Hierdie week is ons met die derde Bybelstudie-“metode” besig, naamlik die “Ondersoek-dit” metode.
Een van ons lidmate het ‘n makliker akroniem uitgewerk om hierdie Bybelstudie-metode te gebruik: BOSVARKIE
Belofte – Is hier ‘n belofte wat ek kan toe-eien?
Opdrag – Is hier ‘n opdragw at ek kangehoorsaam?
Sonde – Is hier ‘n sonde wat ek kan bely?
Voorbeeld – Is hier ‘n voorbeeld wat ek kan navolg?
Afdwaling – Is hier ‘n afdwaling (dwaling) waarteen ek moet waak?
Rede – Is hier ‘n rede om God te loof?
Knielgebed – Is hier ‘n (kniel)gebed om te bid?
Ingesteldheid – Is hier ‘n egtheid/waarheid om te glo en te aanvaar?
Egtheid/Waarheid – Is hier ‘n egtheid/waarheid wat ek my eie moet maak?
Die gedagte is nie dat ‘n mens met elke teksgedeelte al die vrae sal antwoord nie, maar die meeste kan wel gebruik word. Die tieners in die belydenisklas het my gisteraand verbaas oor wat hulle uit ‘n paar verse kan uithaal met die metode. Ons teksgedeelte is Markus 9:34-35:
Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”
34Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. 35Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”
Ek sien in hierdiepaar verse:
Belofte – As ek iemand anders se dienaar is, sal ek “eerste” of belangrik wees in. Ek dink daaraan dat ons met die “onderstebo” Koninkryk werk. In geen ander Koninkryk werk dit so nie. In God se Koninkryk is eerste laaste en die wat dien eintlik belangrik.
Opdrag – Ek moet almal se dienaar wees. Ek wonder darem of “almal” regtig “almal” beteken en of Jesus net bedoel het dat die dissipels mekaar se dienaars moet wees. Ek sal nog bietjie daaroor nadink.
Sonde – Ek besef nou dat ek dikwels in my lewe die belangriker of selfs die belangrikste wil wees. Ek wil gehoor word en ek wil van geweet word en ek wil hê orals waar ek gaan moet die “diens” van so ‘n aard wees dat ek nie hoef te wag nie. Want ek is belangrik. Wanneer ek dan weer aan die “diensbaar” kan staan, dan moet almal verstaan en geduldig en dankbaar en bedagsaam wees. Ek besef ek sukkel maar om laaste te wees en almal se dienaar te wees.
Voorbeeld – Mens kry ook negatiewe of slegte voorbeelde. Die dissipels is slegte voorbeeld om te redeneer oor wie die belangrikste is. Hier is dalk ook ‘n slegte voorbeeld wanneer hulle “uitgevang” en gekonfronteer word, dat hulle nie antwoord nie, maar eerder stilbly.
Afdwaling – Ek besef ek sal versigtig moet wees vir ego-trips. As ek my met behulp van die “SIEN -DIT” metode in die dissipels se situasie indink, dan kan ek net dink hoe Petrus byvoorbeeld sou geredeneer het dat hy ten minste al op die water geloop het en dat hy altyd saam met Jesus gaan as Jesus nie almal saam kan vat nie. Een van die ander sal dalk weer sê dat Hy ten minste sy beperkinge ken en dat Jesus nie nodig gehad het om hom te red van sy eie dom foute soos om te probeer om op water te loop nie. Ek sien ‘n waarskuwing om nie in die onbenullige geredekawel verstrengel te raak nie.
Rede om te loof – “Here ek wil U loof want U ken my diepste gedagtes. U weet wat ek dink wanneer niemand anders weet wat ek dink nie. U is die stille toehoorder by elke gesprek wat ek voer.”
Knielgebed – “Here Jesus ek wil so graag een van U getroue volgelinge wees, maar ek besef dat ek ook dikwels wonder wie raaksien wat ek doen en hoe ek dit doen. Dankie dat U my tog ook al die vreugde laat ervaar het van werklik ander se dienaar te wees sonder om om te gee wie sien. Leer my om nie eers wanneer ek dien te wonder of ek nou uiteindelik al eerste is nie.”
Ingesteldheid – Die ingesteldheid of gesindheid waarby elke volgeling van Jesus moet uitkom is “diensbaarheid”. In daardie tyd was ‘n dienaar nie iemand wat by geleentheid iets vir die ander doen nie. ‘n Dienaar het altyd gereed gestaan om wat ookal vir almal te doen. ‘n Dienaar staan die hele tyd gereed om ander te dien en te bedien. Jesus sê nogal “… heel laaste en almal se dienaar…”
Egtheid/Waarheid – Moenie probeer uitwerk wie is die belangrikste nie. Wees bereid om altyd te dien en altyd laaste te wees.
Gebed
“Here Jesus, in hierdie wêreld is daar so ‘n groot behoefte aan mense wat in nederigheid en diensbaarheid bereid is om almal te dien. Open deur die loop van hierdie dag die geestesoog van my verstand sodat ek die diensgeleenthede raaksien. Laat my vreugde vind in anonieme diens waarvan niemand weet nie – net ek en U. Open egter ook die geestesoog van my verstand sodat ek kan sien wanneer iemand my dien sodat ek in daardie omstandighede daardie persoon “eerste” kan laat voel. Bewaar my van myself en die kere wanneer ek dink dat ek te belangrik is. Aan U, die Een wat alles prysgegee het en die minste geword het om almal te dien, kom toe die eer en die lof en die aanbidding van my hart.
Amen
Doom: Dankie vir BOSVARKIE. Ek gaan my bes probeer. Ek het bietjie gevorder met Rick Warren se SPACEPETS, maar ek dink BOSVARKIE gaan beter werk.
Ek het die “Sê DIT!” metode gebruik vir daardie laaste vers: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” Ek het “iemand” met my naan vervang. Toe lees dit so: “As DIV die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” Ek het bietjie daar vasgehaak en my geestelike dagboek vertel sy eie verhaal.
Maar, ek het op die ou end vir myself hierdie vraag gevra: As iemand met hierdie gesindheid lewe, is daar ooit nog by hom/haar die behoefte om “eerste” te wees? Of word dit so ‘n lewens-ingesteldheid dat die gedagte van “eerste” wees net nie meer by hom/haar opkom nie?
Groete
Pragtige stuk! Ek het al baie kere ondervind om nederig te wees, gaan jy outomaties jou minder blootstel aan die verkeerde. Mense het ook baie meer respek vir jou as hulle sien jy is nederig. Ek bid dat GOD vir ons almal ‘n goue hart sal gee en ‘n goue verstand om die Bybel te verstaan en te praat sodat ons GOD kan eer.
Ek kan maar net sê AMEN.
Môresê Doom
Doom, Ding weet darem nou nie of dit by Ding gemaklik lê om noodwendig die dag in die oë te kyk met die mikpunt om ander man se voetvel te wees nie? Maar daarmee saam loop rus Ding ook nie saans die ou kop met ‘n balansstaat van “wie het vir Ding anders behandel as die belangrikste” nie.
Ding sien Doom wonder ook oor die “almal” – nou wonder Ding maar of hierdie leerstelling van Jesus nie meer gefokus was daarop om vir manman te verduidelik van die oranjelig waaroor manman heel geredelik kan wil jaag nie: net omdat manman sy beste probeer om God se kind te wees, beteken nie dat hy “eerste” in die wêreld sal wees nie. “Dissipel van Jesus” gee nie vrypas vir voorkeurbehandeling nie. Heel dikwels sal ons vind dat ons voel ons suig die agterste speen, juis OMDAT ons God se Wil doen. As Ding nou vir Ding self op daai pad tussen die dissipels moes sit, dan sou Ding nogal heel maklik begin “grootkop” kry het, want kyk, Jesus het darem mense se aandag getrek, hoor. En om dan in dié Man se geselskap te wees, sou vir Ding maklik kon laat voel dat Ding nou nie meer deel van die gepeupel is nie… En dis vir my asof, as Jesus dan vir my daai sou sê, ek sou gevoel het Jesus sê vir my: hey JY! Sien jy vir My grootkop kry? En EK is na alles God se Seun?! Kyk en word wys: vergeet van jouself en fokus op die dien van almal behalwe jouself. Kom oor jouself, Ding. As jy die pad saam met My wil loop, moet jy weet Ek wil jou kan vertrou en Ek wil weet Ek kan jou stuur om ander mense te dien, juis OMDAT jy WEET, Ding, God se Liefde en Boodskap gaan daaroor om jou naaste lief te hê soos jouself en bo alles en almal, jy ingesluit, vir God te DIEN.
Hmmm, Ding sou maar half die brand van vurige kole op die hoof gevoel het (nie dat Ding dit nie in elk geval van tyd tot tyd wanneer Ding se ego groot raak, voel nie). Maar voetvel wees? Huh-uh – Ding moet sy naaste liefhê soos homself, nie liewer nie. Watse respek het Ding vir God se skepping van Ding as Ding homself nie ook ag nie? Moeilike ene….
Grondgroete
Goeie-more Ding: Diensbaarheid is nie ‘n maklike konsep of leefstyl nie. Ek dink dit regverdig dalk ‘n skrywe op sy eie. Een ding stem ek mee saam en dit is dat ek nie dink dat die Here bedoel dat ek ander se vloerlap moet wees nie. Aan die anderkant twyfel ek of ons ou mensies hulle sommer skuldig gaan maak aan die “vloerlap” gedagte. (:-))
Nnnnaaaa, Doom, as ‘n kollektiewe groep waarskynlik nie, maar individue doen nogal – veral in huishoudings en die werkplek…
Ek hoor jou oor die “vloerlap-gesindheid en selfs verwagting in sommige huishoudings. Ek weet dat sommige vrouens soms voel dat hulle as Christen-vroue hulle mans se vloerlappe en alles wat daarmee saamgaan moet wees. Baie gevaarlik!
Ding: Ek het nou bietjie na die Grieks gaan kyk. Die woord wat hier gebruik word is diakonos – waar ons woord diaken vandaan kom. Wanneer Jesus die dissipels se voete was gebruik Hy ‘n ander woord om die onderlinge verhouding te beskryf en dit is doulos – wat slaaf beteken. Met ander woorde, die aard van die diens-verhouding tussen gelowiges is anders as die teenoor “almal”.
Diakonos beteken: “one who executes the commands of another, esp. of a master, a servant, attendant, minister the servant of a king”
Doulos beteken: “a slave, bondman, man of servile condition a slave metaph., one who gives himself up to another’s will those whose service is used by Christ in extending and advancing his cause among men devoted to another to the disregard of one’s own interests a servant, attendant.”
Met ander woorde: Ek wil tog die gevolgtrekking maak dat in hierdie geval ek eintlik Christus se dienaar is en in gehoorsaamheid aan Hom doenw at ek moet doen.
Weet nie of dit help nie.
BAIE DANKIE Dooma. Ding waardeer dit nou sommer baie. Ding wil al vanmôre gewaag het om te sê vir Ding is dit ‘n geval van as ons mos net God se dienaar is, dan sal ons outomaties mos “dien”, maar dit het half te maklik geklink! hehe