40 DAE IN DIE WOORD – DAG 3

Ons gemeente doen die 40 Dae in die Woord veldtog van Rick Warren. Die boek is gelukkig ook in Afrikaans beskikbaar.

In hierdie veldtog gaan ons as gemeente ses verskillende maniere aanleer om die Bybel te lees en dit op ons lewens van toepassing te maak. Hierdie week lees ons die boek Filippense wat net vier hoofstukke het. Ek lees elke dag een hoofstuk en as ek deur is sal ek weer by hoofstuk 1 begin.

Die metode waarmee ons hierdie week werk, is die SPREEK DIT UIT metode. Die gedagte is dat jy die teksvers weer en weer sal lees en elke keer die klem op ‘n ander woord plaas en dan nadink oor die betekenis van daardie woord. Saam met die lees gaan ook die gedagte dat elkeen ‘n geestelike joernaal moet hou. Met ander woorde ‘n geestelike dagboek waarin elkeen elke dag skryf. Die boek wat ons in die 40 dae gebruik, het dan ook plek waar jy sulke aantekeninge kan maak.

Ek het gedag ek skryf so nou en dan deur die loop van hierdie 40 dae my gedagtes hier by die koffietafel.

Die teksvers vir vandag is Filippense 2:13:

“… dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

“… dit is God…” Die eerste paar woorde laat my besef dat God hier aan die werk is. Wat ookal na hierdie woorde kom, kan enkel en alleen aan die werk van God toegeskryf word.

“… wat julle…” Paulus skryf aan die gemeente in Filippi, en hierdie keer is daar niks wat keer dat ons dit net so op ons lewens van toepassing maak nie. Wat God in die lewe van daardie Christene gedoen het, doen God vandag nog steeds in my (en elke ander kind van Hom se) lewe ook.

“… gewillig…” Ek het bietjie stil gestaan by hierdie woord vanoggend. Ek beleef vir ‘n geruime tyd in my lewe al ‘n onrustigheid oor ‘n bepaalde saak van my verhouding met die Here. Hier is nie ‘n sonde nie, maar ek voel net ek moet ‘n aanpassing maak. Ek besef dat as ek die aanpassing maak, dan sal my verhouding met die Here nuwe diepte kry. Ek kon nie verstaan waarom die onrustigheid nie wil weggaan nie. Ek besef nou, dit is God wat hierdie onrustigheid veroorsaak en my eintlik uitnooi om dieper in ons verhouding in te gaan. Hy wil my op die manier op ‘n punt bring waar ek sê: “Ek wil verander.” Dit is inderdaad God wat my gewillig en bekwaam maak.

“… en bekwaam…” God werk in my en elke ander gelowige. Hy skep in my ‘n wil om iets te doen (of somtyds op te hou om iets te doen) en in sy groot genade neem Hy dit nog ‘n treetjie verder. Natuurlik is Hy “The Great Enabler”, maar “bekwaam” beteken tog ook dat ek dit wat ek doen goed doen ook. Ek dink aan die mense wat ek al in my lewe as bekwaam beskryf het, en ek besef: God stel my in staat om ‘n ding beter te doen as net die gemiddelde.  As God dan nou in my hierdie wil skep om iets te doen, dan kan ek so half-en-half bereid wees om te waag. Op die ou end gaan ek agterkom dat Hy my ook in staat gestel het om  dit (baie) goed te doen.

“… maak om sy wil…” Hierdie is nogal ‘n belangrike gedeelte. Hy skep in my die wil om sy wil te doen. Hy stel my in staat om sy wil beter te doen as die gemiddelde. Ek leer God se wil in God se Woord ken. Deur die Bybel kom God aan die Woord en maak Hy deur die werking van sy Gees sy wil aan my bekend. Ek moet dus deurlopend vra: Is hierdie ding wat ek wil doen God se wil of is dit my wil. “Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.”

“… uit te voer.” Ek besef hoeveel keer in my lewe daar al tye was wat ek weet ek kan ‘n ding doen en ek weet dat ek dit goed kan doen en ek weet ook dat dit God se wil is dat ek dit doen, maar ek kom net nie so ver om dit te doen nie. Ek wonder hoeveel God deur my sou kon vermag as ek net elke keer wat die gewilligheid en die bekwaamheid daar was, dit ook uitgevoer het. So moet ek ook oor hierdie saak die woord by die wil voeg (by wyse van sprek) en doen wat weet ek moet doen.

God gaan nie sy wil op my afdwing en my dwing om iets te doen wat ek nie wil doen nie. Ek het in hierdie hele proses ook die keuse of ek gaan en of ek nie gaan nie. God gee net vir my die versekering, dat sou ek dan besluit om sy wil te doen, sal ek agterkom dat Hy my in staat stel om dit goed te doen.

Het jy dalk ‘n paar gedagtes?

5 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

5 responses to “40 DAE IN DIE WOORD – DAG 3

  1. Johan vd Westhuizen

    Attie, Ons Omgeegroep het verlede jaar die 40 Dae in die Woord behandel en dit was werklik iets besonders. Die Woord en die lees van die Woord het vir ons nuwe betekenis gekry.

  2. Christelle van der Walt

    Goeie Môre Attie, hierdie hele stuk is vir my werklik baie mooi –

    Wanneer mens begin ontdek dat die wil van Onse Vader die heel beste is, die hoogste is, die meeste waarde het, die veiligste is en selfs die diepste vreugde meebring, word dit jou grootste wens: as ek net kan lewe volgens my GOD se wil. Wat ons gemaak het van die wil van GOD in ons lewens, gaan weer ter sprake om by die wederkoms van Christus.

    “….Laat GOD julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van GOD is, wat vir HOM goed en aanneemlik en volmaak is.” skryf Paulus in Romeine 12:2b

    Omdat ek op U kan vertrou my GOD is dit my strewe om u wil te soek en daarvolgens te lewe.

  3. Gesina Retief

    Beste Attie
    Deurdat hierdie vers begin met die woorde “.. dit is God wat …” bring dit afwagting maar ook soveel rustigheid om te weet dit is ons God wat ons gaan lei en toerus om sy wil met ons te doen. Ons moet egter gewillig wees en doeners van die Woord.
    Ek dink partykeer veroorsaak ons vir onsself struikelblokke met die “uitvoer” omdat ons onwillig is of onbekwaamd voel. In hierdie vers is dit egter duidelik dat God ons self bekwaam sal maak. Dit is so maklik om te kyk of iemand anders nie eers iets sal doen voordat ons ons beskikbaar stel vir ‘n taak. Mag ons o.a. ‘n “gewillige” gemeente wees na hierdie 40-dae veldtog.
    Alhoewel ons nog skaars begin het met die boek, geniet ek dit baie. Ek kan nie glo aan hoeveel gedagtes ek aan elke woord of frase kan koppel as ek dit lees op die SPREEK DIT UIT wyse. Dit is regtig ‘n uitdaging om te kyk wat jy uit elke vers kan kry.

  4. Mefri

    Dit is nou wat ek sal noem ‘sielskos’ dankie

  5. “Ek dink partykeer veroorsaak ons vir onsself struikelblokke met die “uitvoer” omdat ons onwillig is of onbekwaamd voel. In hierdie vers is dit egter duidelik dat God ons self bekwaam sal maak. Dit is so maklik om te kyk of iemand anders nie eers iets sal doen voordat ons ons beskikbaar stel vir ‘n taak.”
    Gesina Retief sê hierdie. Meer akkuraat kan dit nie gestel word nie. Onwilligheid en vrees vir mislukking as gevolg van onbekwaamheid. Daar is min werklik dapper gelowiges.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s