MOENIE OOR JOU SORGE MEDITEER NIE (DAG 5)

Ons kleingroep het gister na die eerste DVD van Rick Warren gekyk oor die 40 Dae in die Woord. Ek was verstom oor hoe die groep die “SPREEK DIT UIT” metode baas geraak het. Sonder dat hulle mooi daaroor gedink het, het ons as groep saam gemediteer oor Kol 3:15.

In die Dagstukkies mediteer ons vanoggend oor Filippense 4:6:

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”

Hierdie is seker een van die bekendste verse oor gebed.

“Moet…” Ek dink die betekenis is duidelik. Hier rus weereens ‘n verpligting op ons. Ons het eintlik nie ‘n keuse nie. Tog is hierdie vir my meer van ‘n gerusstelende “moet”. Ek dink byvoorbeeld aan ons dogter Renè wat besig is om vir redenaars voor te berei. Almal van ons weet haar t0espraak is goed en sy het goed voorberei en sy het die vermoë om haar saak te stel. Tog is sy erg gespanne voor sy haar redenaars gaan doen. Dan sê ek ook vir haar: “Moet nou nie bekommerd wees nie. Dit sal goed gaan , jy sal sien.” Ek probeer haar gerusstel met die sinnetjie wat begin met “moet”.

“… oor niks…” Hierdie woordjie spreek vanself. Absoluut niks. Die teenoorgestelde is alles.

“… besorg wees nie…” Ek ken die woordjie goed. Ek weet wat dit beteken om bekommerd of besorg te wees. Mens is bekommerd of besorg wanneer dinge die potensiaal het om skeef te loop. Ek kan nogal oor sulke sorge “mediteer”. Ek herkou dit en bedink dit en oordink dit. Ek dink aan al die verskillende dinge wat moontlik gaan gebeur en later begin ek glo dit gaan regtig gebeur. Die volgende ding is ek probeer op alle fronte keer dat al die dinge wat moontlik kan gebeur nie gebeur nie. Dan gebeur dit so maklik dat ek soos ‘n afkophoender rondhardloop en denkbeeldige gate toestop. As ek in sulke tye in die nag wakker word, kan ek nie aan die slaap raak nie omdat ek met hierdie sorge in my gedagtes besig is. Ek moet oor niks besorg wees nie. Vanoggend wil ek dit so verstaan: Moenie oor jou sorge mediteer nie.

“… maar…” Hierdie woordjie wil sê dit wat nou hierna kom moet in die plek wees van dit wat die worodjie voorafgaan. Daar gaan in elkeen van ons se lewens meer as genoeg rede wees om ons te bekommer. Daar is meer as genoeg sorge waaroor ons sou kon mediteer. Maar moenie oor jou sorge mediteer nie. Doen iets anders daarmee.

“… maak in alles julle begeertes…” Vanoggend tref dit my so half en half vir die eerste keer, hier staan nie “sorge” of “die dinge waaroor julle besorg is” nie. Hier staan begeertes. Met betrekking tot my bekommernis het ek die begeerte dat dinge tog mooi en goed sal uitwerk selfs al lyk dinge nie nou so erg mooi nie. So ek moet iets met daardie beergte maak. Maar ek het ook begeertes wat ‘n mens drome sou kon noem. Ek het verwagtinge oor die toekoms. Ek het die begeerte dat die Bybel opnuut weer die lewende woord van die lewende God vir elkeen in ons gemeente sal word. So ek moet iets met daardie begeerte maak. Ek het die begeerte dat Renè goed sal doen in haar redenaars. So sou ek kon aangaan.

“… deur gebed en smeking en met danksegging…” Nou wonder ek, hoekom staan hier nie net “deur gebed” nie? Hoekom smeking en danksegging ook? Gebed sien ek as gesprek met God. Wanneer ek met ‘n teks soos hierdie besig is, dan stop ek dikwels en ek praat sommer net in gebed met God oor dit wat ek ontdek en die lig wat skielik vir my opgaan. Smeking en danksegging is deel van gebed. Ek dink aan die Jesaja teks waaroor ek ‘n ruk terug gepreek het waarin die profeet sê dat hy nie sal stilbly totdat God sy beloftes aan Israel waar gemaak het nie. Ek dink dit is die “smeking” deel. Ek sal nie ophou om die Here aan sy beloftes te herinner nie. Daar is sekere dinge waarvoor ek sal aanhou vra totdat dit heeltemal duidelik is dat dit nie gaan gebeur nie of totdat dit gebeur. Ek pleit en smeek by die Here oor sekere dinge. Met my gesprek praat ek met God oor dit wat ek nou beleef. Met smeking kyk ek (hopelik) saam met God vorentoe. Met danksegging kyk ek saam met God agtertoe. As ek terugkyk in my lewe sien ek hoe goed God tog vir my was. Ek ontdek dikwels dat dinge nie noodwendig vir my uitgewerk het soos ek gehoop het nie, maar dit was nie noodwendig sleg nie. God se uitkoms was dalk anders as die een waarvoor ek gevra het, maar dit was steeds ‘n uitkoms en dikwels ‘n beter uitkoms. Maar ek kyk ook terug en ek sien hoe God my krag gegee het om die “nee” te dra. En vir al hierdie dinge dank ek Hom.

“… aan God bekend…” Ek moet my sorge en my begeertes na God toe neem en nie na my kussing toe nie. Ek moet my bekommernisse voor God gaan uitspel en nie teenoor my vriende nie. Natuurlik kan ek met ander daaroor praat, maar ons praat meer met mense oor ons sorge en ons drome as ons met God daaroor praat. Natuurlik weet God reeds van alles wat my pla en selfs van my drome, maar God vind ook vreugde daarin wanneer ek my vertroue in Hom en my geloof in Hom wys deur in gebed by Hom hiervoor te kom pleit. God vind vreugde daarin wanneer Hy sien dat ek as sy kind dinge nie as vanselfsprekend aanvaar nie, maar dikwels terugkom en vir Hom dankie sê vir die dinge wat Hy in my lewe doen.

Ek en my vrou het ‘n ooreenkoms met ons geld wat vir baie mense vreemd is. Sy is voltyds huisvrou en my persoonlike assistent. Sy word nie vir een van die twee vergoed nie. Maar ons het ‘n gesamentlike rekening waarin my salaris inbetaal word. Sy is vry om daardie geld te spandeer soos sy goeddink. Sy het egter ook ‘n aparte rekening. In die rekening sit ek elke maand ‘n paar rand wat sy op haarself kan spandeer. (Die meeste van die tyd spandeer sy dit op die kinders of selfs op my van tyd tot tyd.) My ooreenkoms aan haar is dat sy aan niemand verantwoording hoef te doen vir daardie geld nie. Maar, elke keer as sy vir haar of die twee meisiekinders wat nog in die huis is, iets koop kom wys hulle vir my en is hulle erg dankbaar daarvoor. Hulle bekendmaak en danksegging doen aan my wat geen geld ooit kan doen nie.

Ek dink ons gebed en smeking en danksegging doen dieselfde aan God.

2 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord, Die Christelike Lewe, Gebed

2 responses to “MOENIE OOR JOU SORGE MEDITEER NIE (DAG 5)

  1. Christelle van der Walt

    Dit is pragtig Attie, dit is hoe dit hoort.

    Om terug te kom na die woordjie bekommernis. Ons almal het stress nodig om te kan funksioneer anders is ons dood. Dit kos iets-vir-iets.

    Weet jy hoe hanteer ek my eie stress, of as iemand my vra vir hulp:
    Jesus Christus se leiding wat HY moes deurmaak was en is vir my nog die ergste wat ‘n mens moes verduur. SY gebed was so intens dat SY bloed van sy voorkop af gedrup het op die grond. Wat HY moes deurmaak het niemand op aarde deurgemaak nie, ons kan dit nie eens vergelyk of verwoord nie.

  2. Gesina Retief

    Ek stem saam met Christelle dat vandag se stukkie pragtig is.
    Filippense 4:6 was nog altyd vir my een van die mooiste verse in die Bybel. “Moet oor niks besorg wees nie …” Ek het vroeg in my lewe hierdie frase begin leef en dit was nog altyd ‘n waarheid in my lewe. God is in beheer en Hy gee vir my net die beste wat ek verdien.
    Ons voel partykeer ons kom altyd met ‘n lysie na God en vra net, maar in hierdie versie sê Hy tog ons moet al ons begeertes met smeking bekend maak. Deur te smeek, kan ons dieselfde saak oor en oor aan God voorlê totdat ons ‘n antwoord kry. Volhard in gebed.
    ‘n Baie belangrike deel van die vers is natuurlik ook die woord “danksegging”. Ons lewe moet ‘n voorbeeld van dankbaarheid wees. Dit is ook ‘n gedagteverandering wat ons moet toepas – om in alles iets te sien waarvoor ons dankbaar kan wees.
    Laat ons getuig hoe God voorsien en altyd dankbaar wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s