by my gevalle geliefde sal staan? Teenoor die mensdom ongetwyfeld ja. Maar ek sal darem maar in die binnekring van ons nabyheid direkte houe in die sawwevleis tussen die ribbes pomp, hoor! By Ding se mense werk dit nogal so – ons is nie skaam om pak uit te deel onder mekaar nie😉

        Dis seer aangenaam om met Doom te kan gesels. Dankie.

    • Christelle van der Walt

      In vandag se lewe moet jy ‘n wakker-akker wees. Jy moet die situasie baie vinnig kan opsom. Daar is eintlik net een taal wat ‘n slang verstaan.

  7. Ding: Ek wonder of ons nie juis die fout maak om te dink dat ek iemand wat ek vergewe het weer aan my bors moet troetel nie.

    Ek dink vanoggend aan Saul en Samuel in 1 Samuel 15. Na aanleiding van wat Saul aan Samuel gedoen het, het Samuel nooit weer vir Saul gesien na daardie dag nie. Ten spyte van die feit dat Samuel saam met Saul teruggegaan het sodat hy weer kon aanbid. Samuel het nooit weer vir Saul aan sy bors getroetel nie, selfs al het Samuel vir die res van sy lewe oor Saul getreur.

    Maar, ek dink steeds hier sal vir altyd vra hieroor bly.

    • Johan

      Attie, hier stem ek nogal 300% met jou saam. Ek vergewe moordenaars, maar ek gaan wraggies nie die moordenaar aan my bors koester nie.

    • Hier gee Doom nou vandag vir Ding baie, baie meer berusting, insig en stof tot nadenke as wat Doom sal kan besef. Dankie, Doom Attie. Opreg dankie. Ek wil hierdie loop oplees weer, want ja, Ouding vind homself presies daai doen: TREUR. Presies nes Doom hier sê nou. Ek voel beter dan, want waarmee ek gesukkel het: ek WIL NIE noodwendig weer iemand troetel nie, maar dan wonder ek of vergifnis voltooid is as ek ná vergifnis net helemal niks behalwe treur voel nie. En nou maak dit meer sin, dankie Doom.

  8. Henry

    Dit is ‘n moeilike saak hierdie. Ek het al lankal diegene vergewe wat ek gedink het ek moet vergewe. Maar… ek en my ousus (80jaar) gesels gister daaroor en vra mekaar: sien ons daarna uit om so en so eendag weer te kan “sien”? Mensig dit is moeilik. Beteken dit dan dat ek nog nie regtig vergewe het nie?
    Dan ‘n ander vraag vir vandag. As ek werklik in die hand van die Here gekoester bly, sal daar enigiets opduik wat ek sal voel ek moet vergewe?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s