IN DIE OOG VAN DIE STORM (DAG 10)

Ons mediteer vandag oor Markus 4:35-41.

Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. Skielik het daar ‘n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”
Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!”
Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”
Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”
Wees ‘n dissipel: Het Jesus jou al ooit in ‘n storm ingelei? Voel dit soms asof Hy aan die slaap is?
Toe ek hierdie vraag lees, toe dink ek vir die eerste keer daaraan dat dit Jesus was wat eintlik vir die dissipels in die storm ingelei het. Hulle het net gedoen wat Hy gesê het. Ek kan nogal ‘n paar keer in my lewe onthou wat ek heeltemal daarvan oortuig was dat ek die Here se wil doen en toe het daar een of ander vorm van ‘n “storm” losgebars. Ek onthou ook hoe van daardie “storms” so erg was dat ek gedink het ek was verkeerd en ek het my eie kop gevolg en nie die stem van die Here gehoorsaam nie. En toe daardie verskriklike “stilte” in die storm. Presies asof Jesus Hom van hierdie situasie onttrek het en ek nou die gevolge van my “verkeerde” besluite moes dra. As ek in sulke tye terugblaai in my geestelike joernaal, dan wemele dit in die tye vooraf van gebedsverhoring en die nabyheid van die leiding van die Here en die wonderlike tye in my stiltetyd. Dan skielik was daar niks. Ek bid en ek bid en niks gebeur nie. Wanneer ek bid voel dit asof my gebede terugspring van die mure en van die plafon af. DIkwels in sulke omstandighede het dit gebeur dat met die verloop van tyd die gebed minder en minder geword totdat ek myself moes forseer en later het my gebedslewe selfs opgedroog.  Ek was in ‘n storm en Jesus iewers aan die slaap.
Wees in een van die ander skuite (Vers36): Was jy al ooit in iemand anders se storm vasgevang?
Ek dink nogal dit gebeur met dominees. Ek was gisteroggend weer vasgevang in ander se storm. Ek kon baie duidelik sien dat die skuit waarop die ander vaar in die moeilikheid is. Ek probeer hulle bewus maak van Jesus wat op die bank agter in die skuit aan die slaap is, maar die storm rondom hulle is so erg, dat hulle my nie hoor nie. Binne hulle bereik is die “Antwoord” op die storm of die Een wat die storm kan stilmaak, maar hulle kom dit nie agter nie. Intussen is die see rondom my ook maar net so rof as die see waarin hulle hulle bevind. Gelukkig is ek bietjie verder weg van waar die storm die ergste is.
Maar dan is daar die kere wanneer mense naby aan my in ‘n storm van hulle eie beland. Dan is dit vir my amper nie genoeg om net hulle aandag te probeer trek en hulle bewus te maak van Jesus wat op die bank lê nie. Ek wil die storm aandurf en van my skuit af oorswem soontoe en saam met hulle in die storm wees. Intussen weet ek dat hierdie ‘n storm is wat hulle op hulle eie moet uitry.
Maar terwyl ek hier skryf besef ek dat die Here darem eintlik vir ons ‘n wonderlike manier gegee het om sulke omstandighede te hanteer. Gebed. Deur my gebed kan ek Jesus by wyse van spreke wakker maak. Deur my gebed kan ek die rol speel wat die verlamde man (Markus 2) se vriende gespeel het. Ek kan hulle tot by Jesus bring. Wanneer storms in mense se lewens hulle verlam, kan ek deur my gebed hulle na die Here toe bring sodat Hy die storm kan stilmaak.
Ek dink ook aan die storm waarin ons land tans is. Dit is lankal nie meer onweerswolke nie. Dit is ‘n storm op sy ergste. Ons kan en ons moet hier die rol van Gebed ook speel. Maar, ons moet ook onthou dat ons ten minste die verantwoordelikheid het om te doen wat ons kan doen om die skuit op die water te hou. Dit gaan nie help as ons vingers wys na mense wat verantwoordelik is vir die armoede en die korrupsie en die werkloosheid en die geweld en die misdaad nie. Weereens dink ek dat ek soms die een is wat Jesus instuur en dat Hy deur my die storm stilmaak.
‘n Gebed:
“Heilige Here Jesus, baie dankie dat U aan die dissipels en ook aan ons die versekering gegee het dat U by ons bly tot aan die voleiding van die wêreld. Dankie ook dat U vir ons die Heilige Gees gestuur het en dat Hy ons ewige metgesel is. Heilige Gees dankie dat U ons herinner aan alles wat Jessu geleer het. Ons weet eintlik dat geen storm ons skuite sal kan laat sink nie. Dankie dat U elke keer tog op die regte oomblik na vore kom om die storm stil te maak. Wees die Storm-Temmer in elkeen van ons se lewens.”

10 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

10 responses to “IN DIE OOG VAN DIE STORM (DAG 10)

  1. Christelle van der Walt

    AMEN

  2. Veerkie

    Dankie vir die gebed Doom. Ja, ons het hulp nodig vir die storms rondom ons.

    Wanneer ek ‘n geestelike droogte ondervind, gaan haal ek die gebedjie wat my ouers my laat se het as klein dogtertjie:

    “Benne kindjie klein, Liewe Jesus maak my hartjie rein” – omrede dit my terugneem na die tyd toe my ouers my nog versorg het, laat dit my sommer weer weerloos voel. Ek dink nie mens kan God se nabyheid VOEL wanneer ons te selfstandig probeer wees nie. Ek dink nogals regtig Hy wil he ons moet Hom meer vertrou as ons Uber-Vader….

  3. Johan vd Westhuizen

    Ds Attie, Veertie, Christelle, Ding en al die stilswyende koffie drinkers om Ds Attie se tafel;
    Eerstens moet ek verskoning maak dat my tikwerk soms bietjie “snaaks” lyk. Soms tik ek op my nuwe Samsung Galaxy Siii met sy “raak skerm” (pragtige Aftikaans, nê?) en my dik duim raak dan baie aan die syfers langs die een wat bedoel is om op geraak te word.
    Tweedens het ds. Attie gevra dat ek so bietjie koffie mors op sy tafeldoek oor my jongeste seun, Ebert.
    Ebert is een van daardie kinders wat vandat hy baie klein was net een “groot hero” (met die groootste mate van respek) gehad het en dit was Jesus. Van klein tyd het hy al gesê hy gaan predikant word, waarmee hy dan ook nou besig en en bo gemiddeld presteer in sy klas.
    Gedurende Oktober 2012 word daar toevallig ontdek, tydens ‘n toevallige sonar ondersoek deur die huis dokter om te kyk vir moontlike galstene, dat Ebert ‘n reuse gewas in sy lewer het en in ‘n 5 ure operasie word 80% van sy lewer verwyder. Die gewas was 16cm x10cm en het die totale regter lob van sy lewer beslaan. Op daardie staduim was hy reeds in gevorderde lewerversaaking. Na 10 dae in ‘n semi koma in die ICU word hy wakker en herstel blits vinnig en binne letterlik dae is hy terug op sy pos as jeugwerker by NG Villieria en neem selfs preekbeurte waar. Sy lewer funksie herstel merkwaardig en die lewer genereer feitlik na dubbel die grootte vanaf die klein stukkie wat oorgebly het. Ons jeug en dank God sonder ophou.
    Die kanker wat hy gekry het is een van daardie baie rare tipe kankers. Ek gaan nie eers die naam probeer neerskryf nie, want dit mag lyk of ek vuil taal om die koffie tafel gebruik en dit wil ons tog ook nie hê nie. Die tipe kanker word in minder as 1% van alle tipes kanker in die wêreld gediagnoseer en dan ook net in jong mense met absolute gesonde lewers (maw nie drinkers en ooreters, soos ek nie) tussen die ouderdomme van 15 en 25 jaar. Die ander eienaardigheid van die monster is dat dit glad nie in enige bloedtoets van enige aard opgetel word nie, behalwe dat ‘n persoon met die tipe kanker ‘n verhoogde vitamien B12 telling het in die eind stadium. Bitter min dokters toets ooit ‘n mens se Vit B12 omdat dit eintlik min waarde het in enige siektetoestand. Navorsing het aangetoon dat die oorlewing syfer van mense met die tipe kanker net 5 jaar is, maar die onkoloog sê Ebert het dit waarskynlik al 6 jaar gehad omdat dit ‘n stadig groeiende kanker is. Die kanker reageer ook glad nie op enige vorm van chemoterapie nie en die enigste behandeling is om dit in totaliteit te verwyder en dan te bid dit kom nie terug nie.
    ‘n Maand gelede gaan Ebert vir ‘n roetine ondersoek en ‘n vloeistof massa word in sy lewer sak gevind tydens ‘n scan.
    Die chirug reël dat hy op Woesdag, 5 Februarie die buik weer sal oopmaak en die oorsaak van die vog sal soek en behandel. Dit was toe gedoen en die vog was ±1 liter gal wat uit die lewer gelek het agv die feit dat die lewer vinniger “teruggegroei” het as wat verag is en die galbuisies en bloedvate nie teen diesekfde spoed kon “rek” nie en derhalwe in die groei proses gelek het.
    Die dokter sit toe ‘n dreineringsbuis met ‘n sakkie in wat Ebert vir ‘n tyd sal moet dra om te sien hoeveel en indien wel die gal lek en as dit nie ophou nie, moet die lewer weer “uitgehaal” word en elke galbuisie en bloedvate moet weer nagegaan en geseël word.
    Wonder bo wonder kon die dokter geen lekkasie tydesn die operasie vind nie, maar het genadiglik besluit om die sakkie vir ‘n rukkie te in te hou om die situasie dop te hou. Die uitskeiding het baie mooi opgeklaar en baie min boed en vloeistof het gedreineer – geen verdere gal nie. Weereens juig ons en dank God.
    Twee dae later begin die sakkie opblaas en ‘n 90 minute noodoperasie word gedoen om te kyk waar kom die lug in die sakkie vandaan. Die oorsaak was ‘n gat in die dikderm wat veroorsaak was toe die lewer verhard en vergroot was en teen die kolon geskuur het wat die wande beskadig het. ‘n Stuk van die kolon word verwyder en weer gelas. Alles gaan goed en weer juig ons en dank God.
    Op 12 Februarie word Ebert na die Kloof Hospitaal per ambulaans geneem om ‘n prosedure te doen (kamera deur sy mond, soos met ‘n gastroskopie) waar daar met kleurstowwe en ‘n kamera gekyk word na die galbuisies vir enige verdere lekkasies en dan sommer terselfdertyd die opening van die hoof galbuis na die lewer groter te maak.
    Alles het goed gegaan en daar was geen verdere lekkasies nie. Ons juig weer en dank God weer Sy groot genade. Ons beplan om Ebert vandag huis toe te vat, maar heellaas……..
    Drie uur gister middag is die sakkie vol geel vloeistof (stoelgang) wat uit die dikderm kom en wat aandui dat die dikderm weer lek.
    Almal is op ‘n geestelike laagte punt en Ebert raak net stil en vra net vir die Here wanneer maak hy dan die storm stil en hoekom lê Hy dan so rustig en slaap in die boot terwyl die storm rondom hom woed.
    Ek het nou net gehoor die derde operasie in een week is geskeduleer vir na 14h00 vandag.
    Mens se liggaam kan net soveel narkose vat en mens kan net so lank sonde kos bly. Mag ek maar vra:? Here hoekom laat U toe dat die storm rondom ons woed terwyl U rustig slaap? Ons is elke oomblik bewus van U teenwoordigheid in die boot, maar ons geloof is maar swak terwyl dit lyk of die storm al erger word. Ons sien die wonderwerke wat U doen en ons loof en prys U daarvoor, maar wanneer bedaar die storm dan?
    Hoekom laat die Here toe dat dit met ‘n jong man van 23 jaar oud gebeur in sy 6 jaar teologiese studies terwyl hy hom voorberei om sy hele lewe voltyds vir die Here te werk?
    Ebert sê ons moet net nie sê alles gebeur met ‘n doel nie. Die Here bring nie die dinge oor hom nie. Die Here wat hy aanbid is liefdevol en soek net die beste vir Sy kinders. Hoe moet en dit verstaan?
    As ek so na hom kyk tussen die spier wit lakens met die oë wat diep in die ook kaste sit en maar dof is en wat nie meer lag nie en rond kyk vir hulp en antwoorde, raak my geloof ook maar klein.
    Terwyl ons so in ons eie bootjie rond dobber sien ek ook nog ander mense wat in ander bootjies rondom ons rond dobber. Oom Paul (sy vrou is ook gister met kanker gediagnoseer), my beste vriend, Johan Erasmus (blaas kanker), Ebert se eie en enigste broer (Riaan) met “meganiese” blaas probleme wat ook Maandag “reggemaak” moet word. Om al twee jou kinders gelyktydig in twee hospitale te hê, en ook nog jou vriend en sy familie te moet ondersteun, laat wraggies my eie bootjie erg skommel op die stormsee. Terwyl ek so meditreer oor die inskrywing van Ds Attie, wonder ek of ons maar net blindelings moet bly vertrou en geloof hê en of ons maar ook by wyse van spreuke die Here mag “wakker maak” en vra of Hy dan nie omgee as die storm ons bootjie (dalk) gaan laat vergaan nie?
    Nou het my koffie al koud geword en moet ek weer hospitaal toe ry om Ebert te gaan ondersteun terwyl ek eintlik en Annalize maar self sukkel om die bootjie op koers te hou in die strom. Annalize praat nie, en hou net die seile vas sodat die bootjie in die regte rigting vaar. Ek sukkel om ook net die stuur vas te hou en uit die strom te vaar terwyl ek weet die Vader lê rustig en slaap in die bootjie omdat Hy altyd in beheer is al word die storm ook al hoe woes. Kort – kort los ek die stuur en hardloop ronmd om te kyk of die vader steeds rsutig slaap en dan sien ek dat dit wel so is en dan gryp ek eers weer die stuur om die bootjie op koers te kry omdat dit effens afgedwaal het omdat ek die stuur onbeman gelos het.
    Here leer my om maar net die stuur vat te hou sodat die bootjie op koers bly in die strom en net steeds te bly glo en vertrou terwyl u rustig lê en slaap in die bootjie omdat die gedllete in Markus my leer dat self “in u slaap” U slaap die bootjie in die ergste storm sal bewaar.

    Dankie dat ek die paar gedagtes met julle om die tafel kon deel. Hoe verder ek geskryf het, hoe sterker het my geloof weer geword en nou klou ek met alles wat ek het aan die stuur vas om almal op die bootjie veilig uit die storm te laat vaar want die Here is rustig aan die slaap in ons bootjie en is glad nie bekommerd nie. Wie is ek dan om bekommerd te wees?
    Merkwaardig hoe mens weer jou gedagtes kan orden deur bietjie te mediteer oor ‘n skrifgedeelte. Toe ek begin skryf het was ek hartseer en moedeloos, maar aan die einde van die gesprek het my geloof deur meditasie oor een enkele vers in die Bybel (Markus 4:40) weer versterk. Nou moet julle my eers verskoon van die koffie tafel. Ek het ‘n boot se stuur om te gaan vas hou terwyl die storm rondom ons woed en my Here is self aan boord van die bootjie is en ek Hom nie mag teleurstel nie. Ek mag nie die stuur los nie en ek (mag?) ook nie die Here wakker maak nie want selfs in Sy “slaap” is Hy in volle beheer. Die Here vertou my om die bootjie op die regte koers te hou terwyl “Hy slaap” en ek moet dit nou dadelik weer terug gaan na die stuur. My bootjie het die afgelope dae amper op die rotse geloop omdat ek my pos verlaat het en nie die GPS (Bybel) gevolg het om op koers te bly nie. Ek rondgehardloop om rigting te soek op verouderde kaarte, maar gelukkig het ek net betyds weer die GPS se roete bepaling gekry en die bootjie net betyds op koers gekry. Die storm woed nog en ek sien dat daar na 14h00 uur vanmiddag (derde operasie in ‘n week) erge weer verwag word, maar ek glo die koers wat die GPS aandui ons weereens veilig deur die storm sal neem, solank ek net die stuur stewig vashou sodat die bootjie op die regte koers kan bly. In die storm mag ons dalk ‘n skrapie of kneus plek hier en daar opdoen, maar dit sal gou genees.
    Markus 4 het nou weer vir my ‘n baie dieper betekenis gekry en ek is dankbaar dat ek dit met julle kon deel.
    Koue koffie is darem nie lekker nie, maar die koek wat Christelle verlede Sondag gebak het vir vandag se koffie drink was wragggies glad nie sleg en hoe kan ons dan twyfel of dit Sonde is om koek te bak op ‘n Sondag terwyl die kalf in die put is? (Miskien het sy dit Maandag gebak?)

  4. Hein Immelman

    Hello Johan en die ander koffiedrinkers,
    Wat ‘n wonderlike getuienis wat jy hier met ons deel Johan. Ek dink aan jou en jou gesin in hierdie moeilike tye wat julle deurgaan. Ons kleingroep gaan julle ook op ons gebedslys sit en julle aan God opdra. Ekself stoei nog met die kanker en het self so 10 dae terug operasie gehad om vog van my regterlong te verwyder. Ek moet se dat hierdie goed ‘n mens maar partykeer mismoedig raak maar soos jy ook getuig moet ons net altyd ons oe op God gefokus hou. Ek vra ook nie vrae hoekom die dinge oor my pad kom nie maar lewe met die uitsluitlike oortuiging dat God ‘n doel met alles het en dat Sy wil moet geskied ongeag of ons noodwendig daarmee saamstem. Wat ek egter geleer het die afgelope jaar is dat God op Sy eie tyd werk en ons altyd verwag dat dinge vinniger moet gebeur. Ek is ook nou so om en by een jaar weer besig met chemo maar het ek alles in God se hande geplaas. Ek is juis weer hierdie week daaraan herinner dat ons al ons bekommernisse op God moet werp en dat hy vir ons sorg en ons bekommernisse op hom neem- die teksvers in Petrus wat ook in die werkboek vir die week is.
    Voor my operasie laas week het Attie my ook gevra of ek bang was vir die operasie en was my antwoord dat ek geensins enige vrees daarvoor het nie. Ek dink dit sluit maar aan by jou omskrywing dat ek niks vrees nie aangesien ek weet dat God in beheer is van die storms in my en ons lewens.
    Johan- julle moet sterk staan daaikant en onthou dat God jou nooit verlaat nie ongeag watter storms om jou woed nie. Laat weet ook asseblief indien daar enigiets is waarmee ons kan help- ons is almal net ‘n oproep weg.
    Ek weet ook dat alles sal goed gaan vandag.
    Groetnis
    Hein.

  5. Linda

    Ai Doom hoe wonderlik is ons Here nie. Ek het agter by die koffietafel ingeval en werk hom nou terug. My gebed was dan nou, nie ‘n halfuur terug nie dat die Here my altyd sal gebruik en ek my tyd gee daar waar Hy my wil gebruik. Ek self voel altyd so die ‘terrible’ tye van die afhanklike aan en hier se u dit so mooi – soms MOET hulle ALLEEN deur daardie storm gaan – en hier bevestig u ook net weer dat ons nooit moet ophou bid eerder as om as’te ware saam met van die afhanklikes handdoek in te gooi nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s