ALLES VUL MENS MET VERWONDERING (DAG 11)

Die SIEN DIT! manier van meditasie oor die Skrif het wonderlike potensiaal. Ek vind egter dat die tyd vir my te gou verbygaan. Ek kry nie klaar gedink oor elkeen van die karakters nie. Vandag lees ons Markus 5:21-43. (Die gedeelte is bietjie lank om volledig hier te plaas. Dit gaan egter oor die dogtertjie van Jaïrus en die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.)

Plaas jouself telkens in die verhaal as elk van die karakters. By watter karakter vind jy die meeste aanklank? 

(Aangesien hierdie meditasie lank is, sou ek ook dink dat jy eers probeer uitwerk met watter een van die vier karakters identifiseer jy en dan net die karakter se stukkie lees.)

Nie maklik nie. Vandag begin ek met die laaste groep. Die dissipels.

As dissipel is ek half omgekrap met die skare wat alweer so ‘n bohaai oor Jesus maak. Kan ons dan nêrens heengaan sonder dat ons met skares mense besig is nie? Ons kan amper nie beweeg nie en nes ons dink ons beweeg in ‘n rigting, dan bring Jesus alles tot stilstand. Hy wil weet wie het aan Hom geraak. Kan jy dit glo? Totdat hierdie bang vroutjie na vore kom. Dan is ek verbaas. Kan jy dink dit is moontlik? Iemand raak net aan Jesus se kleed en dit is genoeg vir die persoon om genees te word. Hoe kan dit moontlik wees? Ek vra opnuut weer vrae oor wie hierdie Jesus nou eintlik is.

Maar dan is daar natuurlik  Jaïrus se dogtertjie. Terwyl Jesus met die vrou gesels het, het die mense klaar kom sê dit is te laat en dat Jaïrus moet ophou om Jesus lastig te val aangesien die dogtertjie klaar dood is. Ek vra vir myself af of dit nie dalk anders sou gewees het as dit nie vir Jesus so belangrik was om te weet wie aan Hom geraak het nie? Nou het Hy tyd gemors en die dogtertjie is dood. Weereens is ek verbaas as Jesus anders dink. Al wat Hy doen is om vir Jaïrus te sê dat hy moet aanhou glo. Waaraan glo ‘n mens as jou kind dood is? Kan ‘n mens nog glo as jou kind dood is? Dan kom ons by die huis. Ek kan my ore nie glo as ek hoor hoe Jesus met die roubeklaers raas nie. Hulle moet mos huil as ‘n twaalfjarige dogtertjie nou net dood is. Maar toe gaan ons drie dissipels saam met die ouers na binne en daar maak Hy die dooie dogtertjie lewend. As ek verstom was oor die vrou is ek nou heeltemal uit die veld geslaan. In my hart groei daar ‘n diep eerbied en respek vir hierdie Man wat my geroep het om een van sy naaste vriende te wees.

Dink bietjie hieroor: Hoe is die situasie van die dissipels op jou van toepassing? Wat gaan jy daaromtrent doen?

Ek dink vanoggend aan my eie ongeduld wanneer die Here nie die dinge wil laat gebeur in die volgorde wat ek dink dit moet gebeur nie en wanneer Hy nie dinge laat gebeur teen die pas wat ek wil hê dit moet gebeur nie. Ek besef dat ek meer geduldig met God sal moet wees anders gaan ek van sy wonderwerke mis. Ek besef ook dat ek in sy diens is en Hy nie in my diens nie. 

Ek is Jaïrus se dogtertjie. Ek was lank baie siek. Om die waarheid te sê, ek was nie eens bewus daarvan dat my pa na Jesus gaan soek het nie. Ons hele gesin het eintlik baie goed van Jesus geweet. Ons het van Hom gepraat as “Ons Leermeester”. Dit het vir my gevoel asof ek slaap. En net soos die kere wat my ma of my pa my geroep het terwyl ek slaap, het ek gevoel hoe iemand aan my hand vat en ek het ‘n stem gehoor. ‘n Man se stem. Die stem het gesê: “Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!” Ek het my oë oopgemaak en toe staan Jesus daar met my hand in syne. Hy het my opgehelp. Toe ek my ouers se gesigte sien, toe besef ek dat hier nou iets wonderliks gebeur het. Later sou ek hoor dat ek al dood was. Jesus het na my huis toe gekom. In my kamer ingekom. My aan my hand gevat en my weer lewendig gemaak. Ek gaan die res van my lewe aan Hom wy.

Dink bietjie hieroor: Hoe is die situasie van Jaïrus se dogtertjie op jou van toepassing? Wat gaan jy daaromtrent doen?

Ek wonder hoeveel dinge gebeur agter die skerms waarvan ek nie eens bewus is nie. Hoeveel mense doen namens my moeite om te verseker dat ek en Jesus by mekaar uitkom. Ek dink aan die mense wat ek weet op ‘n gereelde basis vir my bid. 

Ek is die vrou wat aan bloedvloeiïng lei. Ek dink nie enige iemand verstaan hoe moeilik dit vir my was nie.  Ek het vir twaalf jaar aan hierdie siekte gely. Die siekte het my hele sosiale en huwelikslewe negatief geraak. Ek kon nêrens gaan nie. Ek nooit op ‘n stoel sit nie omdat ek die stoel onrein sal maak. Maar, laat ons nie teveel daaroor praat nie. Ek het baie van Jesus gehoor. Ek het gehoor van al die wonderwerke wat Hy gedoen het. Hoe meer ek gehoor het, hoe sterker het my ootuiging geraak dat Hy my ook sal kan help. Toe ek hoor dat Hy oppad was na ons toe het ek gereed gemaak om by Hom uit te kom. Ek wou niemand se aandag trek nie. As gevolg van my siekte is ek onrein en niemand wil aan my raak nie. Ek wou net aan sy kleed raak. Ek het geweet dit sal genoeg wees. Hy maak daarop aanspraak dat Hy die Seun van God is. Ek bid al vir twaalf jaar dat God my sal genees. As Hy die Seun van God is, sal selfs die krag wat daar in sy kleed is genoeg wees om my gesond te maak. Ek moet sê, tussen al daardie mense was dit nie maklik om ongemerk by Hom uit te kom nie. Ek het geglo dit gaan gebeur, maar toe dit gebeur toe is ek self verbaas. Ek het omgedraai om as nuwe mense weg te stap, toe ek Hom hoor vra: Wie het aan my geraak? Hoe het Hy geweet? Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Toe ek op my knieë val is dit aan die een kant om te pleit dat Hy nie kwaad moet wees nie, maar aan die anderkant ook omdat my hart gevul is met verwondering oor Jesus van Nasaret. Ek wou niks anders doen as om Hom te aanbid nie. Ek het Hom my hele storie vertel en Hy het na my geluister. Die ongeduldige skare het Hom nie gepla nie. Vir my ook nie. Daardie oomblikke saam met Hom was die wonderlikste oomblikke van my hele lewe.

Dink bietjie hieroor: Hoe is die situasie van die vrou wat aan bloedvloeiïng gely het op jou van toepassing? Wat gaan jy daaromtrent doen?

Hierdie vrou is die een karakter in die Bybel na wie ek altyd met groot deernis kyk. In tye wanneer ek sukkel met my gebedstyd sien ek myself as hierdie vrou wat sommer net dankbaar by die voete van Jesus neerval en my verhaal vir Hom vertel. “Here, hoor bietjie wat gaan aan in my lewe.” Ek onthou daar was ‘n liedjie wat ons as jongmense in die koffiekroeg op Oudtshoorn gesing het: “He is big enough to rule this mighty universe, yet small enough to live within my heart.” Die magtige Jesus maak tyd vir my en bring alles tot stilstand om na my verhaal te luister. 

Ek is Jaïrus. Ek is die pa van ‘n dogtertjie wat baie siek is. Tot die dood toe siek. Ons het reeds alles probeer. Niks het gehelp nie. Jesus was die enigste moontlike antwoord en oplossing. Ek het besluit om Hom te gaan soek. Ek kry Hom toe net toe Hy in ons omgewing aankom. Hy het nie gehuiwer om saam met my te gaan nie. Ek was opgewonde. Hy sal haar gesond kan maak. As ons net betyds kon wees. Ons was goed oppad. Toe steek Hy vas. Ek wou nog vra, toe vra Hy. En kan jy glo, Hy praat met hierdie vrou. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek was baie bly vir haar onthalwe, maar hoekom stop? Sy is mos klaar gesond. Hoekom nog tyd gee om na haar verhaal te luister van hoe sy vir al daardie jare siek was. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Toe, terwyl ons daar staan en Jesus met hierdie vrou besig is, kom die boodskap… my kind is klaar dood. Ek het gevoel asof die mat onder my voete uitgepluk word. Voordat ek iets kon sê, praat Jesus my moed en sê ek moet maar net bly glo.

Hy gaan toe by ons huis in. Hy en sy drie dissipels en ek en my vrou gaan saam met Hom in die kamer in. My hart het amper in stukke gebreek toe ek haar daar sien lê. Haar lewelose liggaampie op dieselfde bed waar ons haar die laaste tyd met soveel sorg versorg het. Nou was dit te laat. Ek het nie geweet wat Jesus gaan doen nie. Toe Hy aan haar hand vat, toe weet ek nog steeds nie. Toe hoor ek Hom praat. Ek hoor hoe sê Hy vir haar om op te staan. Ek was te bang om te kyk. Toe ek rondom my hoor hoe die mense na hulle asems snak, toe waag ek dit om te kyk. Daar staan sy regop en sy begin loop.

Jesus was ons Leermeester en daarom het ek na Hom gaan soek. Op daardie dag het Hy egter vir ons gesin meer geword as ‘n Leermeester. Diep in ons harte het ons geweet dat die koninkryk van God op daardie in ons huis in ons gesien deurgebreek het. Ek het nie geweet wat om te sê nie. Later sou ons weet ons kan maar sê: My Here en my God.

Dink bietjie hieroor: Hoe is die situasie van Jaïrus op jou van toepassing? Wat gaan jy daaromtrente doen?

In my persoonlike meditasie het ek vanoggend teruggedink aan my eie kinders. Ek dink nogal die Here het ons oudste dogter vir ons uit die dood uit teruggegee na ‘n baie ernstige motorongeluk. Ek dink aan elkeen van ons kinders en sien op ‘n ander manier hoe God doen wat net Hy kan doen. In hierdie laaste paar maande het ons dit weer beleef. 

Twee dinge is belangrik. Eerstens is my hart gevul met wat die Engelse sou noem “awe” stil eerbied vir hoe God Hom oor my ontferm het. Tweedens is ek intens bewus daarvan dat dit nie met almal so gaan nie. Ek dink aan ‘n pa en ‘n ma wat op ‘n uiters tragiese manier hulle seun sien sterf het en aan ‘n vrou wat haar jong man aan die dood moes afstaan en daardie twee kindertjies wat sonder hulle pappa moet groot word.  Ek dink aan ‘n vrou wie se man selfsmoord gepleeg het en nou haar twee kindertjies alleen moet grootmaak. 

Mag jou dag gevul wees met verwondering oor die grootheid van God. 

NS. Met watter karakter het jy geïdentifiseer? Skryf net die karakter se naam neer, jy hoef nie te verduidelik hoekom nie.

4 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

4 responses to “ALLES VUL MENS MET VERWONDERING (DAG 11)

  1. Christelle van der Walt

    Attie, ek voel vandag so positief en energiek dat ek nie met een van die karakters kan vereenselwig nie. Ek het die kern van jou boodskap hier in my hart gebêre.

  2. Werner Olivier

    ‘n Baie mooi uiteensetting Attie.Ek wil twee vrae vra.Hoekom sou Jesus die vraag vra,wie het aan my geraak?Sou Hy nie in Sy almag geweet het wie dit was nie? Wanneer Jesus iemand gesond gemaak het,het Hy altyd gese,
    gaan en moet vir niemand vertel nie.Hoekom sou hy so se?
    Groetnis.

  3. Werner: Jou eerste vraag is moeilik. Ek is nie seker waarom Jesus nie geweet het wie dit was nie. Ek wonder of fit was om die boodskap oor te dra dat sy bediening verder gaan as net genesing en Hy dus ook vir haar daarop wou wys dat haar sonde vergewe is.

    Die tweede vraag: Markus werk met die gedagte van ‘n “Messias-geheim”. Dwarsdeur wil Jesus nie te veel aandag vestig op wie Hy is nie ens. Asof hy sy evangelie skryf met die gedagte van ‘n ontknoping aan die einde.

  4. Linda

    Ek se altyd: Ek het, ek was, maar nou is ek. Ek het dit gedoen, ek was daardeur, maar nou is ek skoongewas deur Jesusbloed. Ek kan net getuig van God se goedheid en beskermde hand oor my – al die jare toe ek nog ‘dom’ was. Hoekom dan nie vir almal vertel van Sy goedheid nie? Mag almal die voorreg he om God se goedheid ook elders te beleef as net die genade wat ons elke dag ontvang met die dag wat breek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s