Dag 17 van die 40 Dae in die Woord. Vanoggend se gedeelte is ‘n redelike lang gedeelte. Markus 10:17-31 – die gedeelte oor die ryk jongman.
17Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
18Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 19Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.”
20“Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”
21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”
22Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.
23Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.”
24Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.”
26Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?”
27Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”
28Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.”
29Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, 30of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 31Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”
Ons werk met die akroniem B.O.S.V.A.R.K.I.E.
Is hier ‘n Belofte om toe te eien?
Die eerste belofte wat ek hier kry is in vers 27. Ek skrik amper as ek lees dat die dissipels wonder of enige iemand dan gered kan word. Maar die versekering, die gerusstelling, die belofte: “… vir God is alles moontlik.” (Vers 27) Ek dink dit is krities dat ons hierdie belofte binne die konteks van die dissipels se bekommernis lees. Hulle bekommernis is: “Wie kan dan gered word?” (Vers 26) Ek dink aan die tye in my lewe toe ek ook maar oor myself gevoel het om te vra: Here, kan U iemand soos ek red? Hierdie belofte: By God is alle dinge moontlik. Ek gaan aan hierdie belofte vashou met alles binne in my.
Daar is ‘n tweede belofte in vers 29. Die dissipels het alles verlaat om Jesus te volg. Met ander woorde, hulle het reeds gedoen wat Jesus van die persoon verwag het. Hulle het klaar alles prysgegee. Die versekering of belofte is dat dit waarvan ek TER WILLE VAN DIE EVANGELIE afgesien het of ek kry dit in hierdie lewe honderdvoudig terug. Maar ook vervolging en in die lewe hierna die ewige lewe. Die belofte is dat ek ter wille van die evangelie prysgee, maar Jesus verseker my dat ek in hierdie lewe iets terugkry, maar ook vervolging. (Ek wens dit het nie daar gestaan nie.)
Is hier ‘n Opdrag om te gehoorsaam?
Is hier ‘n Sonde om te bely?
Tot ‘n mate sien ek iets van myself in die ryk man. In vergelyking met die algemene vlak in die wêreld tel ek sonder twyfel onder die rykes. Deur selfondersoek kom dit na vore dat ek tog geheg geraak het aan my goed. Ek moet dalk bely dat my my besittings en my my rykdom soms verhinder dat ek Jesus voluit volg.
Is hier ‘n Voorbeeld om na te volg?
Die dissipels is natuurlik ‘n voorbeeld. Aan die een kant was hulle bekommerd dat niemand dalk gered gaan word as Jesus die standaard so hoog stel. Aan die anderkant reken Petrus tog dat hulle baie dinge prysgegee het om volgelinge van Jesus te word. Ek dink ek moet bereid wees om soos die dissipels alles prys te gee. Oor die “alles” sal mens uit die aard van die saak moet dink en weer dink.
Is hier ‘n Afdwaling om te vermy?
Die ryk man dien vir my as ‘n waarskuwing. Hy wou regtig die ewige lewe gehad het. Eerstens moet ek versigtig wees om te dink dat ek deur gehoorsaamheid aan al die gebooie die ewige lewe kan verkry. Die man het dit alles tot op die letter gehou, maar hy was verlore. ‘n Mooi en goeie lewe is nie genoeg nie. Tweedens moet ek baie versigtig wees vir my verhouding met my aardse besittings. My verhouding met my aardse besittings kan maklik wys wie eintlik my god is.
Is hier ‘n Rede om God te loof?
Ek loof God omdat Hy my kan red. Selfs as dit vir mense onmoontlik is, kan Hy my red. Ek loof God omdat in hierdie lewe vir my teruggee wat ek ookal verloor en ek loof omdat Hy vir my as volgeling van Jesus Christus in die lewe hierna die Ewige Lewe gee.
Is hier ‘n Knielgebed om te bid?
Ek skryf my gebed aan die einde.
Is hier ‘n Ingesteldheid om te verander?
Ek kan tog nie anders as om te sien dat dit in hierdie gebeure gaan oor die volgeling van Jesus se gesindheid of ingesteldheid teenoor besittings nie. Ek besef dat in die tyd van Jesus het mense gedink dat rykdom reeds ‘n teken was van God se seën en dat so iemand eintlik reeds in die koninkryk van God is. Die versoeking van die voorspoed-teologie is altyd daar. Gee, sodat God weer vir jou terug kan gee. Die ryk man moet ‘n gesindheid hê waar hy ook die armes uit sy seën voordeel laat trek. Dit gaan met my (in vergelyking met die deursnee mens in die wêreld en in Suid Afrika) finansieel en materieel relatief goed en met die meeste mense wat hier lees ook. Ek moet ‘n gesindheid van medeelsaamheid hê. Ek moet ‘n gesindheid van deernis teenoor die minderbevoorregtes ontwikkel. God seën my sodat ek weer ‘n seën kan wees.
Ek wonder: Hoe sou mens hierdie gesindheid reg beskryf?
Is hier ‘n Egtheid/waarheid om te onthou?
Wat vir mense onmoontlik lyk in terme van verlossing is by God moontlik.
GEBED
Hemelse Vader, ek beleef die orovloed van U seën in my lewe. Dankie vir ‘n huis met krag en water. Dankie dat ons as gesin vandag meer as genoeg kos gaan hê om te eet. Dankie dat ek en Renate elkeen ‘n kar het om mee te ry. Dankie dat ons kan bekostig om René in ‘n skool te sit en Elané op universiteit te hê. Dankie vir ‘n maandelikse salaris waarmee ons ook voorsiening kan maak vir ons oudag. Ons ontvang dag vir dag ontelbaar baie seën uit U hand. Ek loof U daarvoor.
Heilige Gees, dit is U wat die geestesoog van my verstand verhelder sodat ek kan sien wat U wil hê dat ek moet sien. Ek vra dat U sal voortgaan om my te leer sodat ek ook die regte gesindheid teenoor die armoede in hierdie wêreld en die mense rondom my kan hê. Bewaar my daarvan dat ek so geheg raak aan my besittings dat hulle vir my ‘n struikelblok word soos dit vir hierdie man was.
Amen
Doom: Ek dink die Here praat met ons en die Afdwaling waarteen ek wil waak as dit my geld en my goed in my pad staan soos dit in hierdie jong man se pad gestaan het. Hoe gemaak met my geld en my goed?
DIV: Ek het die ding maar vir myself uitgemaak toe ek nog by Rustenburg Stadsraad gewerk het. Omdat daar nie ‘n Nuwe Testamentiese voorskrif in hierdie verband is nie, werk ek maar met 10% omdat ek met iets wil werk. Ek gee 10% van die bedrag wat my werkgewer aan die einde van die maand in my bankrekening inbetaal. 80% daarvan gaan na my plaaslike gemeente toe omdat dit ook die plek is waar ek ‘n geestelike tuiste het en omdat my gemeente sekere projekte in die gemeenskap het wat finansieel ondersteun moet word. Verder gee ek ‘n deeltjie daarvan ook vir die versorging van my ma en dan hou ons ‘n geldjie wat ons gewoonlik deur die loop van die maand uitdeel aan behoeftiges wat oor ons pad kom.
Goeie middag Attie – verskoon ek val nou met die deur in die huis. My Pa, beter bekend as “Smallie” het ook vir Rustenburg Stadsraad gewerk by die Elektrotegniese Afdeling. Jy behoort hom dalk te geken het? Ons is ou Rustenburgers.
Doom, sonder baie praat, wil Ding net eers oor die eerste beker koffie vra: wie van die dissipels was skatryk? Dis nou voor hulle dissipels geword het. Ding kan nou glad nie onthou wat wie van hulle gedoen het vir ‘n lewe voordat hulle dissipels geword het nie.
Grondgroete
Ding: Ek is ook nie 100% seker nie 0 ouditeure het eers later gekom. (hehehehe). Maar, visserman wees was nie te slegte beroep in daardie tyd nie. Petrus en Jakobus het saam met hulle pa skuite gehad en hulle het beslis gekoop om aan ander te verkoop, so hulle moes nie te sleg daaraan toe gewees het nie. Lukas was volgens oorlewering ‘n mediese dokter en Matteus was ‘n tollenaar wat tol gehef het en kon ‘n persentasie daarvan in sy sak steek vir sy inkomste. Dit is die waaraan ek nou kan dink.
Dankie Doom. Ding het onthou van die vissermanne – oor die wees vissers van mense. Interessant oor Lukas en Matthéüs – dankie vir daai! Ding moet eers nog lank klipsit oor hierdie nommer – Ding het nog maar altyd gesukkel met die ene. Wat vir Ding wel al opgeval het, is dat daar tog ‘n tendens blyk te wees dat die Afrikaner veral, daarvan hou om God se naam baie wyd te verkondig wanneer dit materieel nie met hom/haar so voorspoedig gaan soos s/hy dink norm is nie en die met wie dit wel voorspoedig gaan, dikwels nie helemal weet of hulle nou vir God daaroor mag loof of nie, want of hulle doen of nie, hulle word onderlangs beloer of met opgetrekte wenkbroue beskou. Tendense het maar die neiging om vir Ding dikwels te laat wonder oor die individu se opregtheid in ‘n gegewe situasie.
Moeilike ene hierdie!
NS: Ding seg maar niks oor die 17e Feb nie, aangesien Doom so tjoepstil is daaroor. Maar Ding het raakgesien en in die stilte God se Benjaminkind van voor af weer aan God opgedra, want dis al wat in die kern saakmaak.
Môre koffiedrinkers,
Moeilike dag gister gehad met albei my seuns in die hospitaal. Die oudste, Riaan, darem net vir ‘n urologiese posedure, maar ou Ebertjie sukkel nog steeds met ‘n lewer wat gal lek uit die talle galbuisies wat afgesny was Die afskeiding is daem a af van 250ml per 12 ure na 50ml .
As jy so voo ‘n hospiaal bed staan en jou kinders so weerloos daar sien lê, besef jy dat aardse besittings soos geld nie lewe kan koop nie. Hoeveel mense sal alles gee wat hulle het om net gesond te kan lewe. Ek souas ek kon, maar lewe is in God se hande en dit kom verniet.
Ek weet ook (skuus dat ek so duidleik is) dat rykdom nie ‘n sonde is nie en dat God sy kinders ook rykdom gun. Kyk maar ba Abraham, Job, Salomo, Dawid, en so kan ek aangaan. Ek dink egter dat rykdom saam met ‘n gesindheid gaan. Mens ky mense wat ryk is aan besittings en liefde vir hulle God en hulle naaste en dan kry mens mense wat ryk is aan besittings – punt.
Ek dank God dat Hy my nie genoeg vertrou het om my ryk te maak aan besittings nie en ek bid vir rykdom aan liefde vir my God en my naaste.
Daar was ‘n stadium in my lewe wat God my met rykdom geseën het, maar ek kan vandag sê dat dit die tud in my lewe was wat ek die verste van God en my naaste gelewe het en gelukkig het God gsien hy kan my nie vertou met aardse besittings in oorvloed nie, en vandag ek elke dag /my daaglikse brood” ontvang is ek baie ryk – ryk aan liefde vir God en y naaste en ek sou dit nie anders wil hê nie.
Aan die ander kant weer ken ek mense wat baie ryk is aan aardse besittings, maar ook baie ryk is aan liefde vir God en hulle naaste.
Vandag wil ek net “amen” sê op Doom se gebed en vra dat God my moet help om dit wat Hy aan ky toevertou het te gebruik soos wat Hy wil hê ek dit moet gebruik.
Ek lees dat as iemand ‘n huis en ‘n kar besit, die persoon as “ryk” bestempel word (iets soos 5%), gemeet aan die totale wêreld bevolking.
Dankie Here dat ek “ryk” is.
Lekker koffie vanoggend gehad. Ek wonder steeds oor daardie koek wat verlede Sondag gebak sou word………. hehe
Sterkte met die twee seuns.
More Koffiedrinkers,
Vandat ek by die kofffietafel aandoen is ek elke dag baie geseend met die interpretasie van die gedeeltes asook die kommentare van almal. Wat my aanbetref kan ek net se dat ek skatryk is en in oorvloed met rykdom geseen word. Ek praat nie net van die materiele dinge nie maar val ek ook in die klas soos ons bespreek. My rykste rykdom is egter my gesin, vriende en almal wat my na aan die hart le. Ek word daagliks geseen deur almal se belangstelling in my doen en late, my pyn en hartseer en is ek daagliks verbaas van hoeveel mense sommer net gee, veral hul tyd wat ons kosbaarste besitting is. Ek beskou dit as rykdom wat ek sommer net ontvang uit God se hand en kyk ons maklik daarby verby omdat ons so besig met ons eie goed is. Ek voel ook dat om jou rykdom uit te deel nie net oor materiele dinge gaan nie maar ook oor goed soos vriendelikheid teenoor ander, gewilligheid om ‘n oor te gee om bietjie te luister, raad te gee as jy kan en bystand te verleen binne jou vermoe. Wat die materiele aanbetref het ek net meer met die verloop van jare besef dat alles net van God kom en dat Hy dit ook kan wegneem as dit Sy wil is. Ek leef elke dag in volle vertroue op God en weet dat Hy in my en my gesin se behoeftes sal voorsien. Wanneer dit egter effens moeilik begin raak raak mens maar geneig om weer jou eie ding te wil doen net om maar weer uit te vind dat dit God is wat alles beheer. Ek gaan ook nou deur moeilike tyd maar voorsien God in al my behoeftes en is my besigheid ook geseend. Wat ek ook spesiaal uit die gedeelte neem vandag is dat alles vir God moontlik is. Ons moet net leer om dit meer te glo en te vertrou.
Johan, ek is bly dit gaan beter met die seuns- stuur ook groete van my kant af daaikant.
Ek moet nou eers die koffie neersit en bietjie werk en bietjie rykdom uitdeel.
Net ter afsluiting so ou grappie wat my altyd bybly. Ou Mike Schutte het mos gese hy het ‘n kerskaartjie van Bill Gates af gekry. Kallie se toe dit kan nie wees nie. Mike se nee man,kyk hier staan dit binne in die kaartjie: ” God’s rykste seen”- he he he. Ek dink as ons almal om ons kyk is ons almal skatryk en kan ons ook sulke kaartjies uitstuur met ons gesindheid.
Lekker dag vir julle almal.
Vriend Hein: Dis vir my so mooi as ek hoor dat God se kinders so vir mekaar omgee. Baie sterkte vir jou. Ek ken nie al die “in’s and out’s” van jou siekte nie, maar uit wat ek lees verstaan ek jy en jou gesin gaan deur ‘n moeilike tyd.
Een opmerking. Jy skryf:
“Ek voel ook dat om jou rykdom uit te deel nie net oor materiele dinge gaan nie maar ook oor goed soos vriendelikheid teenoor ander, gewilligheid om ‘n oor te gee om bietjie te luister, raad te gee as jy kan en bystand te verleen binne jou vermoe.”
Ek stem natuurlik 100% met jou saam hier. Maar, as ek sien hoe kerke en gemeentes finansieel sukkel terwyl die lidmate relatief welaf is, dan wonder ek of ons nie die een vir die ander verruil het nie. Het ons nie die rykdom so vergeestelik dat ons die materiële agterweë gelaat het nie?
Ek wonder maar net.
Hello Div en die ander koffiedrinkers,
Ek het net Maandagaand met een van my goeie vriende oor die materiele dinge gepraat. Ek persoonlik dink dat die grootste rede waarom mense materiele rykdom najaag maar net hulle eie skuld is aangesien ons almal maar in die wereld se strik vasgevang word. Ons ken mos die bose kringloop dat sodra jy meer ontvang as wat jy werklik nodig het jy maar net aanpas. Ek stem natuurlik met jou saam dat dat baie gemeentes sukkel terwy van die lidmate welaf is. My verduideliking daarvoor is eenvoudig dat alhoewel ons graag verkondig dat ons alles in God se hande laat ons maar al te maklik ons eie “backup” plan wil he, met ander woorde om voorsiening te maak as dit nie so goed gaan nie. Ek het al met die tyd geleer dat God in elk geval in my materiele behoeftes voorsien solank ek my kant bring. Ek dink daar moet nog ‘n “mindshift” by baie mense plaasvind oor die materiele en dat daar besef moet word dat dit wat God vir jou gee jy eintlik net ontvang om te bestuur om Sy koningkryk te bevorder. Hoe dit ookal sy- wat ek opgemerk het in ons gemeente is dat daar baie mense is wat finanieel ander wil ondersteun maar nooit geweet het waar en hoe nie. Dit is ook noodsaaklik dat gemeentes projekte loods sodat mense weet waar, wanneer en hoe om te ondersteun. Ek was al baie verbaas hoe mense se harte oopgaan indien sekere behoeftes eers bekend raak.
Lekker dag vir julle almal en dit is lekker om weer te gesels.
Groetnis.
Voordat die son sak oor die dag wil ek darem ook net dankie sê vir al die koffiedrinkers. Vandat ‘n sekere Doom baie vroeg opstaan en sy inskrywing maak vir die dag het my stiltetyd in die oggede ook bietjie verander. Hierdie “koffie tafel ding” werk vir my en ek kan nie wag vir die inskrywing om met my stilte tyd te begin nie. Dankie Hein. Dit is maar seer om jou kind so te sien lê en jy kan niks vir hom doen nie en wag maar net in stilte op die werk van die Here. Hy het juis nou vir my ‘n wonderlike verwerkig van Ps. 23 gestuur as deel van sy skripsie. Ek het sommer getjank.
Een ding is seker: Ons lewe en die uitkyk oop die lewe en veral ons waardes het baie verander – ten goede. Dit is seer, baie seer, maar God is naby ons , baie naby – amper aanvoelbaar.
Lekker dag almal en dit is wonderlik om elke dag aan te sit, soms iets by bte skryf en soms net te lees en stil te wees. Meeste van die tyd wil ek maar net hallo sê sonder om iets te skryf.
Lekker om almal se bydrae te lees. Weet julle so vyftien jaar terug was ek erg materialisties. As iets in of om die huis breek wou ek amper die “horries”.kry. Ek is gelukkig heeltemal daarvan genees nadat daar by ons ingebreek was, het ek besef dat ons kon dood gewees het. My Man sê altyd aardse-goed is nikswerd, die kosbare-goed moet in jou hart wees.
Die dissipels was almal arm, oral waar hulle gekom het is hulle versorg. Wat ek wel weet is dat die vrou wat Jesus gesalf het met die duur olie moes baie ryk gewees het want net die rykste mense kon hierdie spesiale olie bekostig. Hulle gebruik was om die hande en voete te was en dan net ‘n druppeltjie van die olie te gebruik sodat hulle lekker ryk terwyl hulle saam eet. Afgesien dat hulle arm was, was hulle eintlik skatryk want hulle was so bevoorreg om saam met Jesus al hierdie wonderwerke te sien, hulle het HOM persoonlik geken. Wat ‘n voorreg!
Dankie Doom, Jyk darem of Riaan vandag ontslaan kan word. Sy urologiese prosedure het puik afgeloop en hy kan nou weer “blaas leegmaak” soos wat mens moet.
Ebert is erg gefrustreerd. Hy voel en lyk goed en sy afskeiding is omtrent 5 ml per 12 ure. Hy wil net huis toe met alles geweld en ek dink y gaan vadag “wegloop”. Hy loop al in die straat voor die hospitaal rond.