EBERT VAN DER WESTHUIZEN

Johan is al baie lankal verslaaf aan die koffie by hierdie tafel. Hy het gister begin om met ons te deel oor sy seun Ebert. Die gevoel wat ek rondom die koffietfael opgetel het. was dat ons vir Johan en Ebert en Annelize wil ondersteun, maar ook dat ons graag wil weet wat gebeur. Ek het Johan gevra om ietsie oor die situasie en oor Ebert te skryf. Hier is dit:

Ebert is een van daardie kinders wat vandat hy baie klein was net een “groot hero” (met die groootste mate van respek)  gehad het en dit was Jesus. Van klein tyd het hy al gesê hy gaan predikant word, waarmee hy dan ook nou besig en en bo gemiddeld presteer in sy klas.

EbertGedurende Oktober 2012 word daar toevallig ontdek, tydens ‘n toevallige sonar ondersoek deur die huis dokter om te kyk vir moontlike galstene, dat Ebert ‘n reuse gewas in sy lewer het en in ‘n 5 ure operasie word 80% van sy lewer verwyder. Die gewas was 16cm x10cm en het die totale regter lob van sy lewer beslaan. Op daardie staduim was hy reeds in gevorderde lewerversaaking. Na 10 dae in ‘n semi koma in die ICU word hy wakker en herstel blits vinnig en binne letterlik dae is hy terug op sy pos as jeugwerker by NG Villieria en neem selfs preekbeurte waar. Sy lewer funksie herstel merkwaardig en die lewer genereer feitlik na dubbel die grootte vanaf die klein stukkie wat oorgebly het. Ons jeug en dank God sonder ophou.

Die kanker wat hy gekry het is een van daardie baie rare tipe kankers. Ek gaan nie eers die naam probeer neerskryf nie, want dit mag lyk of ek vuil taal om die koffie tafel gebruik en dit wil ons tog ook nie hê nie. Die tipe kanker word in minder as 1% van alle tipes kanker in die wêreld gediagnoseer en dan ook net in jong mense met absolute gesonde lewers (maw nie drinkers en ooreters, soos ek nie) tussen die ouderdomme van 15 en 25 jaar. Die ander eienaardigheid van die monster is dat dit glad nie in enige bloedtoets van enige aard opgetel word nie, behalwe dat ‘n persoon met die tipe kanker ‘n verhoogde vitamien B12 telling het in die eind stadium. Bitter min dokters toets ooit ‘n mens se Vit B12 omdat dit eintlik min waarde het in enige siektetoestand. Navorsing het aangetoon dat die oorlewing syfer van mense met die tipe kanker net 5 jaar is, maar die onkoloog sê Ebert het dit waarskynlik al 6 jaar gehad omdat dit ‘n stadig groeiende kanker is. Die kanker reageer ook glad nie op enige vorm van chemoterapie nie en die enigste behandeling is om dit in totaliteit te verwyder en dan te bid dit kom nie terug nie.

‘n Maand gelede gaan Ebert vir ‘n roetine ondersoek en ‘n vloeistof massa word in sy lewer sak gevind tydens ‘n scan.

Die chirug reël dat hy op Woesdag, 5 Februarie die buik weer sal oopmaak en die oorsaak van die vog sal soek en behandel. Dit was toe gedoen en die vog was ±1 liter gal wat uit die lewer gelek het agv die feit dat die lewer vinniger “teruggegroei” het as wat verag is en die galbuisies en bloedvate nie teen diesekfde spoed kon “rek” nie en derhalwe in die groei proses gelek het.

Die dokter sit toe ‘n dreineringsbuis met ‘n sakkie in wat Ebert vir ‘n tyd sal moet dra om te sien hoeveel en indien wel die gal lek en as dit nie ophou nie, moet die lewer weer “uitgehaal” word en elke galbuisie en bloedvate moet weer nagegaan en geseël word.

Wonder bo wonder kon die dokter geen lekkasie tydesn die operasie vind nie, maar het genadiglik besluit om die sakkie vir ‘n rukkie te in te hou om die situasie dop te hou. Die uitskeiding het baie mooi opgeklaar en baie min boed en vloeistof het gedreineer – geen verdere gal nie. Weereens juig ons en dank God.

Twee dae later begin die sakkie opblaas en ‘n 90 minute noodoperasie word gedoen om te kyk waar kom die lug in die sakkie vandaan. Die oorsaak was ‘n gat in die dikderm wat veroorsaak was toe die lewer verhard en vergroot was en teen die kolon geskuur het wat die wande beskadig het. ‘n Stuk van die kolon word verwyder en weer gelas. Alles gaan goed en weer juig ons en dank God.

Op 12 Februarie word Ebert na die Kloof Hospitaal per ambulaans geneem om ‘n prosedure te doen (kamera deur sy mond, soos met ‘n gastroskopie) waar daar met kleurstowwe en ‘n kamera gekyk word na die galbuisies vir enige verdere lekkasies en dan sommer terselfdertyd die opening van die hoof galbuis na die lewer groter te maak.

Alles het goed gegaan en daar was geen verdere lekkasies nie. Ons juig weer en dank God weer Sy groot genade. Ons beplan om Ebert vandag huis toe te vat, maar heellaas……..

Drie uur gister middag is die sakkie vol geel vloeistof (stoelgang) wat uit die dikderm kom en wat aandui dat die dikderm weer lek.

Almal is op ‘n geestelike laagte punt en Ebert raak net stil en vra net vir die Here wanneer maak hy dan die storm stil en hoekom lê Hy dan so rustig en slaap in die boot terwyl die storm rondom hom woed.

Ek het nou net gehoor die derde operasie in een week is geskeduleer vir na 14h00 vandag.

Mens se liggaam kan net soveel narkose vat en mens kan net so lank sonde kos bly. Mag ek maar vra:? Here hoekom laat U toe dat die storm rondom ons woed terwyl U rustig slaap? Ons is elke oomblik bewus van U teenwoordigheid in die boot, maar ons geloof is maar swak terwyl dit lyk of die storm al erger word. Ons sien die wonderwerke wat U doen en ons loof en prys U daarvoor, maar wanneer bedaar die storm dan?

Hoekom laat die Here toe dat dit met ‘n jong man van 23 jaar oud gebeur in sy 6 jaar teologiese studies terwyl hy hom voorberei om sy hele lewe voltyds vir die Here te werk?

Ebert sê ons moet net nie sê alles gebeur met ‘n doel nie. Die Here bring nie die dinge oor hom nie. Die Here wat hy aanbid is liefdevol en soek net die beste vir Sy kinders. Hoe moet en dit verstaan?

As ek so na hom kyk tussen die spier wit lakens met die oë wat diep in die ook kaste sit en maar dof is en wat nie meer lag nie en rond kyk vir hulp en antwoorde, raak my geloof ook maar klein.

Terwyl ons so in ons eie bootjie rond dobber sien ek ook nog ander mense wat in ander bootjies rondom ons rond dobber. Oom Paul (sy vrou is ook gister met kanker gediagnoseer),  my beste vriend, Johan Erasmus (blaas kanker), Ebert se eie en enigste broer (Riaan) met “meganiese” blaas probleme wat ook Maandag “reggemaak” moet word. Om al twee jou kinders gelyktydig in twee hospitale te hê, en ook nog jou vriend en sy familie te moet ondersteun, laat wraggies my eie bootjie erg skommel op die stormsee. Terwyl ek so meditreer oor die inskrywing van Ds Attie, wonder ek of ons maar net blindelings moet bly vertrou en geloof hê en of ons maar ook by wyse van spreuke die Here mag “wakker maak” en vra of Hy dan nie omgee as die storm ons bootjie (dalk) gaan laat vergaan nie?

Nou het my koffie al koud geword en moet ek weer hospitaal toe ry om Ebert te gaan ondersteun terwyl ek eintlik en Annalize maar self sukkel om die bootjie op koers te hou in die strom. Annalize praat nie, en hou net die seile vas sodat die bootjie in die regte rigting vaar. Ek sukkel om ook net die stuur vas te hou en uit die strom te vaar terwyl ek weet die Vader lê rustig en slaap in die bootjie omdat Hy altyd in beheer is al word die storm ook al hoe woes. Kort – kort los ek die stuur en hardloop ronmd om te kyk of die vader steeds rsutig slaap en dan sien ek dat dit wel so is en dan gryp ek eers weer die stuur om die bootjie op koers te kry omdat dit effens afgedwaal het omdat ek die stuur onbeman gelos het.

Here leer my om maar net die stuur vat te hou sodat die bootjie op koers bly in die strom en net steeds te bly glo en vertrou terwyl u rustig lê en slaap in die bootjie omdat die gedllete in Markus my leer dat self “in u slaap” U slaap die bootjie in die ergste storm sal bewaar.

 

Dankie dat ek die paar gedagtes met julle om die tafel kon deel. Hoe verder ek geskryf het, hoe sterker het my geloof weer geword en nou klou ek met alles wat ek het aan die stuur vas om almal op die bootjie veilig uit die storm te laat vaar want die Here is rustig aan die slaap in ons bootjie en is glad nie bekommerd nie. Wie is ek dan om bekommerd te wees?

Merkwaardig hoe mens weer jou gedagtes kan orden deur bietjie te mediteer oor ‘n skrifgedeelte. Toe ek begin skryf het was ek hartseer en moedeloos, maar aan die einde van die gesprek het my geloof deur meditasie oor een enkele vers in die Bybel (Markus 4:40) weer versterk.  Nou moet julle my eers verskoon van die koffie tafel. Ek het ‘n boot se stuur om te gaan vas hou terwyl die storm rondom ons woed en my Here is self aan boord van die bootjie is en ek Hom nie mag teleurstel nie. Ek mag nie die stuur los nie en ek (mag?) ook nie die Here wakker maak nie want selfs in Sy “slaap” is Hy in volle beheer. Die Here vertou my om die bootjie op die regte koers te hou terwyl “Hy slaap” en ek moet dit nou dadelik weer terug gaan na die stuur. My bootjie het die afgelope dae amper op die rotse geloop omdat ek my pos verlaat het en nie die GPS (Bybel) gevolg het om op koers te bly nie.  Ek rondgehardloop om rigting te soek op verouderde kaarte, maar gelukkig het ek net betyds weer die GPS se roete bepaling gekry en die bootjie net betyds op koers gekry. Die storm woed nog en ek sien dat daar na 14h00 uur vanmiddag (derde operasie in ‘n week) erge weer verwag word, maar ek glo die koers wat die GPS aandui ons weereens veilig deur die storm sal neem, solank ek net die stuur stewig vashou sodat die bootjie op die regte koers kan bly. In die storm mag ons dalk ‘n skrapie of kneus plek hier en daar opdoen, maar dit sal gou genees.

Markus 4 het nou weer vir my ‘n baie dieper betekenis gekry en ek is dankbaar dat ek dit met julle kon deel.

Koue koffie is darem nie lekker nie, maar die koek wat Christelle verlede Sondag gebak het vir vandag se koffie drink was wragggies glad nie sleg en hoe kan ons dan twyfel of dit Sonde is om koek te bak op ‘n Sondag terwyl die kalf in die put is? (Miskien het sy dit Maandag gebak?)

14 Kommentaar

Filed under Algemeen

14 responses to “EBERT VAN DER WESTHUIZEN

  1. Christelle van der Walt

    Ek hoor jou Attie! (met ‘n glimlag)

    Ernstig nou:
    Dra asseblief my beste wense ook oor aan Johan-hulle in hierdie krisistyd van hulle. Ek dink nog die heletyd aan Ebert. Mag daar gou beterskap kom. Gebed kan sake verander.

  2. Gesina Retief

    Johan en Annalize
    Ek is so bly dat jy hierdie e-pos met ons gedeel het. Op ‘n stadium het ekself en ook my selgroep gereeld en ernstig vir Ebert gebid toe sy kanker bekend geword het maar gaandeweg het dit opgehou sonder dat ons bewus was deur watter donker waters julle bootjie gestuur word.
    Dit is so sleg as ‘n mens se kind (kinders in julle geval) ernstig siek is en ons kan maar net vir julle bid en wag totdat die Here die stuur uit jou hande oorneem.
    Mag ons gemeente ook laer trek om julle en julle dra waar dit voel of julle nie verder kan gaan nie. Ons is ten minste daar vir mekaar.

  3. Marie

    Liewe Johan Annelize, Ebert en Riaan,
    Ek wil ook van ons kant af vir julle baie sterkte toebid. Ons is nou ook in julle storm, ons sien julle hartseer en pyn, julle wroeging, maar wat die sterkste deurkom, is julle onwrikbare geloof in julle Stuurman! God is in beheer! julle storm is ook weereens vir ons ‘n oefening in geloof, ons bid en smeek die Here vir uitkoms vir julle – en ek sal God aan Sy belofte in Jes. 41:10 bly herinner, waar Hy vir julle bemoedig in hierdie tyd: “Moenie bang wees nie. Ek is met jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God, Ek help jou, Ek hou jou vas. Met my eie hand red ek jou”. God is getrou aan Sy Woord. Hy doen wat Hy belowe – Hou vas aan Sy belofte. Groete , Marie Grove

  4. Johan

    Doom (man ek hou van die woord), Is daar dalk nog ‘n bietjie koffie na ‘n baie lang dag?
    Ebert is toe na 2 ure uit die teater en die nuus is goed. Dit was toe nie die kolon wat weer gelek het nie, of die lewer wat weer gelek het nie, maar ‘n knoets ou gal wat in die vet weefsel geloop en ‘n tipe van abses gevorm het. Met gister se gewoel tydens die prosedure in die Kloof Hodpitaal het die knoets losgeraak en begin dreineer. Die teorie was dat die antibiotika infeksie sou keer en die afalstowwe sou opgeneem word, sonder om dit uit te sny. Die dokter het toe nou die hele vet werfsel knoets uitgesny en hy is nou skoon van alle infeksie en alle organe werk goed. Die Here het vanself wakker geword onder in die skuit en die storm beveel om stil te raak. Die see is besig om kalm te raak en weereens was God getrou aan Sy belofte. Jesaja 42:3 bly steeds waar. Dankie koffie vriende vir al die liefde en omgee en ook vir Markus 4:40. Mag ek dit waag om te sê ek sal nooit weer twyfel nie. Ek gaan minstens probeer. Was die lug nog altyd so blou en die bome so groen? Was alle mense altyd so vriendelik? Is dit verkeerd om weer so goed en verlig te voel? Hoekom is die Here si goed vir ons? Hoe kon ek ooit getwyfel het.
    Hierdie koppie koffie het regtig baie lekker gesmaak. Dankie vir almal vir alles om die tafel vir die vriendelikheid, liefde en vir die meditasie oor Markus 4:40.

    • Johan en Annelize: Ons is saam met julle dankbaar oor die uitslag. Lekker slaap vanaand.

      • Johan

        Ds Attie, Ons is gedaan, maar gelukkig. Vier keer teater toe in 7 dae is wraggies nie ‘n grap nie en ek lig my hoed ook Ebert wat nooit moed verloor het nie en selfs vanmiddag gelag het voor hy aan die slaap gemaak is. Dankie ook vir jou koppie koffie vandag.

  5. Gesina Retief

    Ai Johan, hoe loop die trane nou.
    Gelukkig verwag God nie van ons om altyd op ‘n “hoog” te wees nie en mag ons hartseer en moedeloos wees.
    Hy is so goed en getrou. Hy weet wanneer om in te gryp en ons weer op te lig. Jy is nou moeg van die stuur van die bootjie maar ek wens julle ‘n rustige en vredige nag toe.
    Mag God Ebert spoedig beter laat voel en volkome herstel.
    Ons mis sy laggie.

    • Johan

      As ek terug kyk op vandag sien ek donker wolke agter my en ‘n bootjie wat rustig in stil waters na dieg sonskyn sei. En ja my arms is moeg van die stuur vas hou en my oë is seer van die GPS dophou om op koers te bly. Nou gaan ek ook bietjie onder toe om saam met Jesus bietjie te rus. Markus 4 :40 het vandag lewengdig grworden aan die en kant was dit ‘n goeie dag so om due koffie tafel. Rustige nag koffie vriende. Arme Doom het vanvdag baie mense om sy koffie tafel gehad.

      • Johan: Hier was baie mense, maar dit was ‘n goeie dag rondom die koffietafel. Partykeer maak God nie die storms rondom ons stil nie, maar Hy maak die storm binne in ons stil.

        • Johan vd Westhuizen

          Môre koffie drinkers, Ek was vroeg vanoggend by Ebert en toe lê hy daar en wag vir my met ‘n glimlag om sy mond. Die diep versonke oë blink weer en ek kry ‘n “opdrag” om ietsie namens hom te gaan koop vir ‘n spesiale vriendin. In kort: Die storm het bedaar in en rondom hom en die lewe gaan voort. Ek vertel hom toe van almal van ons om die koffie tafel en hy gee toe sommer nog ‘n opdrag; “Drink vandag ‘n koppie lekker sterk koffie sonder melk en suiker op my en my Vader wat nooit my hand gelos het nie, al dink ons soms so. Ek word dalk toegerus om eendag mense wat in dieselfde situasie as ek is, dalk beter te kan begely.”

  6. Dagsê almal, maar veral Johan
    Johan, Ding wil darem die koppie lekker sterk skoon koffie vandag in jou rigting lig:-
    Al sê jy jy is nie sterk nie; al dink jy jy kommunikeer tekens van moedverloor; al hou jy jou seun hoog in sy dapperheid … iewers loop die gene bepaald sterk van vader na seun, want sowaar sowaar, jy is in jou moegheid nog steeds ‘n baie dapper man! Die voorbeeld wat jy vir jou seun stel, Johan, kan JY nie regtig raaksien nie, maar Ding, soos ander, sien daai raak en ons lig ons bekers/koppies hoog in jou rigting. Jy trap diep spore waar jy loop.
    Grondgroete

    • Johan

      Ding, Kyk nou nou hoe laat jy my tjank in my koppie. Dankie vir die woorde. Ek is eintlik maar baie swak, maar God weet dit gelukkig en weet eanneer iemand te stuur om my te ondersteun. Groete ook daar in julle kontrei.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s